PPMTM voorkom ʼn pes moles op jou plaas

Chantal Forssman

Deur Terése du Plessis, Entomoloog by Agri Technovation,
en Ernst de Beer, Besigheidsbestuurder, Laeveld Agrochem

Die opbrengs en kwaliteit van enige gewas wêreldwyd word beïnvloed deur die voorkoms van plae tydens produksie. Aangesien plae en die voorkoms daarvan kan varieer, is dit nie meer aanvaarbaar dat alle plae op dieselfde wyse oor ‘n gegewe oppervlak gediens word nie. Bestuursaksies moet nie net beplan word na aanleiding van wanneer die nodige aksies moet plaasvind nie, maar ook met inagneming van waar dit spesifiek toegepas moet word.

Hierdie benadering tot beplanning is nou moontlik danksy die beskikbaarheid van gevorderde tegnologie wat plaag variasie intensief kan karteer en interpoleer om sodoende die effek daarvan op die opbrengs en kwaliteit van die gewas te kan uitwys.

Produksie inligting wat in die verlede ‘n twee-dimensionele voorkoms van plae gekoppel het aan ‘n tydlyn en in die formaat beskikbaar gemaak is, kan nou in drie-dimensionele formaat aangebied word deur ‘n verdere produksie faktor naamlik lokaliteit, as ‘n derde eienskap te koppel. Deur die lokaliteit akkuraat te identifiseer, is dit nou moontlik om variasie te benut in die bestuur van plae.

PPMTM (Precision Pest Monitoring of te wel Presisie Plaag Monitering), maak dit nou moontlik om met plaagbeheer te onderskei en diskrimineer tussen kleiner oppervlaktes binne een boord of land. Hierdie diens word verskaf deur Laeveld Agrochem in samewerking met Agri Technovation.

Die tydige opsporing van plae

PPMTM behels die gebruik van ‘n hoë definisie moniteringstelsel wat landbou produsente in staat stel om spesifieke insekplae en siektes in baie fyn besonderhede te monitor.

Met hierdie diens word plaagvoorkoms aan ‘n tydlyn sowel as aan ‘n geografiese koördinaat gekoppel. Deur die interpolasie van die onderskeie datapunte word ‘n baie duidelike beeld van plaagvoorkoms geskep, wat nog nie vantevore gesien is nie.

Op die kaart regs kan gesien word hoe die valskodlingmot oneweredig verspreid voorkom, ooreenkomstig die voorkoms van die natuurlike gasheerplante in die omgewing.

Beduidende voordele van PPMTM

  • Een van die primêre voordele wat hierdie diens vir kliënte inhou is die tydige opsporing van plae, asook die duidelike uitwysing van die fisiese oorsprong van hierdie plae.
  • Die intensiteit van die plaag sowel as verskuiwingstendense word ook uitgebeeld en sodoende kan praktiese oplossings gebaseer op die werklike toedrag van sake gevind en betyds toegepas word.
  • Die reaksies van plae op gekose beheermaatreëls word visueel uitgebeeld, welke inligting weer gebruik kan word om beheer maatreëls te herevalueer.
  • Dit is maklik en eenvoudig om waar te neem watter areas van lande en/of boorde deurgaans onder hoë of laer plaagdruk verkeer, wat besluite rondom bemarking vereenvoudig.
  • Plae word gedurende die vroeëre stadium van die seisoen aangespreek. Dit lei tot kostebesparings asook tot die verdere voordeel van laer residu vlakke van chemiese plaag beheermiddels.

PPMTM se praktiese toepassings

Pekanneute is een van die belangrike neutgewasse wat in Suid-Afrika geproduseer word en daarom word daar tans gefokus op die ontwikkeling van PPMTM vir hierdie gewas. ‘n Totaal van sowat 580 000 pekanneut bome is tydens 2018 in Suid-Afrika geplant en ongeveer 18 200 ton neute is geproduseer. Produksie-areas strek vanaf die Vaalharts-gebied, Tzaneen, Magoebaskloof, Makhado (Louis Trichardt), Levubu, Witrivier, Mbombela (Nelspruit) en Vrystaat, tot en met die oewer van die Oranjerivier naby Kimberley.

Aanplantings kom ook verspreid voor in Noord-KwaZulu-Natal. Die plae waarop tans gefokus word sluit onder andere die valskodlingmot, karobmot, kokosneut- en stinkbesie en pekanneut-skurfsiekte in. Daar word tans ook spesiale aandag geskenk aan die ontwikkeling van monitering vir die stompneuskewer – een van die grootste bedreigings vir die pekanneut bedryf in Suid-Afrika.

Hierdie stompneuskewer, ook bekend as die polifaag-skietgatboorder, is oorspronklik van Suidoos-Asië en word direk gekoppel aan die patogeniese swam, Fusarium euwallaceae, wat in simbiose met die stompneuskewer saamleef en versprei. Die kewer is die eerste keer in Mei 2017 in Suid-Afrika in die Jan Kempdorp-area aangetref. Sedertdien is dit ook aangetref op plase rondom die Jan Kempdorp-area sowel as in Mbombela, waar dit al groot skade in boorde aangerig het.

Skade word aangerig wanneer die kewer gate in die boom se bas en/of dikker takke boor en die swam inokulum dan sodoende versprei word vanaf die kewer se monddele. Hierdie swam besmet die boom se vaskulêre sisteem, waarna die boom die besmette gedeelte afsonder deur dit spreekwoordelik in ‘n onaktiewe kompartement te plaas. Die boom ‘versmoor’ dus homself soos wat dit sy eie toevoer afsny om die verspreiding van die infeksie te probeer keer.

Alhoewel daar nog nie baie inligting rakende die beheer en/of monitering van hierdie kewer beskikbaar is nie, is Laeveld Agrochem in samewerking met Agri Technovation tans besig met gefokusde navorsing om sodoende gepaste oplossings te kan bied.

Kaart onderskrif:
Op die kaart kan gesien word hoe die valskodlingmot oneweredig verspreid voorkom, ooreenkomstig die voorkoms van die natuurlike gasheerplante in die omgewing.