‘n Dramatiese toename in die wêreldvraag na avokado’s hou boere se fokus ferm op die toekoms van dié ‘groen goud’. Met ʼn nagenoeg vier persent globale markvoetspoor, volgens ʼn 2019 verslag van die Europese Unie getiteld Opportunities for South African emerging farmers in the European sustainable market, het die Suid-Afrikaanse avokadobedryf egter nog nie naastenby sy volle potensiaal op internasionale front bereik waar kwaai prysverhogings eweneens aan die orde van die dag is nie.
Teen die agtergrond van produsente se beperkte toegang tot goeie gehalte grond en water, is die tendens tans om die produksie per eenheid area te optimaliseer en terselfdertyd die produksiekoste oordeelkundig te verhoog ten einde opbrengste te optimaliseer.
Die toenemende vraag na avokado’s beteken ook aansienlike ekonomiese uitbreiding en groeigeleenthede vir die Suid-Afrikaanse bedryf. Die plaaslike bedryf groei tans met meer as 1 000 hektaar per jaar, met verdere uitbreiding in die pyplyn vir die produksie van bome vir kwekerye. Verlede jaar het die totale produksie op ongeveer 170 000 ton te staan gekom waarvan sowat 86 000 ton uitgevoer is, hoofsaaklik na Europa en die Verenigde Koninkryk. Danksy die globale vraag en volgehoue produksie, brei plaaslike produksie in KwaZulu-Natal, asook die Oos- en Wes-Kaapprovinsies uit.
Landboureus Laeveld Agrochem staan aan die voorpunt van ontwikkelings wat boere op hierdie potensieel winsgewende gebied kan help. Hul raad aan avokadoboere is om hulle met deskundiges te omring wat boordbeplanning en gewasverbouing betref. Daarbenewens kan presisieboerderytegnologie ingespan word om produsente te help om volhoubare opbrengste per eenheidsarea te verseker asook om verbouingsrisiko’s te bestuur.
Gesonde grond en beter opbrengste
Deskundiges by Laeveld Agrochem verduidelik dat grond met hoë vlakke en ʼn wye verskeidenheid van aktiewe mikro-organismes by uitstek waardevol is vir boere. Hierdie voordelige mikro-organismes handhaaf balans deur middel van ʼn simbiotiese stelsel wat beide wortels en gewasse bevoordeel deur, onder meer, te help met voedingsmineralisasie en absorpsie.
In hierdie opsig, sê Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem, is balans deurslaggewend belangrik. “Hoe meer boordtoestande van die ideaal afwyk, hoe meer tegnologieë en ekonomiese insette is nodig om aanvaarbare opbrengste te bereik,” verduidelik hy.
Liebenberg wys verder daarop dat boere telkens moeilike produksiebesluite moet neem, onder meer omtrent die keuse van nuwe aanplantings of gewasse met die oog op optimale ekonomiese gewin. “Produsente moet voordeel trek uit ʼn vorm van boerdery wat hulle ʼn mededingende voorsprong sal gee. Dit is juis wanneer winsmarges onder druk is dat uitmuntende produsente by uitstek sal maai wat hulle gesaai het,” sê hy.
Laeveld Agrochem se presisieboerdery-afdeling, Agri Technovation, het onlangs hul eerste MicroLife Research Centre geopen wat produsente in die kommersiële sektor in staat stel om grondgesondheid te bepaal deur die diversiteit en aktiwiteit van mikro-organismes daarin te meet en te moniteer. Agri Technovation-tuinboukundige, Jovan Erasmus, wys daarop dat beplanning, ontleding en die verwerking van data die boublokke van presisieboerdery skep. “Ons het ons omvattende ervaring in tuinbou, grondwetenskap, geografiese inligtingstelsels, chemie asook proses- en produksie-ingenieurswese gebruik om produsente van praktiese oplossings te voorsien en winsgewende en volhoubare resultate op hul plase te verseker,” verduidelik hy.
Nuwe markte en groeigeleenthede
Derek Donkin, bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Subtropiese Kwekersvereniging (Subtrop), sê die instandhouding van wêreldmarktoegang vir plaaslike produksie een van die bedryf se topprioriteite is. Volgens Subtrop het die tempo van aanplanting aansienlik toegeneem om aan die vraag van verwagte nuwe markte te voldoen.
“Ons langtermynplanne sluit in aansienlike vordering met die skepping van toegang tot nuwe markte soos China, Indië en die VSA. As die vraag na avokado’s teen die huidige tempo toeneem, sal ons produksie binne die volgende tien jaar moet verdubbel. Ons voer tans tot 55% van ons avokado’s uit. Van dit wat oorbly, word tussen 10% en 12% vir verwerking gebruik, en die res word as vars produkte verkoop,” verduidelik hy.
Liebenberg wys daarop dat presisieboerdery nie ʼn oornag-oplossing is nie, maar dat dit wel op die lange duur deur en deur die moeite werd is. “Die korrekte implementering van kennis en data kan ʼn enorme en positiewe impak op grondoptimalisering en avokado-opbrengste hê. Presisie-landbou is een van vele moderne boerderypraktyke wat produksie meer doeltreffend maak en wat beter samewerking tussen boere en hul grond kan bewerkstellig,” is sy slotsom.
* Laeveld Agrochem glo aan die waarde van goeie besluitneming en deskundige bystand. Danksy ʼn wye verskeidenheid tegniese deskundiges, is die onderneming in staat om behoeftes aan te spreek wat die spektrum dek van gewasbeskerming en grondregstelling tot plantvoeding en gewasoptimalisering.
*Agri Technovation vervaardig doelontwerpte landboukundige produkte en bied gespesialiseerde dienste aan verskeie sektore in die Suid-Afrikaanse asook oorsese landboukundige landskap. Deskundiges gebruik hul omvattende ervaring in landbou, tuinboukunde, grondwetenskap, mikrobiologie, geografiese inligtingstelsels, proses- en produksie-ingenieurswese om praktiese oplossings aan produsente te bied en winsgewende en volhoubare resultate op hul plase te verseker.