Belangrike faktore vir beter sagte sitrus produksie

Elite Admin

deur Johan De Vries, 20 Julie 2019

Belangrike faktore vir beter sagte sitrus produksie

Inleiding

Sagte sitrus raak meer gesog

Sagte sitrus is ʼn kommoditeit wat die afgelope 5 (vyf) jaar baie gegroei het. Hierdie groei word duidelik in die grafiek hieronder geïllustreer.

sagte sitrus produksie

Figuur 1: Groei in Sagte Sitrus 2014 – 2018

Die tabel toon hoe die groei van sagte sitrus vanaf 6 000 hektaar in 2014 toegeneem het tot 13 000 hektaar in 2018. Daar word verwag dat Suid Afrika binne die volgende 2 tot 3 jaar, ongeveer 25 M tot 27 M uitvoer kartonne sagte sitrus sal produseer.

Daar is dus ook ʼn toename in aanvraag na hierdie kommoditeit en dit is daarom baie belangrik vir ons as Suid-Afrikaanse industrie, om ʼn baie kompeterende produk vir die internasionale mark te produseer. Ten einde ʼn produk te produseer wat tussen al die produsente gaan uitstaan, is dit belangrik om te weet hoe die kwaliteit van sagte sitrus verbeter kan word. In hierdie opsig is grondvrugbaarheid, plantvoeding en waterbestuur van primêre belang.

Faktore wat kwaliteit van sagte sitrus boerdery beïnvloed

In sagte sitrus is daar verskeie variëteite wat onder meer Clementines, Nova’s, Nadorcott, Tango en Leanri insluit. Elk van hierdie variëteite het sy eie unieke behoeftes en vereistes met betrekking tot grondvrugbaarheid, plantvoeding, snoei, manipulasie  waterbestuur om ʼn paar te noem. Dit is dus belangrik om die behoeftes van al die variëteite te bepaal en te verstaan sodat die spesifieke behoeftes per variëteit aangespreek kan word.

Die effektiewe bestuur van elke variëteit is dus direk gekoppel aan elkeen se unieke behoeftes en die keuse van variteit en onderstam moet derhalwe ʼn deurdagte besluit wees.

Die gebruik van tegnologie ter ondersteuning van die verbouingsproses, is ʼn verdere belangrike faktor wat bydra tot die suksesvolle produksie van sagte sitrus. Met die beskikbaarheid van gespesialiseerde relevante inligting op die MyFarmWeb™ platform, kan die produsent ook nou ingeligte besluite neem rakende die spesifieke behoeftes van die verskeie variëteite.

Ons benadering: Ses pilare vir sukses

Met al bogenoemde in ag genome, het ons 6 pilare geïdentifiseer wat elk ʼn fundamentele rol speel by die verbetering in die produksie van sagte sitrus, naamlik:

 

  • Keuse van variëteit
  • Grondvrugbaarheid en voeding
  • Waterbestuur
  • Snoei en manipulasie
  • Gewas beskerming
  • Tegnologie

 

Agri Technovation en Laeveld Agrochem fokus al vir 12 jaar op maniere om vas te stel wat elke variëteit se unieke behoeftes is, ten einde optimale produksie en kwaliteit vrugte te verseker.

By Agri Technovation volg ons ʼn benadering van “ons meet om te weet” – ons genereer en analiseer relevante data per variëteit sodat ons die spesifieke behoeftes van daardie variëteit kan bepaal en dan die behoeftes op die regte fenologiese stadium van die gewas korrek aan te spreek.

Daar is reeds ʼn groot hoeveelheid data gegenereer en ingewin deur metodes gerig daarop om grond eienskappe te bepaal, naamlik Agri Technovation se grondklassifikasie (MySoil Classification™) en grond chemiese analises (I-TEST Soil™). Deur die grond eienskappe te bepaal kan die ingeligte besluite rakende variëteit, voeding en waterbestuur geneem word. Hierdie klassifisering en analise word dus beskou as baie belangrike stappe tot suksesvolle sagte sitrus produksie.

ʼn Samevatting van ons vordering met die verskillende variëteite, gevolgtrekkings en bevindinge wat volg uit die inligting wat ons ingewin en geanaliseer het, word hieronder uiteengesit. Ons fokus veral op die impak van grondvrugbaarheid, voeding en tegnologie op die sukses van sagte sitrus.

Grondvrugbaarheid

Die bepaling van die eienskappe van die grond is die eerste fundamentele stap om grondvrugbaarheid en die korrekte voeding te verseker en word gedoen deur ʼn grondklassifikasie en grond chemiese analise.

Grondklassifikasie

Die heel eerste stap in die soektog na hoë kwaliteit sagte sitrus verbouing is grondklassifikasie (MySoil Classification™). Hetsy dit ʼn nuwe ontwikkeling of reeds gevestigde boorde is word die data wat verkry word gedurende grondklassifikasie gebruik om die bestuur van sagte sitrus te verbeter.  Sekere grond fisiese eienskappe is meer gunstig vir sagte sitrus variëteite as ander. Dit is vasgestel en bevestig deur jare se ondervinding en die multi-laag analise vanaf die MyFarmWeb™ platform.

In die geval van nuwe ontwikkelings of hervestiging word gesogte grond fisiese eienskappe uitgesoek, die korrekte grondvoorbereiding aanbeveel, en die mees geskikte variëteite en onderstamme  voorgestel om die produksie sowel as kwaliteit van die variëteit optimaal te ondersteun.  Indien die bome reeds bestel is kan die mees geskikte areas vir daardie variëteit en onderstam geïdentifiseer word.  Dit is belangrik om te noem dat die verskillende variëteite sagte sitrus nie almal dieselfde gronde verkies nie, maar eerder dat een meer geskik is vir ʼn spesifieke grond as ʼn ander.  Dit is natuurlik dieselfde vir onderstamme.  Daardie korrekte kombinasie van grond fisiese eienskappe, onderstam en variëteit bepaal grootliks die langtermyn sukses en maak die bestuur van sagte sitrus soveel makliker.

Byvoorbeeld – sekere variëteite vereis ʼn ligter, soms geloogde klipagtige grondtipe wat stres plaas op die gewas sodat vegetatiewe groei ingeperk word en die vrugset sodoende bevorder word. Die grond fisiese eienskappe speel ʼn belangrike rol in die bepaling van hoeveel Stikstof, Fosfaat en Kalium toegedien moet word asook die verhouding tot mekaar om te verseker dat die gewenste resultaat in terme van opbrengs en kwaliteit behaal word.  Grondeienskappe soos grondvorm, klei %, logingspotensiaal van Stikstof en Kalium, volume growwe fragmente, diepte en teenwoordigheid van neo-karbonaat in die bo en ondergrond is maar ʼn paar eienskappe wat die bostaande sal beïnvloed.

Waterbestuur kan meer effektief bestuur word indien die kombinasie van grondeienskappe waarmee gewerk word vasgestel is. Deur die grond se Plant Beskikbare Water Kapasiteit (PBWK) te bepaal kan die skedulering van water baie meer doeltreffend en akkuraat plaasvind.  Die grond bepaal grootliks die lewering en periode van besproeiing, asook die tydsverloop tussen besproeiing-siklusse.  Boonop kan aanbevelings gemaak word rakende die mees geskikte plasing van vog-monitering probes op ʼn spesifieke boord. Skedulering vanaf die probes is dan verteenwoordigend vir daardie spesifieke boord. Die mees geskikte plasing verwys na plasing in die mees verteenwoordigende gronde van die boord. Die gebruik van die probes lei tot besparing van water en krag, verhoed onnodige loging van nutriënte en help om ʼn meer vrugbare grond daar te stel wat sal lei na verbeterde opbrengs en kwaliteit. Water word ook in baie areas gebruik as ʼn manipulasie metode.

Grondklassifikasie speel dus ʼn uiters belangrike rol by nuwe aanplantings en gevestigde boorde. In die geval van nuwe aanplantings, kan  baie toekomstige frustrasie vermy word deur die regte onderstam en variëteit op gronde te plant wat hulself gunstig verleen tot die verbouing van daardie kombinasie.  In die geval van gevestigde boorde kan antwoorde rondom beter wortelontwikkeling, areas wat moontlik dreinering vereis, die korrekte plasingsdiepte van daardie dreinering, die skuif van probes na meer verteenwoordigende punte, stadige groei, bome wat ʼn oormaat van terugsterwing toon, produksieverlies ens. gegee word.  Dit is derhalwe ʼn noodsaaklike stap om te verseker dat die langtermyn belegging so effektief as moontlik produseer vir jare meer.

Grond chemiese analise

Grond chemiese analises (I-TEST Soil™) is nodig om die korrekte balans tussen die verskeie elemente in die grond te bepaal, te herstel indien nodig en die balans te handhaaf. Element-verhoudings in die grond speel ʼn baie belangrike rol wanneer dit kom by die opname van nutriënte: hoe meer gebalanseerd die verhouding, hoe beter die opname. Dit speel ook ʼn groot rol in water infiltrasie en water tot suurstof balans in die grond. Om hierdie rede lewer verteenwoordige grondmonsters op ʼn ruit patroon (2-4 per ha) of volgens grondtipe   meer akkurate data, as slegs een grond monster per boord. Die pH vlakke in die grond speel ook ʼn groot rol by die keuse van onderstamme vir verskillende variëteite.

Blaar-Data en Norme

Net soos balans tussen die elemente in die grond belangrik is, so is balans ook belangrik tussen die verskillende elemente in die blare. In sagte sitrus verskil die plant se behoefte aan sekere nutriënte na gelang van die verskillende fenologiese stadiums. Agri Technovation se ITEST Leaf™ metode maak dit moontlik om die balans in blare daar te stel.

Ons metodiek by Agri Technovation plaas ʼn sterk fokus op die nutriënt verhoudings in die gewas, om seker te maak dat die regte hoeveelheid elemente op die regte fenologiese stadium toegedien word volgens die ware behoefte van die plant op die stadium van toediening. Blaar data is die afgelope 7 jaar met die ITEST Leaf™ metode versamel uit meer as 60,000 blaarmonsters wat getrek is gedurende die verskillende fenologiese stadiums. Met hierdie data kon Agri Technovation die ware behoefte van die bome baie akkuraat bepaal en so ook die norme aanpas ten einde gewas kwaliteit en produksie te verbeter. Ons het reeds begin om blaar- sowel as grond norme aan te pas volgens die behoeftes van die verskillende variëteite. ʼn Nawel word nie meer dieselfde bemes as ʼn Valencia nie en ʼn Valencia nie meer dieselfde as sagte sitrus nie. Die norme is selfs aangepas tussen variëteite wat binne dieselfde groep val.

Die invloed van nette by die bepaling van blaar norme is ʼn faktor wat ook aangeraak moet word. Agri Technovation is reeds vir 3 jaar besig met die bepaling van blaar norme onder net-strukture. Verskille is opgemerk in die opneembaarheid van nutriënte tussen gewasse onder die nette en gewasse wat nie onder die nette groei. Die mikro klimaat onder die nette verskil van die klimaat buite die nette, maar die bome pas daarby aan. As gevolg van hierdie aanpassing, moet meeste van die ander boerderypraktyke ook aangepas word.

Ons waarnemings in verskille tussen bome onder en nie onder die nette sluit die volgende in:

  • Die metabolisme van die boom is langer aan die gang by bome onder die nette (die huidmondjies bly langer oop) omdat die waslagie op die blaar dunner is op die bome onder die nette.
  • Blare onder die nette hard nie so sterk af as blare op bome nie onder die nette nie aangesien hulle nie 100% blootgestel is aan direkte sonlig nie. Dit veroorsaak dat die opneembaarheid van blaarvoeding verander, maar terselfdertyd, is die blaar meer aanloklik vir sekere peste en plae.

Agri Technovation is besig om al die inligting te verwerk en sal in die nabye toekoms aangepaste programme en skedules beskikbaar hê.

Tegnologie: MyFarmWeb™

MyFarmWeb™ is ʼn wolk-gebaseerde platform waar die informasie wat gegenereer word deur die grondklassifikasie, grond chemiese analises, blaar analises en ander toetse, verwerk en gestoor word. Die inligting is beskikbaar soos benodig en maak dit moontlik om ingeligte besluite rakende boerderypraktyke en metodes te neem.

sagte sitrus produksie

Produsente wat hierdie toetse laat doen deur Agri Technovation verkry toegang tot die MyFarmWeb™ data-poel en kan die voordeel geniet wat spruit uit die beskikbaarheid van akkurate en relevante boerdery-verwante inligting. Die relevante data is beskikbaar vir die produsent wanneer en soos benodig. Agri Technovation het reeds 12 jaar se sitrus data beskikbaar, wat dit vir ons moontlik maak  om ingeligte besluite te neem en aanbevelings te maak rakende die vestiging en suksesvolle produsering van sitrus.

Ons produsente in samewerking met Agri Technovation kan dus die regte keuses maak en besluite neem vir suksesvolle sitrus verbouing met inagneming van die grond eienskappe en al die ander faktore wat belangrik is by die keuse van plantvoeding.

Samevatting

Ten einde sagte sitrus van hoë kwaliteit suksesvol te verbou is daar ʼn paar belangrike faktore wat in ag geneem moet word.

Dit is van optimale belang om die grondvrugbaarheid en geskiktheid te bepaal deur ʼn grondklassifikasie en grond chemiese analise te doen. Die resultate van hierdie twee metodes stel die produsent in staat om die mees geskikte variëteit en onderstam te kies vir die grond, die mees gepaste plantvoeding vas te stel en toe te pas en effektiewe waterbestuur te doen.

Deur gebruik te maak van Agri Technovation se metodes vir grondklassifikasie (MySoil Classification™) en grond chemiese analise (I-TEST Soil™) kry die produsent ook toegang tot die MyFarmWeb™ platform en die gespesialiseerde landboukundige inligting wat daarop gestoor word. Met hierdie inligting tot sy beskikking kan die produsent uitstekende ingeligte besluite neem rakende sy sagte sitrus boerdery en al die fasette wat deel uitmaak daarvan.

agritechnovation