Folicur C en Twist maak ’n verskil
Deur Hennie van der Westhuizen, Bayer CropScience
Bayer CropScience se Folicur C en Twist is twee geregistreerde swamdoders wat in ’n bespuitingsprogram gebruik word vir uitstekende beheer van noordelike blaarskroei, grysblaarvlek en blaarroes op mielies.
Blaarsiektes kom veral voor in hoë reënval- en besproeiingsgebiede. Aanvanklik was grysblaarvlek en blaarroes die grootste probleem, maar noordelike blaarskroei voer deesdae die botoon.
Met vooruitgang in kultivars en die veranderinge in vatbaarheid vir blaarsiektes, moet produsente deesdae bedag wees op die siektevatbaarheid van die kultivar wat geplant word. Die afgelope seisoen se kommersiële toedienings en grootskaalse demonstrasies van hierdie produkte, teen kompeterende koste, het uitstekend gevaar en goed met ander standaarde in die mark vergelyk.
Met Folicur C en Twist word blaarsiektes doeltreffend beheer en produsente kan dus die heel beste kultivar kies vir die hoogste moontlike opbrengs aangesien siektebeheer nou aan spesialiste soos Bayer CropScience oorgelaat word.
Om blaarsiektes op mielies suksesvol te beheer moet die beheermaatreëls reeds vroeg in die seisoen begin en in die meeste gevalle moet twee of selfs soms drie keer met swamdoders gespuit word. Die eerste bespuiting is gewoonlik wanneer die laaste keer met ’n trekker gespuit kan word en die opvolgbespuitings is ongeveer 21 dae later met ’n vliegtuig of ’n hoogloop trekkerspuit.
Uitstekende resultate word verkry waar Folicur C en Twist in ’n tenkmengsel gebruik word. Sodoende word die relevante blaarsiektes wat opbrengs kan beperk baie doeltreffend beheer.
Twist is ’n suspensiekonsentraat strobilurien-tipe swamdoder met mesostemiese eienskappe vir die beheer van grysblaarvlek en bruinroes op mielies. Dit het ’n hoë affiniteit vir die plant se oppervlakte en word deur die waslagie op die plant geabsorbeer.
Dit herversprei deur oppervlakkige gasaksie en herdeponeer op die plant. Verder penetreer dit die plantweefsel en het translaminêre aktiwiteit, maar daar is min of geen vaskulêre beweging in die plant. Twist inhibeer spoorontkieming en kiembuisont wikkeling, wat infeksie bekamp. Dit is die doeltreffendste tydens die vroeë stadium van siekte-ontwikkeling.
Folicur C is ’n kombinasie van ’n triasool-swamdoder, tebukonasool en karbendazim wat noordelike blaarskroei beheer. Dit word sistemies opgeneem en herversprei in die plant waar dit voorkomende beskerming bied.
Produsente het met dié twee produkte uitstekende swamdoders tot hul beskikking. Die korrekte gebruik van hierdie hulpmiddels verseker nie net dat blaarsiektes beheer word nie, dit verbeter ook winsgewendheid deurdat die mielieplant se opbrengspotensiaal beter benut kan word.
Vir verdere navrae, skakel Bayer CropScience by (011) 921-5252.
Twist en Folicur C word deur Wenkem, Laeveld Agrochem, Farmers Agricare en BayAgro versprei.
Twist bevat trifloxystrobien: Reg. nr. L7628, Wet nr. 36 van 1947.
Folicur C bevat tebuconasool en karbendazim (versigtig): Reg. Nr. L4602, Wet Nr. 36 van 1947.
Twist®en Folicur®C is die geregistreerde handelsmerke van Bayer CropScience AG, Duitsland.