Grondtipes behoort jou keuse van genetika te beïnvloed

Chantal Forssman
agritechnovation-logo

Deur Willem Eigenhuis / Marnus Ferreira
Hooflandboukundige: Grane / Grondkundige
Agri Technovation

Dit is alombekend dat gewasproduksie moontlik direk gekoppel kan word aan grondtipe. Maar wat is die toepassing van grondklassifikasie in die graan
bedryf? Genetika (in terme van hibriede) speel natuurlik ook ’n groot rol in die produksie van grane – iets wat elke boer nou al vele male ervaar het.

Die vraag onstaan egter hoekom dit so is en hoe ons dit kan meet in terme van opbrengs per hektaar? Nadat dit gemeet is, hoe word dit betekenisvol toegepas op ’n groot skaal? Deur ’n vergelyking te trek tussen langtermynopbrengsdata en grondtipe kan die produksiepotensiaal van genetika bepaal word vir elke meter van jou plaas. Dit beteken dat jy vir die eerste keer presies kan weet watter kultivar die beste vaar, waar en hoekom.

Geskiktheid van kultivars vir ’n bepaalde streek word in Suid-Afrika gewoonlik met strookproewe (strip trials) op klein hoeveelhede hektare bepaal, sonder om die variasie in grondtipe in ag te neem. Daardie inligting rakende plaaslike kultivarproewe is net waardevol vir die betrokke streek en behoort nie landswyd toegepas te word nie. Met Agri Technovation se metode egter, word besluite van die beste genetika op ál jou hektare en plase gebaseer – nie net op n strookproef nie. Dit raak miljoene datapunte en duisende hektare wat baie beter inligting verskaf ten einde meer ingeligte besluite te kan maak. Agri Technovation maak nou ’n kommersiële diens van dataverwerking beskikbaar om vir boere die beste hibriede uit te wys per plaas en grondtipevariasie. Die inligting word vanuit grondklassifikasiekaarte en stroperkaarte opgestel.

Geen meer raai-raai-riepa nie

Die gemete opbrengskorrelasies van verskillende hibriede en grondtipevariasie maak dit nou moontlik om die benutting van grondvariasie met multi-hibried planters na die volgende vlak te neem. Al het produsente miskien nie nou al toegang tot die planters nie, kan die onderskeie lande se toppresterende kultivars steeds geïdentifiseer word. Keuses van genetika word gebaseer op grondtipe.

As die land bestaan uit 70% van grondtipes waarop ’n hibried goed presteer, kan die algehele produksie van daardie land verhoog word deur eenvoudig net die regte hibried daar te plant.

Die uitslae van die dataverwerking poog om die volgende uit te lig:

  • Identifisering van genetika of hibriede wat die beste presteer;
  • Watter genetika vaar beter op watter grondtipe/s, gronddieptes en grondpotensiale;
  • Genetika wat die minste sensitief (stabiel) is vir reënvalvariasie en die effek van die grondtipe daarop; en
  • Die omgekeerde is natuurlik net so belanggrik – genetika wat die swakste vaar en die sensitiefste is vir reënvalvariasie per grondtipe.

Die toepassing daarvan is die volgende:

  • Plant die regte genetika in die regte grondtipe om die beste moontlike opbrengs te verseker;
  • Plant die beste genetika vir jou streek op die regte lande, met inagneming van verskillende mikro-klimate; en
  • Plant die regte kombinasie van basters met multi-hibried planters,

Plante vaar nie orals dieselfde nie

Sekere plante vaar beter wanneer sekere fisiese en biologiese eienskappe in die grond voorkom. Dit sluit onder meer eienskappe soos waterhouvermoë, dreinering, gronddiepte, tekstuur, diepte tot watertafel, nutrientstatus en mikrobiologiese aktiwiteit in.

Elke hoofgrondtipe kan gesien word as ’n ander ‘habitat’. Die een is dalk soortgelyk aan ’n oerwoud, grasveld, bergland, vleiland, kusstreek, of woestyn. Plante verkies gewoonlik een ‘habitat’ bo ’n ander. Graansorghum en sojabone is ’n voorbeeld van twee plante wat verskillende grondtipe voorkeure het. Dieselfde geld vir verskillende genetika. Soms is daar gevalle waar sekere genetika onsensitief is vir die variasie in die grondsoort en soms is daar duidelike voorkeure. Op elke plaas en land gaan dit anders wees. Die bepaling daarvan is dus belangrik om sodoende die maksimum potensiaal uit die plaas en land te put en te benut.

Groot data = groot resultate

Met die klik van ’n knoppie kan jy die beste genetika op jou plaas bepaal. Sien Tabel 1 onder, en Tabel 2 op volgende bladsy.

Tabel 1: Die korrelasie van grondtipe teenoor genetika op ’n kommersiële plaas met 2 249 407 datapunte. Opbrengs op kultivarvlak wissel tussen 10 en 1.8 ton/ha op díe plaas.
Tabel 2: Die beste genetika, P1690BR op Katspruit grondtipe, op 6.5% van totale data met 146 543 datapunte. Die variasie op kultivarvlak wissel tussen 9.2 en 2.3 ton/ha op dieselfde grondtipe.

Die volgende data multilaag analise is om in die grondvrugbaarheid vlakke te kontroleer per kultivar/baster om te bepaal waar die opbrengste verkry kan word. Sien Tabel 3.

Daar word ook onderskei tussen al die verskillende gewasse soos sojas, mielies en sonne-blom. Die beste plantpopulasie-proewe wat op stropers gemerk is tydens die oesproses kan ook teen verskillende grondtipes, diepte en meer gemeet word. Dit is verbasend om in die meeste gevalle tot vier ton/ha mielie opbrengsverskille op plase en grondtipes (potensiale) te sien. Dit hou groot finansiële geleenthede vir boere in om die data te ver-werk en werklik hieraan aandag te gee.

Dit is nou moontlik om met die gebruik van GIS-spanne en data-analiste hierdie potensiaal te bepaal. Die beste genetika per grondtipe word dan van hoog na laag gesorteer. Die beste opbrengskorrelasies van genetika tot plant populasies word getrek, asook jare, grondtipe, grondpotensiaal, waterhouvermoë, oftewel alle kaarte in ’n grondklassifikasie boek.

Tabel 3: Die databasis wat korrelasies van die beste grondchemie of nutrientvlakke uitwys, teenoor die verskillende kultivars en grondtipes wat per plaas geplant is.

’n Klas van sy eie

Nadat die sistematiese bepaling van grondtipes gebaseer op die grond se fisiese eienskappe uitgevoer is, word daardie inligting geïnterpreteer deur gespesialiseerde wetenskaplikes in die landbou om die volgende inligting te onttrek:

  • Grondpotensiaal: die potensiaal van die grond vir die verbouing van spesifieke gewas se, inaggenome die gebied, besproeiing, langtermyn gemiddelde reënval ens.
  • Plantbeskikbare waterkapasiteit (PBWK): bepaal die hoeveelheid millimeter water wat beskikbaar is vir die plant tussen veldwaterkapasiteit en die permanente verwelkingspunt per effektiewe worteldiepte.
  • Grondbeperkende lae: Identifiseer beperkings, soos natheid, klip-persentasie, karbonaat- en verdigtingslae en meer. Die verskillende beperkinge kan elk die plant se wortelontwikkeling beïnvloed, wat weer op sy beurt die plant en sy opbrengs beïnvloed.
  • Bewerkingsdiepte en -metode: bepaal die ideale diepte en metode van bewerking vir ’n spesifieke gewas in ’n spesifieke grondsoort.
  • Risikobestuur: Met al die verskillende aspekte van grondklassifikasie is dit maklik om te sien hoe dit ʼn impak op risikobestuur kan hê. Droëlandboere moet veral konstant besluite neem oor verskillende aspekte soos plantdigtheid en bemesting, teenoor die waterhouvermoë en potensiaal van die grondsoort. Hierdie besluite het ’n groot invloed op die winsgewendheid en volhoubaarheid van die produsent.

 

Dit is duidelik waarom grondklassifikasie die eerste stap in gewasproduksie behoort te wees.

Wanneer ’n produsent ’n duidelike prentjie het van die soort grond waarmee hy werk, kan goeie en ingeligte besluite geneem word oor gewastipes, plantdigtheid, genetika, bemesting, besproeiingsuitleg, besproeiingskedulering, dreinering, verteenwoordigende grondvogmetingsposisies/inspeksiepunte en grondvoorbereiding. Dit kan dus vir baie jare ’n gunstige uitwerking op die hele boerdery hê.

Vir meer inligting, kontak Agri Technovation of jou Laeveld Agrochem verteenwoordiger