Geskryf deur Willem JH Eigenhuis: Hoof-landboukundige van Agri Technovation: Graan en pekanneute
Boere het voortdurend nuwe en beter tegnologie nodig om volhoubaar te kan produseer. Suid-Afrika se landboubedryf is ook afhanklik van goeie navorsing om kompeterend te bly op ‘n internasionale vlak. Goeie inligting is egter skaars; nuwe navorsing en geleenthede word al hoe skaarser. Selfs internasionaal, insluitende die VSA, is goeie norme en riglyne ook verouderd en moeilik bekombaar. Dit is hoofsaaklik omdat baie riglyne en norme gebaseer is op ou navorsing en kultivars, en nie gekalibreer is met die nuutste, hoër opbrengsvlakke van genetika nie.
Produsente word ook op plaasvlak oorval met nuwe produkte en dienste, en is gevolglik nie altyd seker wat om te glo nie. Verder verskil landboukundiges oor aanbevelings, veral op bekalkings, regstellings en ontledingsmetodes van grond en plantweefsel. Die verskillende norme en metodiek van verskillende maatskappye help ook nie om duidelikheid te gee aan die besluitnemingsproses nie.
Om blindelings te loop en nie van wetenskaplik-gebaseerde inligting gebruik te maak nie, is ʼn groot risiko in die graanindustrie. Sir William Thomas Kelvin het gesê dat as jy iets nie kan meet nie, jy ook nie die uitkoms daarvan sal kan verander nie. Hierdie woorde hou baie waarde in, veral vir produsente, aangesien regstellende aksie nie geneem kan word as die probleem nie geïdentifiseer en in gedetailleerde data omgesit kan word nie.
Die potensiaal in historiese data
In die graanbedryf, het ons ‘n finale opbrengsmeting in die vorm van stroperkaarte. Hierdie data is gekonnekteer met GPS-punte wat dan gebruik word om die stroperdata te omskep in ruimtelike ontledingskaarte.
Die koms van Agri Technovation se wolkgebaseerde platform, MyFarmWeb™, maak dit vandag vir produsente moontlik om alle presisiedata (historiese en huidige data) in te trek en te stoor. Hierdie data is ook gekorreleer met GPS-punte op die plaas en het dus groot waarde vir die produsent. Dit is dus te verstane dat die verwerking van ‘groot data’-stelsels in die wêreld besig is om ʼn buzz word te raak in datawetenskap.
Dit is belangrik vir die graanbedryf dat produsente hul eie presisiedata effektief verder moet gebruik om nuwe geleenthede daaruit te ontbloot. Ongelukkig gebeur dit nog steeds dat plase se ou historiese stroper- en ontledingsdata nie gebruik word om nuwe geleenthede te ontsluit nie.
Met korrekte presisiedata, kan verdere verwerking van opbrengs teenoor grondtipes gedoen word indien produsente die grondklas-werk op die plaas afgehandel het. Agri Technovation het nuwe metodes ontwikkel waar daar gemeet kan word op watter dele van die plaas die kultivars wat aangeplant is, die beste gevaar het. Om stukke grond te identifiseer wat jaarliks nie sy kant bring nie en ‘n verlies maak, is van groot belang, want dit is wat winsgewendheid direk belemmer.
Geleenthede in die grond
Agri Technovation is aan die voorpunt om ‘groot data’ te verwerk. Deur middel van genetikaproewe, die nuwe MyFarmWeb™-tegnologie, asook kommersiële data op produsente se plase, kan die sogenaamde multilayering-aksie uitgevoer word. Hierdie proses behels die vergelyking van spesifieke genetika met opbrengsdata op grondtipekaarte, asook grondpresisie-vrugbaarheidskaarte, om spesifieke korrelasies te soek. Daarvolgens kan kultivars se stabiliteitskaarte ook opgestel word om die langtermyn posisies op plase en lande te soek om die kultivars aan te plant vir maksimale opbrengsresultate.
Hierdie dataontledingsmetodiek gee produsente baie kragtige en waardevolle vermoëns: om nuwe geleenthede op plaasvlak te ontbloot. Dit word moontlik gemaak deur te identifiseer watter genetika die stabielste is en die beste sal vaar per grondtipe. Wat voorheen ‘n hipotese was, kan nou met presisiedata bewys word.
Die grondvrugbaarheidsvlakke teenoor opbrengs van genetika kan ook gemeet word om die beste vlakke van produksie te bepaal. Verskillende vlakke in dele per miljoen (dpm), basisversadigingsvlakke (%) en verhoudings tussen elemente, mikro-elementvlakke, suurversadiging en pH kan bepaal word en direk afgelees word van tabelle wat opgestel is. Nuwe ontledings uit kommersiële data begin uitwys dat hoër opbrengste verkry word by fosfaatvlakke in grond wat op dié stadium handboeknorme se riglyne oorskry. Só word die geleenthede in die grond se vrugbaarheidsvlakke ontbloot.
‘n Nuwe standaard van slim boer
Met die druk van ‘n knoppie kan produsente op MyFarmWeb™ ʼn presisiekaart genereer rakende hulle winsgewendheid vanaf hul eie stroperkaarte. Hulle kan hul eie insetkostes en graanpryse inlees, wat dan die kaart genereer en vertoon. Die winsgewendheidkaart word met ‘n legende vertoon wat visueel aandui waar gelyk gebreek word, wins gemaak of verlies gely word. Produsente kan met insetkostes rondspeel en dadelik sien wat hulle kan spandeer vir die betrokke komende seisoen, teenoor hulle mielie- of graanprys. Gronde of kolle in lande wat elke jaar nie winsgewend is nie, kan baie maklik uitgewys word, sodat boere ʼn ingeligte besluit kan neem om nie hierdie kolle te plant nie, of teen laer insette te plant (Figuur 1).
Die kern van slim boer is om te begin deur die beste genetika te identifiseer wat met die verskillende grondtipes en grondpotensiaal korreleer. Met hierdie nuwe, unieke metodiek kan produsente nou behaal wat nooit voorheen moontlik was nie: om, met dieselfde insetkostes, bestaande kultivars beter te kan plaas op grondareas waar dit die beste opbrengste sal lewer.
Winsgewendheid se wenresep
Met Agri Technovation se nuwe dataontledingsmetodiek hoef produsente ook nie meer staat te maak op verouderde riglyne wat jare gelede vasgestel is nie, maar kan nuwe geleenthede nou geïdentifiseer word sonder om te raai en te wonder wie om te glo. Bo en behalwe die voordeel daarvan om risiko aansienlik te verminder, kan data elke jaar slimmer toegepas word om die daaropvolgende seisoen meer effektief te boer. Met hierdie insigte, gepaard met die wetenskaplike data en aanpasbaarheid van die MyFarmWeb™-sisteem, kan aanpassings gemaak word wat ‘n aansienlike impak maak op opbrengs per hektaar aan die einde van die seisoen.
Uiteindelik is dit nou vir die eerste keer in landbou se geskiedenis moontlik om ʼn werklike insig te gee van potensiële risiko-verskansing en toekomstige winsgewendheid. Sonder dié twee aspekte is ʼn plaas nie volhoubaar nie, so hierdie tegnologie gee dus baie meer as net data. Eerstens, skep dit ‘n wetenskaplik-gebaseerde fondasie vir produsente om meer ingeligte besluite te neem. Tweedens, ontgin dit die meeste potensiaal uit produsente se grond sonder om insetkostes te vermeerder. Laastens, maar nie die minste nie, bevorder dit volhoubaarheid. Vir Suid-Afrikaanse produsente het die sleutelproses om die volle waarde van presisieboerdery te ontsluit, uiteindelik vir die graanbedryf beskikbaar geraak.
Vir meer inligting rakende kultivarkeuses volgens grondtipes, en insigte wat winsgewendheid bevorder, kontak u naaste Laeveld Agrochem-agent of Agri Technovation-landboukundige by
+27 21 300 0543 of besoek www.agritechnovation.co.za
Figuur 1: Voorbeeld van winsgewendheid presisiekaart op MyFarmWeb™-sisteem, waar groen winsgewend is en rooi nie-winsgewend.