SA het ‘n klein “oop” ekonomie, wat beteken dat ons nie veel invloed het op die res van die wêreld nie, terwyl die res van die wêreld ‘n groot invloed op ons het. Daarom is dit raadsaam vir Suid-Afrikaners om bewus te wees van internasionale gebeure en tendense – ons mag miskien nie in ‘n posisie wees om dit te beïnvloed nie, maar ons kan onsself ten minste gereed maak vir moontlike groot gebeure.
En ‘n aantal internasioniale tendense is besig om al meer duidelik te word.
Een daarvan, is dat regerings en alles wat daarmee saamgaan, geweldig in omvang toegeneem het. Vandag is regerings en hulle vertakkings, soos sentrale banke, so geweldig groot en magtig dat feitlik alle aspekte van menswees op die een of ander manier deur regerings beïnvloed word.
Die gevolg is ‘n reuse belastingjuk op ekonomieë, rekord hoë vlakke van staatskuld, en oordadige inmenging in finansiële markte deur sentrale banke en ander “reguleerders”. Terwyl die heersersklas in die verlede konings, sultans en tzars was, is vandag se heersersklas die “professionele” politikus en burokraat.
Maar daar is tekens dat, soos in die verlede, mense uiteindelik ook in opstand gaan kom teen die onderdrukking van die ineptokrate. Die besluit van die Britte om die Europese Unie te verlaat, en die verkiesing van Trump as president in die VSA, is voorbeelde van kiesers wat in opstand kom teen die “establishment” – wat jy ookal van Trump dink, niemand kan sê hy is deel van die bestaande orde nie.
En daar is vele ander voorbeelde: Katalonië, Skotland, Lombardië en vele meer is voorbeelde van lande of streke wat nie noodwendig tevrede is met die bestaande politieke orde nie. En hierdie is meestal vredeliewende lande en sluit nie eers Sirië, Noord-Korea en ander onstabiele lande in nie.
Die gevolg is ‘n politieke wêreldorde wat besig is om te verander en wat onvermydelik ook uiteindelik die SA-ekonomie sal beïnvloed.
Daarmee saam, is daar ook belangrike ekonomiese tendense wat internasionaal aan die verander is. Trump se proteksionisme het alreeds die finansiële markte laat sidder, terwyl die Amerikaanse sentrale bank, die Fed, dreig om rentekoerse nog verder te verhoog.
Die verhoging in rentekoerse deur Amerika hou moontlik die grootste gevaar in vir die wêreld se finansiële markte in die korttermyn.
Soos verwag, het langtermyn rentekoerse ook begin styg namate die Fed korttermyn rentekoerse verhoog het, maar die styging in langtermyn rentekoerse (opbrengskoerse) was minder as die styging in korttermyn rentekoerse. Tipies het ‘n opbrengskromme – rentekoerse oor tyd – ‘n positiewe helling; korttermyn rentekoerse is laer as langermyn rentekoerse.
Met die onlangse verhoging in korttermyn rentkoerse deur die Fed, het langermyn rentekoerse ook begin styg, maar teen ‘n stadiger tempo. Teen die huidige verloop sal korttermyn rentekoerse uiteindelik hoër wees as langtermyn rentekoerse in Amerika. Indien dit wel gebeur, sal die opbrengskromme ‘n afwaardse helling hê waar langtermyn rentekoerse laer is as korttermyn rentekoerse; ‘n inverse opbrengskromme.
‘n Inverse opbrengskromme is gewoonlik ‘n teken van ‘n komende resessie!
Sonder twyfel is daar baie internasionale gebeure – polities en ekonomies – wat ‘n invloed op SA en ons markte kan hê. Oplopende politieke spanning, internasionale proteksionisme en ‘n toenemende verwerping van die bestaande politieke orde, is van die gevare wat die wêreld, en gevolglik SA ook, sal beïnvloed.
Alhoewel bogenoemde veranderings ‘n skielike krisis tot gevolg kan hê, is die verhoging in rentekoerse in die VSA seker die enkele grootste bron tot kommer. Sonder twyfel behoort rentekoerse in Amerika te styg, maar indien die Fed se tydsberekening verkeerd is en rentekoerse word te vinnig en te veel verhoog, kan dit lei tot ‘n resessie in Amerika, en geen ekonomie kan die impak van ‘n Amerikaanse resessie vryspring nie – as die Amerikaners nies…
Om alles te kroon, behoort alle Suid-Afrikaners baie bekommerd te wees oor die onlangse veranderings in die Suid-Afrikaanse regering se beleid teenoor privaat eiendomsreg – onteiening sonder vergoeding – en dit het nie net met grond te doen nie! Die beste wat enige belegger onder sulke omstandighede kan doen, is om seker te maak dat jou portefeulje behoorlik en internasionaal gediversifiseer is.
Geen belegging is ooit honderd persent veilig nie, maar ‘n gediversifiseerde beleggingsportefeulje het die beste kans op oorlewing.
Dawie Roodt
Hoofekonoom van die Efficient Groep
dawieroodt@efgroup.co.za