Mikro-elemente sit meer pitte aan mieliekoppe.
Deur Hennie van der Westhuizen, Bayer CropScience
Uiteindelik maak dit die boerdery winsgewender.
Die koste van voer – veral mielies — het mnr. Jaco Vorster laat besef dit sal beter wees as hy self in die proteïenbehoeftes van sy skaapboerdery kan voorsien. Hy boer sedert 1982 in die distrik Bronkhorstspruit. SA Vleismerino’s is die vernaamste inkomstebron van sy boerdery.
Grond is egter ’n beperkende faktor in die omgewing en dit is van groot belang dat elke vierkante meter optimaal benut moes word. Lammers wat slaggereed is, word regstreeks van die plaas bemark en uitskotvee word op veilings verkoop.
Dieselfde mieliekultivar word deurgaans met dieselfde stand en bemesting aangeplant. Op 26 November verlede jaar het Vorster mielies teen ’n stand van 30 000 plante per hektaar gevestig, maar weens droë toestande was die stand uiteindelik 22 000 plante per hektaar. Die kunsmismengsel 2:3:2 (22) (+ 0.5% sinkoksied) is teen 150 kg per hektaar toegedien. Op 4 Januarie, ná 202 mm reën sedert planttyd, is opvolgbemesting met KAN (28) teen 150 kg per hektaar toegedien. Aangesien die mielies sigbare tekorte getoon het, het Vorster raad gaan soek. ’n Verteenwoordiger van Zinchem het vasgestel dat ’n sinktekort die plante strem.
Hy het aanbeveel dat 25 kg per hektaar sinksulfaat (korrels) ingemeng word by die KAN (28), maar dat ’n kontrolestrook gelaat moes word. Ná dié bemesting het nog 428 mm reën geval voordat die mielies fisiologies ryp geword het. In daardie stadium het Voster gemerk dat hy geen verskil kon sien tussen die mielies wat met sinksulfaat behandel is, en dié wat nie behandel is nie.
Toe dit egter by strooptyd kom, het hy ’n merkwaardige verbetering van 15,6% in sy mielie-opbrengs behaal. Daar is waargeneem dat die mieliekoppe wat met sinksulfaat behandel is, in die algemeen 12 rye per kop het wat ongeveer 340 g geweeg het.
Daarteenoor het die mieliekoppe op die onbehandelde strook 10 rye per kop geproduseer het wat ongeveer 270 g per kop geweeg het. Dit het ook erger deurgeloop onder diplodia (kopvrot) as die mielies wat met sinksulfaat behandel was.
Wat merkwaardig is, is dat die sinksulfaat wat in dié laat stadium toegedien is (ongeveer vier weke ná opkoms en in die topbemestingstydperk), steeds goeie resultate gelewer het. Zinchem meen dit kan toegeskryf word daaraan dat die produk volkome wateroplosbaar is. Kort nadat die sink toegedien was, kon die mielieplante die sink in die grond deur die wortels opneem en benut vir groei en ontwikkeling. Vorster sê hy is oortuig dat sinksulfaat beslis die toekoms vir sy boerdery is en hy sal dit by sy medeboere aanbeveel. Waar hy vroeër vanjaar deur ’n potensiële tekort aan mielieproteïene in die gesig gestaar is en onkoste sou moes aangaan om mielies te koop, gaan die groot verbetering in sy oes hom in staat stel om genoeg mielies te stroop om in sy behoeftes te voorsien.
Zinchem het ’n multimikro-elementproduk ontwikkel vir rygewasse. Dit bestaan uit ’n volledige reeks noodsaaklike mikroelemente wat met planttyd in die grond toegedien kan word.
Saailinge groei beter as onmiddellik beskikbare, noodsaaklike mikro-elemente verskaf word om ten minste gedeeltelik stremmingstoestande in die omgewing te oorbrug. Die doel van die produk is nie om die hele gewas te voed nie, maar slegs om ’n goeie wegspring te verseker deur ’n goeie wortelstelsel te vestig.
’n Goed ontwikkelde wortelstelsel sal die plant help om beter in sy vog- en voedingsbehoeftes te voorsien. Dit sal daarom minder gevoelig vir ongunstige grond- en omgewingstoestande wees. Die reeks produkte bestaan uit ten volle wateroplosbare bronne van ses van die belangrikste mikro-elemente, naamlik Zn, Cu, Mn, Fe, B en Mo. Die produkte is in kristalvorm beskikbaar wat maklik oplos en dan deur besproeiingstelsels, tenks op planters of ’n trekkerspuit toegedien kan word.
Die reeks produkte bestaan uit sowat ’n dosyn verskillende grondtoedienings en blaarvoedings. Gewas-spesifieke formulasies word reeds ontwikkel. Die volgende gewasse het spesifieke blaarvoedingsformulasies: Graangewasse, sonneblomme, grondbone, droëbone, sojabone, groente en vrugte asook pekanneute. Spesifieke grondtoedieningsformulasies is ontwikkel vir alle rygewasse, groente, suikerriet en die bosbou. Die produk kan jaarliks gebruik word om te voorsien in die rygewasse se mikro-elementbehoeftes.
Dit is aan te beveel dat ook die mikroelemente met grondontledings ontleed word. Sodoende kan bepaal word hoe om die mikro-elemente te bestuur. Die voorkoming van tekorte is beter as krisisbestuur waar tekorte visueel waargeneem en daarop gereageer word.
Die toediening van mikro-elemente kan ’n boerdery meer winsgewend en volhoubaar maak. ’n Boer kan nie bekostig om nie die volle potensiaal van sy gronde te ontgin nie. Dit maak daarom nie sin om die toediening van makro-elemente en kalk, die keuse van die kultivar en bewerking en die bestryding van insekte en onkruid reg te doen, en noodsaaklike mikro-elemente wat die boer kan help om sy gronde se volle potensiaal te bereik, te ignoreer nie.
Mnr. Phillip Venter is besigheidseenheidsbestuurder van Zinchem en mnr. Jaco Vorster is ’n boer.