Sinksulfaat en sonneblomme is ’n wenspan
Ná die strooptyd in Mei is mnre. Ben en Jaco Bamberger van Ottosdal vol lof vir die voordele wat sinksulfaat bied. Tydens besoeke aan hul boerdery deur die streeksverteenwoordiger van Zinchem is tekorte aan sink in hul grond uitgewys. Hulle het besluit om sinktoedienings bykomend op dele van die lande te doen.
Omdat ons graag wou weet wat die opbrengsverhoging op die bykomende kapitaalbesteding sou wees, het ons ook strookproewe geplant sodat ons die opbrengsverhoging (al dan nie) presies kon bepaal. Dit was ’n baie nat jaar met vele probleme.
Onkruidbestryding was maar een van die kwessies wat spesiale aandag sou verg.
Sinksulfaat is tydens die planttyd op die ry toegedien teen 5 kg/ha. Die 5 kg sinksulfaat is opgelos in 200 liter water en met die onkruiddoderspuit 300 mm wyd oor die ry toegedien. Die plante was sedert opkoms buitengewoon sterk en mooi. Gedurende die hele groeitydperk kon geen tekorte waargeneem word nie.
Ons kon nie wag vir strooptyd nie. Dit was gou duidelik dat die opbrengs van die sonneblomme besonder goed was. Die proefstroke is eerste gestroop en geweeg. In daardie stadium het dit amper gevoel of die stropers te stadig loop, maar ons moes geduldig wag vir die kontroleblokke. Die streeksverteenwoordiger van Zinchem het intussen weer aan ons verduidelik wat die funksie van sink in plante is en waarom ons kon verwag om ’n beter opbrengs te kry met die ekstra sinktoediening. Sink is betrokke by die vorming van chlorofil, dit speel ’n rol in die vorming van groeihormone en dit aktiveer ensieme. Dit is waarom sink so ’n groot rol speel.
“Nee, wat,” sê die Bambergers. “Om te meet, is om te weet. Ons weet nou dat voorkoming (grondtoediening) beter is as genesing deur die gebruik van blaarvoeding. Ons sal nie weer nalaat om seker te maak dat ons plante die regte hoeveelheid en die regte bron sink (Zinchem se sinksulfaat) tydens planttyd kry nie. Wys ons waar anders ons ’n opbrengs van 667% op ons kapitaaluitleg kan kry. Ons het ook mielies op proefpersele geplant en kan nie wag vir die resultate nie,” sê Jaco.
Die opbrengs in die kontroleblokke was 1 706,60 kg/ha en dié op die proefpersele waar 5 kg/ha sinksulfaat toegedien is, was 1 840,16 kg/ha. Die opbrengsverhoging was 7,8% of 133,6kg/ha en teen ’n sonneblomprys van R4 000/ton realiseer die proefstrook R534,24/ha meer vir die Bambergers. Die koste van die sinksulfaat was R80/ha. Dus, vir elke rand wat aan sinksulfaat bestee is, is R6,67 verdien, oftewel ’n opbrengs van 667% op die kapitaaluitleg.
Zinchem se nuwe reeks multi-mikroelemente maak voorsiening vir grondtoediening sowel as blaarvoeding. Die nuwe grondtoedieningsproduk vir rygewasse verskaf onmiddellik die mikro-elemente (Zn, Cu, Mn, Fe en B) om saailinge te vestig en te onderhou in die vegetatiewe groeistadium. Die klem in die grondtoedieningsproduk vir rygewasse lê op sink en yster wat ’n rol speel in die vorming van chlorofil.
Die grondtoedieningsproduk vir rygewasse kan gebandplaas word saam met die plantermengsel, breedwerpig oor die ry uitgespuit word met planttyd of in die plantervoor toegedien word met die Zinchem-grondtoediener.
Die sonneblomblaarvoedingsproduk bevat dieselfde mikro-elemente as die grondtoedienings, met molibdeen wat bykom. Die klem in die sonneblomblaarvoedingsproduk verskuif egter meer na boor, wat onder meer noodsaaklik is vir goeie bestuiwing, blom- en vrugvorming. Daar word met die produk geprobeer om die voorkoms van dowwe pitte te beperk en gevolglik beter opbrengste te realiseer. Die sonneblomblaarvoedingsproduk kan toegedien word twee tot drie weke ná opkoms en opgevolg word met ’n tweedebespuiting (waar prakties) net voor blomtyd.Grond- en blaarvoeding het elk voordele sowel as tekortkominge. Die doel is egter om noodsaaklike mikro-elemente op die mees ekonomiese, praktiese en kostedoeltreffende wyse toe te dien. Mnr. Phillip Venter is besigheidseenheidbestuurder en mnr. Jan Viljoen ’n landboukundige, albei van Zinchem. LB
Navrae: Hulplyn 0861 000 222; webwerf: www.multimikro.co.za
Deur Phillip Venter en Jan Viljoen