Syngenta “Mango Pak” behaal reuse sukses in samewerking met Laeveld Agrochem
Mango produsente gebruik al jare lank produkte soos Thiovit jet en Tilt wat ook in die Syngenta Mango Pak ingesluit is. Na afloop van deeglike navorsing en verskeie grootskaal demonstrasieproewe wat oor etlike jare gestrek het, was dit egter duidelik dat die insluiting van produkte soos Actara en Ortiva ‘n beduidende verbetering op opbrengs en na-oes gehalte van vrugte kan hê.
Proewe is onder uiteenlopende klimaats- en produksie kondisies in verskeie areas getoets, en Syngenta het besluit om in samewerking met Laeveld Agrochem te begin om die Mango Pak konsep as omvattende gewas oplossing aan mango produsente te bemark. Verskeie mango produsente het dus al gehoor en gebruik gemaak van die nuwe Syngenta Mango Pak konsep toe produkte reeds verlede seisoen as ‘n bondeling beskikbaar ge-stel is.
Waaruit bestaan Mango Pak?
Die Mango Pak bestaan uit ‘n volledige reeks produkte vir die beheer van insekte sowel as swamsiektes. ‘n Vaste spuitprogram word gevolg wat begin met Tilt vanaf vroeë blomstadium vir die beheer poeieragtige meeldou. Daar word sterk op Tilt bespuitings gesteun tot 100% blomblaarval weens die sistemiese eienskappe van dié triasool het en die goeie beheer van poeieragtige meeldou en ‘n kompleks van bloeiselskroeipatogene, onder andere ook Colletotrichum en Botryosphearia spp. Tilt speel dus ‘n belangrike rol in inokulum vermindering met betrekking tot patogene wat antraknose, stingel-ent en sagte bruinvrot van mangoes veroorsaak. Thiovit jet word twee maal in die bloeiselprogram aanbeveel om poeieragtige meeldou te beheer, blaaspootjie populasies te onderdruk en ook as deel van ‘n anti-weerstandstrategie om die aanhoudende gebruik van swamdoders wat aan die triasool familie behoort, te onderbreek. Die eertste Ortiva bespuiting word na volblom tot albaster-grootte stadium (ses weke na blom) toegedien en die hoof teiken met hierdie plasing is om jong vruggies teen stingel-ent en sagtebruinvrot patogene te beskerm.
Toedieningsproses
Actara word in Julie/Augustus, eenmalig as grondtoediening gebruik vir beheer van mongo kewer, witluis, en die onderdrukking van mango dopluis. Die metode van toediening pas ten volle in by geïntegreerde plaagbeheer strategieë om die effek op voordelige insekpredatore te verminder en omgewingsbesoedeling te beperk. Die tweede Ortiva word drie weke voor oes gespuit en verseker dat gesonde vrugte die pakhuis bereik, sodat aan die standaarde vir beter vrugkwaliteit en verlengde raklewe wat die plaaslikemark deesdae vereis asook die streng vereistes van uitvoer, voldoen kan word. Die aantal koper bespuitings na vrugset tot oes sal grootliks afhang van siekte druk in die area, en veral van die voorkoms van bakteriese swartvlek. Die produk Bion wat baie suksesvol saam met koperbespuitings gebruik word, is nie in die Mango Pak ingesluit nie, maar kan oorweeg word onder hoë bakteriese druk situasies.
Na die eerste seisoen
Na die eerste seisoen se bondeling, en met in-agneming van die uiteenlopende praktyke en behoeftes van ons mango produsente in verskillende verbouingsareas, is besluit om ‘n basiese Syngenta Mango Pak daar te stel wat bestaan uit 12 x 1 l Actara, 24 x 1 l Ortiva en 3 x 5 l Tilt. Thiovit maak deel uit van die Syngenta mango program, maar word apart gelewer weens regulasie met betrekking tot die vervoer van chemikalië.
Net soos vir die Thiovit jet wat in die mango program gebruik moet word, het Syngenta ook vir ons produsente met nouer boomspasiëring waar meer Actara benodig word, voorsiening gemaak om adisionele Actara, gekoppel aan die aantal mango pakke wat hulle gebruik, teen verlaagde koste te bekom. Die konsep van addisionele Actara vir die mango pak help ook die produsent om die besluit om Actara op groter areas te gebruik later in die groeiseisoen te neem wanneer Moedernatuur reeds van haar kaarte gespeel het.
Werk teen onkruid
Moenie vergeet wat die effek is van onkruide, op water, voedingstowwe en chemikalië soos Actara, wat eintlik vir jou mango boom bestem is om optimum prestasie te kan lewer, nie. Gramoxone en Preeglone is nie-selektiewe kontak onkruiddoders, wat gou in die grond afgebreek word, vir die na-opkoms beheer van eenjarige grasse en breëblaaronkruide. Touchdown is ‘n nie-selektiewe sistemiese onkruiddoder vir die beheer van eenjarige en meerjarige grasse asook breëblaaronkruide.
Meer inligting kontak gerus jou naaste Laeveld Agrochem agent vir meer inligting.