Verantwoordelike beheer van knaagdiere in stedelike en voorstedelike omgewings
DIE GRIFFON GIFINLIGTINGSENTRUM VERSKAF HIERDIE INLIGTING MET DIE VERSTANDHOUDING DAT DIE VERBRUIKER DIE RAAD STRENG NAVOLG ASOOK ALLE INSTRUKSIES OP KNAAGDIERDODERETIKETTE STRENG NAVOLG INGEVOLGE DIE ARTIKELS EN REGULASIES VAN WET NO. 36 VAN 1947. DIE GRIFFON GIFINLIGTINGSENTRUM AANVAAR GEEN VERANTWOORDELIKHEID VIR ENIGE SITUASIE WAT MAG ONTSTAAN AS GEVOLG VAN DIE GEBRUIK VAN KNAAGDIERDODERS NIE. DIT BLY DIE VERANTWOORDELIKHEID VAN DIE VERBRUIKER OM ALLE PRODUKTE MET SORG EN OMSIGTIGHEID TE GEBRUIK OM TE VERHOED DAT TROETELDIERE EN WILDE VOËLS SOOS UILE NIE VERGIFTIG WORD NIE.
- Rotte en muise is belangrike peste van die stedelike en landelike omgewing en behoort as ‘n reël beheer te word. Hulle versprei onder andere siektes soos Salmonella, swartkoors en builepes en vreet groot volumes voedsel op wat vir mense en diere benodig word.
- Daar is verskeie knaagdierdoders in Suid-Afrika beskikbaar en almal is redelik effektief. Ongelukkig is daar altyd die gevaar dat troeteldiere, roofdiere, roofvoëls en uile wat dooie knaagdiere vreet, sekondêre vergiftiging kan opdoen omdat meeste van die knaagdierdoders wel sekondêre vergiftiging kan veroorsaak.
- Die enigste produk wat na my mening ‘n uiters skraal kans het om veral roofvoëls sekondêr te vergiftig is Racumin – die giftigheid van die aktiewe bestanddeel naamlik kumatetraliel is baie laag vir voëls. Verdermeer word die aktiewe bestanddeel in die knaagdier se ingewande tot nie-giftige komponente gemetaboliseer en dus word die gevaar vir iets wat die knaagdier sou vreet, uitgeskakel.
- Kumatetraliel is egter baie giftig vir soogdiere en dus is daar ‘n direkte gevaar dat honde wat die skoon lokaas vreet, vergiftig kan word. Daar is egter ‘n baie skraal kans dat soogdiere wat dooie knaagdiere sou vreet, sekondêre vergiftiging sal opdoen omdat die aktiewe bestanddeel in die knaagdier gemetaboliseer word.
- Racumin is beskikbaar as Racumin Rat and Mouse Bait Blocks (wasblokkies) (registrasienommer L4284) en Racumin Paste (pasta) (registrasienommer L6401) vir die algemene publiek. Beide produkte kan by kwekerye, koöperasies, hardewarewinkels en voedselkettingwinkels aangekoop word en Coopers Environmental Science 011-979-4246 is die verspreiders daarvan. Wasblokkies is redelik veilig om te gebruik waar honde teenwoordig is. Indien honde per ongeluk die wasblokkies vreet, word dit bloot in die mis uitgeskei en daar word nie veel van die aktiewe bestanddeel uit die was vrygestel nie. Die pasta is egter baie gevaarlik indien honde dit vreet omdat die pasta heeltemal verteer en die volle dosis aktiewe bestanddeel vrystel. Daar is dus ‘n baie goeie kans dat ‘n hond wat die pasta vreet, primêre vergiftiging kan opdoen. Pasta moet slegs aangewend word in plekke soos plafonne waar honde dit nie kan bykom en opvreet nie.
- Racumin wasblokkies moet verkieslik in lokaashouers uitgeplaas word. Koop spesiale plastieklokaashouers by die handelaars wat Racumin verskaf of maak eenvoudige lokaashouers uit 2 liter plastiek roomysbakke. Maak twee 40 mm gate aan teenoorgestelde kante van die plastiek roomysbak. Plaas twee wasblokkies in die bak en plak die deksel met sterk band of pleister vas. Plaas dan die bak uit op die plek waar knaagdiere aktief is. Vul die lokaas aan sodra dit minder word en hou aan met die proses vir 16 dae lank. Maak seker dat troeteldiere nie die lokaashouer kan bykom nie. Indien lokaasdele buite die bak rondlê, tel dit op en gooi dit weg.
- Wanneer pasta gebruik word kan dit redelik veilig in die huis se plafon uitgeplaas word. Gooi 8 pastablokkies in die plafon en herhaal dit elke 4e dag vir 16 dae lank. Gaan elke oggend op ‘n inspeksie buite die huis en kyk of die rotte nie van die pasta uit die plafon gedra het nie. Indien dit wel die geval is, tel dit op en gooi dit terug in die plafon.
- Vir beide die wasblokkies en die pasta is daar ‘n drie dae periode na die eerste aandwending voor die knaagdiere begin vrek. Die vierde dag na die eerste aanwending moet die erf gepatrolleer word en dooie knaagdiere moet opgetel en weggedoen word. As pasta op die plafon uitgeplaas is, stuur iemand in die dak in om dooie knaagdiere op te ruim.
- Indien ander fabrikate knaagdierdoders gebruik word is daar ‘n groot kans dat troeteldiere, roofvoëls en uile sekondêr vergiftig kan word. Maak dus van lokaashouers gebruik en maak seker op die vierde dag na aanwending dat alle dooie knaagdiere verwyder word. Dis baie meer noodsaaklik om dooie knaagdiere te verwyder as wanneer Racuminprodukte gebruik word. Geen knaagdierdoders moet oop en bloot aangewend word nie want dit skep ‘n groot gevaar vir alles wat dit mag inkry.
- Ongeag watter knaagdierdoders gebruik word, moet die publiek seker maak dat veral honde nie toegang tot lokaas en dooie knaagdiere kry nie. Indien honde enige van die lokaas of dooie knaagdiere inkry, moet die diere onmiddelik na ‘n veearts geneem word vir diagnose en behandeling anders is die kans dat die diere sal oorleef, baie skraal. Simptome van knaagdierdodervergiftiging by honde tree op die derde dag na die eerste inname in: lusteloosheid, effense naarheid, gebrek aan eetlus, soms vomering en baie bleek slymvliese. Slegs ‘n veearts kan so ‘n dier behandel met Vitamien K1 en soms mag selfs bloedoortappings nodig wees.
- Moet geen knaagdierdoderlokaas in die huis aanwend as dit nie in ‘n lokaashouer op ‘n onbereikbare plek weggesteek is nie. Kinders kan ook die lokaas inkry en daarvan sterf.
- Die maak van tuisgemaakte knaagdierdoders met produkte soos aldikarb is heeltemal onwettig en is strafbaar met etlike jare gevangenis en boetes. Moet dit dus nie eers oorweeg nie.
- Uile, slange, muishonde, meerkaaie en selfs muskejaatkatte is effektiewe knaagdierjagters en moet onder geen omstandighede doodgemaak of gesteur word nie. Hulle almal help om knaagdiere in toom te hou.
- Troeteldierkos is een van die grootste aantrekkingskragte vir knaagdiere en moet onder geen omstandighede oop en bloot gelaat word nie. Gee liewers vir troeteldiere een of twee keer per dag kos en sluit dan alle kos (veral bolletjieskos) toe sodat knaagdiere nie toegang daartoe verkry nie. Moet ook nie oormaat kos vir tuinvoëls uitplaas nie – gooi net genoeg in die oggend uit sodat die voëls alles spoedig opvreet en niks vir rotte en muise los nie.
GRIFFON GIFINLIGTINGSENTRUM (24 UUR VERGIFTIGINGS NOODHULPLYN) 082 446 8946
DR GERHARD H VERDOORN
Ph.D. Sintetiese Organiese Chemie (Universiteit van Johannesburg)
GRIFFON GIFINLIGTINGSENTRUM
MOZARTWEG 6, RISIDALE 2195, JOHANNESBURG, SUID-AFRIKA
Tel: Int+27-(0)82-446-8946; Faks: Int+27-(0)11-805-2222
E-pos: nesher@tiscali.co.za