LANDBOUWEEKBLAD Promosie artikel (23 Aug 2019)
Geskryf deur ANNA VAN DER MERWE, Laeveld Agrochem
Die verbouing van uie in Suid-Afrika het so duur geword dat die produsent alle faktore wat sy opbrengs nadelig kan beïnvloed, na die beste van sy vermoë moet bestuur om produksie te optimaliseer.
Saadbeddingvoorbereiding is een van die beperkendste faktore omdat uiesaad as fynsaad geklassifiseer word. ’n Growwe saadbedding kan tot onegalige ontkieming lei. Sowat 900 000 tot 1,1 miljoen sade per hektaar word geplant om ’n plantestand van so 800 000 plante per hektaar te bereik. Indien die saadbedding boonop oorbesproei word, swak dreineer en verdig is, kan dit bydra tot die voorkoms van saailingverdwynsiektes. Die belangrikste patogene wat verdwynsiektes by uie veroorsaak, is Pythium spp., Fusarium en Rhizoctonia spp. ’n Goeie voorkomende spuitprogram met geregistreerde swamdoders kan saailingverdwynsiektes voorkom, maar ander bydraende faktore moet ook aandag kry.
WORTELSIEKTES
Die blokgeskiedenis is om verskeie redes belangrik. Indien monokultuur toegepas word, kan dit lei tot witbolvrot (patogeen Sclerotium rolfsii). Dit is ’n vernietigende siekte waarvoor voorkomende behandeling nog nie beskikbaar is nie. ’n Goeie gewasrotasieprogram en besproeiingskedulering kan bydra tot die bekamping van die siekte. Geïnfekteerde wortelreste van voorafgaande gewasse, byvoorbeeld sojabone en kommersiële mielies, kan lei tot pienkwortel (patogeen: Phoma terrestris).
Programme wat goeie wortelgroei aanmoedig, naamlik bemestingsprogramme, blaarvoedings met ouksiene, en toedienings van geregistreerde Trichoderma spp., kan die voorkoms van die siekte grootliks beperk. Indien die siekte nie bekamp word nie, kan dit lei tot ’n afname in groeitempo en gevolglik opbrengs.
BLAARSIEKTES
Die belangrikste blaarsiektes wat by uie voorkom, is donsige meeldou (patogeen: Peronospora destructor), “purple blotch”
(patogeen: Alternaria porri) en Stemphyllium-blaarvlek. Gesonde blare is noodsaaklik om ’n goeie opbrengs te verseker, en dus is die spuit van ’n goeie voorkomende geregistreerde swamdoderprogram belangrik. Uieplante met ’n goeie voedingstatus (veral hoë kaliumvlakke, maar ook mikro-elemente soos sink, yster en boor), kan ook blaarsiektes beter weerstaan. Die gereelde ontleding van blaar- en sapmonsters kan aan die boer ’n goeie aanduiding gee van plante se voedingstatus.
ONKRUIDDODERS
Die verkeerde gebruik van onkruiddoders lei dikwels tot gewasskade. Om fitotoksisiteit op die gewas te beperk, is dit noodsaaklik om die gebruiksbeperkings op geregistreerde onkruiddoders se etikette na te kom. Die gebruik van geregistreerde onkruiddoders is belangrik om onkruidmededinging tot die minimum te beperk. Weens die fynheid van uiesaad is dit uiters gevoelig vir onkruidmededinging. Weersomstandighede en die gewas se fenologiese stadium moet ook in ag geneem word.
INSEKTE
Die belangrikste ekonomiese insekplaag by uie is blaaspootjie (Thrips tabaci). Dit veroorsaak nie net voedinggroeiremming nie, maar ook letsels waar blaarsiektes blare maklik kan indring. Thrips tabaci tree ook op as ’n vektor van virussiektes soos Iris “yellow spot”. Die virussiekte vertraag groei en lei tot ’n afname in opbrengs. Bolle is dikwels te klein vir bemarking of van ’n minderwaardige gehalte. ’n Goeie blaaspootjieprogram is dus baie belangrik.
NEMATODES
Nematodes is ’n beperkende faktor op uie wat op ligte grond verbou word. Slegs een aktiewe bestanddeel vir uie is geregistreeren dus is gewasrotasie met nie-gevoelige gewasse soos hawer noodsaaklik.
SIEKTES
Ná-oessiektes beïnvloed uie se raklewe. Botrytis cinerea veroorsaak ná-oesbederf. Die siekte ontwikkel reeds in die land.
Die siekte kom voor onder die bol se skubblare en het ’n kenmerkende reuk en kleur. Die gewas se blaredak is so dig teen die tyd dat infeksiedruk op sy hoogste is dat die bespuiting nie die bolle bereik nie. Die gewas se natuurlike waslaag bemoeilik ook indringing en benatting. Die gebruik van byvoegingsmiddels (penetreerders) is dus belangrik.
Plantgesondheid is nie net ’n funksie van goeie plaagbestryding nie, maar ook van gewasrotasie en die uitskakeling van onkruidkompetisie. ’n Goeie begin is saadbeddingvoorbereiding, die bekamping van grondswamme en die inagneming van blokgeskiedenis. Tussendeur moet blaarsiektes, insekte en nematodes bekamp word. Laastens moet ná-oesbederfsiektes bekamp word om raklewe te verseker.
Kontak jou Laeveld Agrochem verteenwoordiger vir meer inligting of enige vrae.