Insekbeheer op makadamias – lesse uit die sitrusbedryf

Chantal Forssman

Deur Rolf Swart
Verkoopsbestuurder, Limpopo & Mpumalanga
Adama

Dit voel soos nou die dag toe ons nog drie of vier piretroïede op makadamias gespuit het, en dit was die totale omvang van die insekbeheerprogram vir die seisoen.

Ongelukkig, soos in die geval van die meeste monokulture, het hierdie prentjie binne die laaste agt jaar aansienlik verander. Ons veg nou nie net meer teen stinkbesies nie, maar ook teen valskodlingmot, makadamia-neutboorder en die groot groeiende pyn, blaaspootjie.

Ander plae soos witluis, viltkoksied en die ambrosiakewer steek ook op verskeie plekke kop uit. Dieselfde tendense het oor die jare heen in die sitrusbedryf posgevat, waar toenemende insekdruk weens groot monokulture en onverskrokke spuitpraktyke algemeen geword het.

Gemeet aan die sitrusbedryf, is die makadamiabedryf in Suid-Afrika betreklik jonk. Dié bedryf het nog die geleentheid om voorkomend op te tree en nie dieselfde foute te maak nie.

Hier volg ‘n paar gedagtes, wat oor 21 jaar in die sitrusbedryf ondervind is en in die makadamiabedryf kan help:

  • Spuit “harde chemie” (organofosfate en piretroïede) vroeg in die seisoen om so ‘n lae impak as moontlik te hê op natuurlike predatore en parasitoïedes, wat reperkussieplae soos witluis kan voorkom.
  • Wissel verskillende chemiese groepe af in jou spuitprogram.
  • Let op spuitbedekking! Dit is goed en wel om met so ’n lae watervolume as moontlik te probeer wegkom, maar die volgende twee dinge dinge gebeur as die spuitbedekking onvoldoende is:
    • Die beheer is ondoeltreffend en die produk word geblameer.
    • Die insekpopulasie wat die swak bespuiting oorleef se gene word aan die volgende
      generasie oorgedra en insekweerstand teen die produk word aangehelp totdat die
      produk later, selfs met voldoende bedekking, nie meer doeltreffend is nie. Geen bespuiting is so duur soos ’n bespuiting wat nie werk nie, so spuit eerder die eerste keer reg en verseker voldoende bedekking.
  • Maak seker dat produkte soos Tau-fluvalinate en Acetamiprid by die korrekte pH gespuit word vir optimale werking. Versuur die spuitmengsel totdat die verlangde pH verkry word.
  • Maak gebruik van produkte wat uit ’n kombinasie van aktiewe bestanddele bestaan. Die kombinasie van aktiewe
    bestanddele vervat dikwels ’n sinergisme, en die produk se werking is dan beter as dié van die aktiewe bestanddele op hulle eie. Verder bied die kombinasie ook ‘n goeie weerstandstrategie.

Hierdie tipe produkte dek ook gewoonlik ’n breër spektrum van insekplae en twee vlieë kan dikwels met een klap gevang word.

So het Adama kombinasieprodukte in hulle stal wat doeltreffend is teen stinkbesie, valskodlingmot, blaaspootjie en makadamia-neutboorder – alles in een bespuiting!