Wat ons doen

“Alleen kan ons so min doen; saam kan ons so baie doen.” – Helen Keller 

Laeveld Agrochem is verbind tot die lewering van uitmuntende produkte, saam met deskundige advies en top-kaliber persoonlike aandag op alle vlakke. Alles wat ons doen is daarop gemik om ons kliënte te help om toenemend en volhoubaar winsgewend te boer. Om hierdie visie te verwesenlik, is dit nie genoeg om bloot ‘n verskaffer te wees nie. Ons glo daaraan om ons kliënt se vennoot te word, wat elke tree van die pad – van uitdaging tot oorwinning – in hul boerdery belê.

Ons visie

Om ‘n onmisbare skakel in die voedselsekuriteitketting te wees en elke boer se logiese en eerste keuse te bly met sy aankoop van enige oes-optimalisering- of dieregesondheidproduk.

Ons missie

– Om Suid-Afrika en sy buurlande se mees herkenbare en gesogte handelsmerk te wees, en die grootste insetverskaffer vir die boerderygemeenskap te word.

– Om ‘n reuse- en positiewe verskil in elkeen se lewe te maak wat Laeveld Argochem se pad kruis, en om ‘n wesenlike bydrae tot ons land en alle mense te maak.

farm
banner4

Ons geskiedenis

“Eenheid is mag – wanneer daar spanwerk en samewerking is, kan wonderlike dinge bereik word.” – Mattie Stepanek

Laeveld Agrochem is in 1991 tot stand gebring deur Nick Liebenberg en sy seun, Corné. Gerugsteun deur hul gesamentlike ervaring van meer as 50 jaar in die landbou, was die maatskappy in daardie stadium in die destydse Laeveld (nou Mpumalanga) werksaam.

Laeveld Agrochem se sukses het kort voor lank sy geografiese grense oorskry. Die maatskappy het sy dienste aanvanklik hoofsaaklik in die noordelike en oostelike dele van die land gelewer. Strategiese vennootskappe en samewerkingsooreenkomste het binne rekordtyd gelei tot die herposisionering van die maatskappy.

Vandag strek Laeveld Agrochem se bedryfsaktiwiteite oor die lengte en breedte van Suid-Afrika, tot in ons buurlande. Hierdie “kwantiteit” word volmaak aangevul deur ons verbintenis tot kwaliteit: ons onwrikbare fokus op persoonlike en volhoubare diens, gelewer deur ‘n span hoogs opgeleide, ervare en gespesialiseerde deskundiges wat eienaarskap neem van Laeveld Agrochem se besigheidsfilosofie wat op langtermyn persoonlike verhoudings gegrond is.

Ons kundigheid

“Dit is in ‘n mens se oomblikke van besluitneming wat jou lot bepaal word.” – Tony Robbins

Uitnemende presisieboerdery

Die grondslag van ons verbintenis en aanbiedinge lê in ons geloof in die waarde van goeie besluitneming – vandaar ons omvattende produkreeks en deskundige bystand, asook ons Decision Farming-dienste en -tegnologie.

Met ‘n ferm fokus op waardetoevoeging en die optimalisering van opbrengste, bestaan die Decision Farming-span uit:

  • Nege eksterne deskundiges op verskillende gebiede
  • Meer as 75 eksterne deskundiges vanaf ons voorkeurverskaffers, insluitend gronddeskundiges, akkerboukundiges, plantpatoloë en entomoloë
  • Meer as 100 nasionale agente

Spesialisering in gewasbeskerming

Ons sterkste wapen is ons span hoogs opgeleide en gekwalifiseerde gewasbeskermingdeskundiges. Met die ondersteuning van ‘n wye spektrum tegniese kundiges, staan hulle gereed om behoeftes aan te spreek wat wissel van gewasbeskerming en grondregstelling tot plantvoeding en gewasoptimalisering.