Elke seisoen is daar gevalle waar ek hoor “die onkruiddoder het nie gewerk nie”. Wat my gewoonlik verbaas, is dat uit die duisende liters onkruiddoders wat verkoop word, dit ʼn handjievol gevalle is waar die onkruiddoder nie effektief was nie. Soms is dit op dieselfde plaas waar meeste van die lande skoon is, maar net ʼn land of twee, waar dieselfde onkruiddoder gespuit is, is vuil met onkruide.
Indien onvoldoende effektiwiteit van ’n spesifieke onkruiddoder lot wel voorkom, gaan dit nie enkele gevalle wees nie, maar wyd verspreid binne die venstertyd van gebruik.
Die tendens is egter totaal teenoorgesteld en bekende onkruiddoders of onkruiddoderkombinasies kom elke seisoen onder die spervuur. Daar is gewoonlik bydraende faktore wat ʼn rol speel tot die effektiwiteitsprobleme. Om antwoorde te kry kan ons begin deur die registrasiehouer se etiket te bestudeer wat op elke kannetjie voorkom. Dit is egter belangrik om te verstaan wat die oorspronklike rol was van ʼn onkruiddoder.
ʼn Onkruiddoder is ʼn hulpmiddel in die bestryding van ongewenste plante (onkruide) wat kompeteer vir water, voedingstowwe, sonlig en ruimte op ʼn ongewenste plek (Bromilow, 2018). Onkruiddoders verskil in hulle meganisme van werking, selektiwiteit, posisionering, chemiese samestelling, residuele leeftyd, logingsindeks, wateroplosbaarheid, vlugtigheid, reënvastheid, adsorpsievermoë, toksisiteit ens. (Syngenta, 2021). Onkruiddoders moet altyd gesien word as ʼn strategie wat deel vorm van ʼn geïntegreerde plaagbestuursprogram.
Die eerste suksesvolle, selektiewe kommersiële onkruiddoder was 2,4D wat in 1945 in die mark gekom het (Bovey et al., 1996). Daarna is daar baie suksesvolle onkruiddoders wat gevolg het. Volgens ’n studie deur Agbioinvestor (Feb, 2024) is daar bevind dat chemiese ontwikkelingsmaatskappye soos Bayer, BASF, Corteva, FMC en Syngenta in 2019, gemiddeld 12,3 jaar neem van die ontdekking van ʼn aktief tot die suksesvolle bemarking daarvan. Die koste van die produkontwikkeling het uitgekom op $301 miljoen. Let wel dat hierdie 5 jaar terug se kostes was.
Vanaf die eerste sifting van aktiewe bestanddele in die laboratorium, proewe in glashuise, proewe op klein persele en grootskaalse proewe in verskillende geografiese areas, tot die bemarking van ʼn stabiele formulasie, word die eienskappe van ʼn onkruiddoder vasgevang in ʼn wetlike dokument, nl. die produketiket.
Op die etiket is al die riglyne vir die suksesvolle gebruik van die onkruiddoder, bepaal en verfyn oor die ontwikkelingstydperk van die produk in verskillende geografiese areas. Ons gaan in twee artikels kyk na ván die riglyne wat in ag geneem moet word vir effektiewe onkruidbeheer. Die doel is om die meeste uit die hulpmiddel wat tot ons beskikking is te kry.
Beheer van onkruide soos op die etiket gespesifiseer
Onkruide is aggressiewe kompeteerders wat kan lei tot ekonomiese verliese deur die verlaging van opbrengste of die gehalte van die oes.
Om die regte onkruiddoderprogram te kies, moet daar eers bepaal word wat die probleemonkruide is wat voorkom in die teikengebied.
Die onkruidspektrum wat beheer word deur ʼn onkruiddoder word op die etiket aangedui. Volgens die gewasbeskerming ontwikkelingshoof by Syngenta SA, Elbé Hugo, moet ʼn onkruiddoder vir registrasiedoeleindes ʼn minimum van 90% beheer verkry teenoor die kontrole per onkruid, gespesifiseer op die etiket. Daar word ook op sommige etikette verwys na onderdrukking van onkruide wat weer ʼn 60% – 89% effektiwiteit aandui.
Indien ʼn onkruiddoder dus ʼn minimum van 9 uit die 10 onkruide beheer teenoor die kontrole, word dit geregistreer. Onkruide kan duisende sade per plant produseer en so ʼn saadbank opbou wat baie langer gaan vat om in te breek. Skielik is daardie 90%, 900 000 uit 1 000 000 plante, en daar bly nog 100 000 plante oor. Het die onkruiddoder dan nie sy werk gedoen nie?

Dit sal wel evalueer kan word indien daar ʼn kontrole-blokkie gelos word om te sien wat die ware impak sou wees sonder die onkruiddoder. Neem in ag dat daar ʼn plantdoder gespuit word, in of oor die gewas, wat selektief genoeg moet wees om onkruide te dood sonder om ʼn negatiewe effek (fitotoksisiteit) op die gewas te verkry. Dus moet daar ʼn balans wees tussen beheer en veiligheid vir die gewas en dit word bepaal met ontwikkeling van die produk. Hoër dosisse buite registrasie lyk dalk mooi, maar ten koste van wat? Opbrengs?
Onkruide is nie almal dieselfde nie. Daar is vlak ontkiemende en diep ontkiemende onkruide, groot- en kleinsadige onkruide, onkruide wat van sade af voortplant of vegetatief, eenjarige en meerjarige onkruide, winter en somer onkruide, eensaadlobbige en tweesaadlobbige onkruide (Grabrandt, 1985).
Al die onkruide verskil, en net so ook die selektiwiteit en effektiwiteit van verskillende onkruiddoders. Grootsadige, diep ontkiemers, soos purperwinde (Ipomoea purpurea), kanker-roos (Xanthium strumarium), wandelende jood (Commelina benghalensis) en olieboom (Datura spp.), is gewoonlik baie moeiliker om te beheer en residuele onkruiddoders op mielies en sojabone sal baie keer variërende beheer of slegs onderdrukking aandui.
Net so kan vlak ontkiemers, soos knapsekêrel (Bidens spp.), misbredie (Amaranthus hybridus), withondebossie (Chenopodium album) en kakiebos (Tagetes minuta), ʼn probleem raak wanneer die onkruiddoder verby die ontkiemingsone in die grondprofiel loog. Sommige etikette dui selfs aan hoe lang beheer verwag kan word op sekere moeilik beheerbare onkruide. Dit is daarom duidelik dat onkruidbeheer deur die tipe onkruid bepaal word binne ʼn geïntegreerde benadering. Maak dus seker wat die spesifieke onkruide is wat beheer moet word wanneer jy jou bestuursprogram beplan.
Opvolg met na-opkoms (na-opkoms van die gewas) onkruiddoders
Die interval tussen ʼn vooropkoms- (vooropkoms van die gewas) bespuiting en na-opkoms- (na die opkoms van die gewas) bespuiting op grane, moet nie te groot wees nie. Hoe groter die gewas word, hoe meer afskerming word veroorsaak deur die blare van die gewas wat verhoed dat die onkruiddoder nie die teiken bereik nie.
Net so kan die groot onkruide kleiner onkruide afskerm. Hoe groter die onkruide word, hoe meer wisselvallig werk die onkruiddoder aangesien meeste selektiewe onkruiddoders ʼn beperking het op die grootte van die onkruid wat beheer sal word. Bekende mielieonkruiddoders, soos mesotrioon in kombinasie met atrasien en terbutielasien, verwys na die 2- tot 6-blaarstadium op breëblare en 2- tot 3-blaarstadium op grasse.
Selfs nie-selektiewe onkruiddoders soos glifosaat se dosis varieer ten opsigte van onkruidgrootte. Foto 2 is ’n voorbeeld van misbredie-onkruide wat heeltemal te groot geword het. Beheeropsies met opvolgonkruiddoders moes al lankal hier plaasgevind het. Om te verwag dat onkruiddoders die situasie moet red op híérdie stadium is totaal buite die konteks van selektiewe onkruiddoders se etiket.


Foto 3 is ’n voorbeeld van geen effektiwiteit deur selektiewe onkruiddoders wat heeltemal te laat op misbredie-onkruide gespuit was. Slegs verbleiking van die onkruide het plaasgevind met ʼn tenkmengsel van mesotrioon, atrasien, terbutielasien en 2,4D. Die bespuiting moes op die laatste op die 6-blaarstadium plaasgevind het. Foto 1 is ’n voorbeeld van misbredie-onkruide by die begin van die 7-blaarstadium. Onkruide moet dus baie klein wees met opvolgbespuitings. Onthou dat die bespuiting met residuele onkruiddoders, ook enige onkruide wat nog moet ontkiem sal beheer.
Baie etikette dui aan hoe lank na plant die opvolgonkruiddoder-bespuiting moet plaasvind. Natuurlik gaan dit wissel na gelang van die onkruiddoderdruk en rywydte van die gewas.
Kleiner rywydtes gaan vinniger afskerming veroorsaak en opvolgbespuitings moet gevolglik vroeër gespuit word. Neem dus beide die grootte van die gewas en onkruide in ag asook die etiketaanbeveling met ʼn opvolgbespuiting. ʼn Vroeë na-opkomsbespuiting op die etiket verwys na ʼn bespuiting tussen 28 tot 35 dae na plant.
Watervolume met spuit van onkruiddoders
Met die registrasieproses van onkruiddoders, het die maatskappye van so ʼn produk ook bepaal wat die watervolume moet wees waarby die onkruiddoders gespuit moet word vir effektiewe beheer. Vir kontakonkruiddoders soos paraquat en bendioksied, is die watervolumes gewoonlik hoër as byvoorbeeld vir ʼn sistemiese produk soos glifosaat. Meeste residuele onkruiddoders op mielies en sojabone dui ʼn watervolume aan van tussen 200 tot 300 L/ha met grondtoediening.
Dit is egter belangrik om te besef dat water die onkruiddoder vergesel tot op die teiken. Wanneer minder water gespuit word, is die druppels kleiner. Kleiner druppels sal in warmer toestande en laer humiditeit baie vinniger verdamp as hoër volumes. Die kleiner druppel se leeftyd is dus veel korter as ʼn groter druppel. Die aktiewe bestanddeel kan net in vloeistoffase in die onkruidblaar opgeneem word en effektiwiteit gaan verlaag indien die draer, nl. water, te vinnig verdamp en die aktief op die blaar kristaliseer.
Groter druppels se penetrasievermoë is ook beter en die kans vir wegdrywing is minder. Indien die registrasiehouermaatskappy beter effektiwiteit gekry het by laer volumes, sou hulle dit so aangedui het op die etiket. Net so het hulle ook die veiligheid van die onkruiddoder teenoor die gewas alleen of in tenkmengsels getoets, in konsentrasies gekoppel aan die voorgeskrewe watervolume. Hou dus by die watervolumes soos voorgeskryf op die produketiket om voldoende effektiwiteit teenoor die onkruide en veiligheid teenoor die gewas te verseker.
In die volgende artikel bespreek ons verdere aspekte van onkruidbestuur in grane.
Bronnelys:
- Bromilow C., 2018. Inleiding. Probleemplante en Indringeronkruide van Suider-Afrika. 5 – 7.
- Syngenta, 2021. Weed Control. Maize Guide: Yield management from seed to harvest. 5, 43 – 65.
- Burnside O.C., 1996. The History of 2,4D and Its Impact on Development of the Discipline of Weed Science in the United States. Biologic and Economic Assessment of Benefits from Use of Phenoxy Herbicides in the United States. 2, 5 – 10.
- Agbioinvestor, 2024. Time and Cost of New Agrochemical Product Discovery, Development and Registration.
- Grabrandt, 1985. Onkruidbeheer. ONKRUIDE IN GEWASSE EN TUINE IN SUIDELIKE AFRIKA. X – XIII.