Bedek! Of gebrek (Agri Technovation)

Nici de Beer

André Strauss
Hoof van Grondmikrobiologie

Wat is ’n dekgewas?
Net soos die vel van die mens beskadig word deur die radiasie van sonstrale, word grond ook beskadig indien dit nie bedek word nie.

 Een van die beste “sonbrandrome” vir grond is die plant van dekgewasse. Dekgewasse verwys na enige plantpopulasie wat aangeplant word om die grond te bedek tot voordeel van die grond, hetsy dit in rotasie is met kontantgewasse, tussen die rye van permanente gewasse, of self as weiding aangeplant word.

Die hoofdoel is dus om die grondgesondheid en vrugbaarheid te verbeter, eerder as om sade of biomassa (te sny en baal) te oes. Dekgewasse bied ook ’n uitstekende oplossing om die vyf beginsels van grondgesondheid aan te spreek, naamlik:

  1. Gronbedekking.
  2. Lewende wortels in die
  3. Minimale
  4. Maksimale
  5. Inkorporering van lewende

 Dus, met die aanplant van dekgewasse word die grond bedek (1) en lewende wortels is teenwoordig in die grond (2). Deur dekgewas-mengsels te gebruik word maksimale biodiversiteit bo en onder die grond verseker (4), eerder as wat slegs ’n monokultuur op die grond gevestig word. Daaropvolgend, bied dekgewasmengsels ook die voordeel om as meerjarige weidingsgewas in te staan (5). Deur van die regte toerusting soos ’n geen-bewerking (“no-till”) planter gebruik te maak, kan dekgewasse suksesvol gevestig word met minimale grondversteuring (3).

Voordele van dekgewasse

Dekgewasse hou talle voordele in, wat strek van vir die grond op die boer se plaas, tot op globale skaal waar dit klimaatsverandering teenwerk. Hierdie voordele sluit onder andere in die regulering van grondtemperature en die voorkoming van uitermatige hoë grondtemperature (Figuur 1). ’n Mikroklimaat word geskep wat verseker dat plante se huidmondjies langer oop bly en fotosintese vir ’n langer tydperk kan plaasvind, asook dat waterverdamping vanuit die grond beperk word.

Die wortels van dekgewasse skei koolstofverbindings af in die grond, wat die mikrobiese populasie in die grond voed en ook bydra tot verhoogde koolstofvlakke in die grond. Dit lei weer tot ’n verbeterde meer sponsagtige grondstruktuur, wat waterinfiltrasie en die waterhouvermoë van die grond verbeter.

Tydens reën of besproeiing kan die water die grond dus beter binnedring, wat die plant-beskikbare water verhoog en grondvog beter bewaar om sodoende toekomstige (onnodige) besproeiings te vermy.

Spesies om te oorweeg

Afhangende van die doel waarvoor dekgewasse geplant word, sal dit ’n kombinasie van brassicas, grane, grasse en peulplante wees. Grane lewer genoegsame biomassa wat hoog is in koolstof, maar laag in stikstof, terwyl peulplante weer biomassa lewer wat hoër is in stikstof en ook vinniger komposteer. ’n Mengsel tussen grane en peulplante lewer ’n goeie deklaagmat op die grond. Dus, deur peulplante deel te maak van ’n dekgewasmengsel word stikstof ook terug in die grond geplaas. Wanneer tussenverbouing (“intercropping”), veral by permanente gewasse, deel vorm van die praktyk, dien dekgewasse as ’n manier om anorganiese stikstoftoedienings te verminder en so ook insetkostes te bespaar (Figuur 2).

Grasse is goeie pionierplante, meestal meerjarig en groei dus deur die winter en somer. Sodoende verskaf hulle bedekking reg deur die jaar. Indien grondverdigting of kompaksielae voorkom, kan plante van die brassica-familie sterk oorweeg word. Hierdie plante het ’n dik penwortelstelsel en vorm meestal ’n wortelgroente onder die grond en kan sodoende kompaksielae breek.

Hierdie familie is ook van groot belang vir die bestuur van nematodes vanweë die bio-berokingseffek wat hulle in die grond het deur die afskeiding van glukosinolate-molekules wat nematodes inaktiveer. Sommige brassica-spesies toon goeie werking teen sekere nematodes, terwyl ander spesies nie gashere vir nematodes is nie. Deur die regte brasicca-spesies in ’n dekgewasmengsel te sit, kan die effek van nematodes onderdruk word.

Faktore wat ’n rol speel

Dit is belangrik om die regte spesies en kultivars te kies ten einde te verseker dat die verlangde resultaat gelewer word. Die volgende moet in ag geneem word by die seleksie van ’n dekgewas: doel, klimaat en grond.

Dekgewasse bied verskeie voordele en kan dus vir ’n verskeidenheid van redes, aldus die doel, geplant word. Hierdie doel kan een of meer van die volgende insluit: grondbedekking, biomassaproduksie, onkruidonderdrukking, addisionele bron van stikstof, erosievoorkoming, verbetering van biodiversiteit en/of grondstruktuur, vermeerdering van grondkoolstof, bioberoking en grondkompaksie verbetering. Dit is egter belangrik om eerstens die einddoel te bepaal en dan die spesie daarvolgens te kies, ten einde die gekose doel te bereik.

Tweedens moet die klimaat en area waar dekgewasse geplant word ook in ag geneem word, veral die vog- en temperatuurstatus tydens die plant- asook die groeiseisoen. Die Noord-Oostelike dele van Suid-Afrika is ’n somerreënval-streek met ’n hoër reënvalsyfer as die Suid-Westelike streke. So verskil temperature beduidend tussen die winter- en somermaande en is daar ook ’n verskil in die grondvogstatus as gevolg van die onderskeie reënvalseisoene.

Hierdie klimaatsverskille moet in ag geneem word aangesien die spesies in gepaste toestande geplant moet word ten einde suksesvol te groei. ’n Sekere spesie, byvoorbeeld, sal net in koue toestande ontkiem, terwyl ’n ander hitte benodig voor ontkieming kan plaasvind. Beide word egter vir dieselfde doel aangeplant.

Die derde aspek om in ag te neem is die tipe grond waarop dekgewasse geplant word. Grondfaktore soos grondtipe, pH, klei-, sand- en klipfraksie asook grondkoolstof het ’n invloed tot die spesies wat gekies word.

Peulplante, soos vroeër genoem, verhoog die stikstofvlakke in die grond deurdat daar Rhizobium-bakterieë op die wortels voorkom wat stikstof fikseer. Die grondkoolstof en sandfraksie het ’n groot invloed op hierdie mikrobiese aanhegting en werking, en die sukses van peulplante sal dus deur die grondfaktore beïnvloed word. So ook is die grondfaktore van toepassing op ander spesies.

Die regte bedekking, die regte metode

Agri Technovation bied nou die geleentheid aan produsente om hul grondgesondheid na die volgende vlak te neem deur die aanplant van dekgewasse. Met die nodige tegniese kennis kan plaas-spesifieke dekgewasmengsels gemaak word wat inpas by die spesifieke doel, klimaat, grond en praktyk van produsente. Daarbenewens verskaf Agri Technovation ook die diens om hierdie dekgewasmengsel te plant (Figuur 3A).

Hierdie diens word gelewer deur die gebruik van skottelplanters (“disc planters”) wat drie saadbakke het en verskeie voordele bied:

  1. Dit is moontlik om twee verskillende mengsels gelyktydig te plant, ’n werksry- en bankiemengsel, asook ’n derde bak waarmee kunsmis toegedien kan word.
  2. Die plantwydte van die planter kan gestel word om teen verskillende wydtes te plant.
  3. Die planter werk met lugvloei (“air seeder”) wat dit moontlik maak om steeds presies te plant alhoewel die sade se groottes verskil.
  4. Deur gebruik te maak van hierdie spesifieke planters (Figuur 3B) dra dit by tot die beginsel om grond minimaal te versteur deurdat dit in die grond en organiese materiaal insny, eerder as ploeg.