Laeveld
Agrochem

Geïntegreerde blaaspootjiebeheer in sitrusproduksie

A part of: , ,

Deur Ernst de Beer
Laeveld Agrochem

Blaaspootjie (Scirtothrips aurantii Faure) is waarskynlik die mees gevreesde plaag op sitrus in die meeste sitrus produserende dele van Suid-Afrika. Behalwe vir die feit dat sitrusblaaspootjie direk self baie skade aanrig, is daar ook indirekte skade wat plaasvind weens die gevolg van die toediening van sitrusblaaspootjie middels. Die meeste middels wat gebruik word om sitrusblaaspootjie te beheer het ʼn negatiewe effek op voordelige insekte in die boord ekosisteem wat dikwels voed op ander insek- en mytplae in die omgewing.

Blaaspootjies besit steek-suigende monddele wat die kenmerkende gerasperde-skaafagtige letsels op vrugte en nuwe groei veroorsaak.

Wanneer vind die meeste blaaspootjieskade plaas?

Vanaf 90% blomblaarval moet daar veral krities na sitrusblaaspootjie gemonitor word.

Vroeë blaaspootjieskade (rondom die stingelent) vind plaas in die periode 8 weke na blomblaarval. Tydens hierdie periode kan ʼn blaaspootjie populasie tot 100% skade aan ʼn sitrusoes veroorsaak in ʼn periode so kort as 7 tot 14 dae.

Hier is 4 sitrusblaaspootjies duidelik sigbaar, besig om te voed rondom die stingel-ent. Effense versilwering in die betrokke area dui op voedingletsels reeds aangerig. Op die foto hieronder is die blaaspootjieskade wat aangerig is tydens die periode 2 tot 6 weke na blomblaarval al verhard en duidelik sigbaar wat tipiese vroeë blaaspootjie skade uitbeeld. Vrugte met sulke skade, alhoewel slegs oppervlakkig en glad nie die interne kwaliteit van vrugte beïnvloed nie, is nie geskik vir die
uitvoermark nie.

Laat blaaspootjieskade vind plaas in die periode vanaf 8 tot 16 weke na blomblaarval. Hierdie tipe blaaspootjieskade neem langer om plaas te vind en ʼn hoër blaaspootjie plaagdruk is nodig om dit te veroorsaak. Skadesimptome is nie om die stingel-ent gekonsentreer nie, maar eerder op die wang en onderkant van vrugte in die vorm van kort krap merkies in verskeie rigtings. Hierdie tipe skade kan maklik met windskade verwar word.

Blaaspootjieskade op nuwe groei stuwings kan plaasvind vandat die jongste nuwe blaartjies ontvou. Hieronder is ʼn voorbeeld van gesonde, onbeskadigde nuwe groei.

Beskadigde nuwe groei se vermoë om optimaal te ontwikkel en uiteindelik maksimum blaar- oppervlakte te hê word deur sitrusblaaspootjie benadeel. Die foto hieronder is ʼn voorbeeld van beskadigde nuwe groei.

Benadering tot beheer

Suksesvolle beheer van sitrusblaaspootjie berus op die volgende steunpilare:

  1. Maak seker jy bevind jouself in ʼn goeie verhouding met kundige mense wat goeie en gereelde besoeke by boorde aflê om sitrusblaaspootjie bewegings te bespreek.
  2. Gebruik slegs plaagmiddels wat op die gewas, in hierdie geval, sitrus en ook die variëteit, soos byvoorbeeld suurlemoene, sagtesitrus of pomelo’s, geregistreer is.
  3. Gebruik elke middel volgens die produk etiket. Let veral op na die pH van die mengsel asook die verenigbaarheid met middels wat moontlik saam met die tenkmengsel toegedien gaan word.
  4. Swaarder toedienings volumes gee langer nawerking maar is potensieel meer skadelik ten opsigte van voordelige insekte – balanseer die benadering onder omstandighede.
  5. Gebruik middels wat in die spesifieke area nog bekend staan om effektief te wees en genoegsame werking bied. Soms moet ʼn kombinasie van middels gebruik word om die gewenste uitklopaksie en nawerking te verkry.
  6. ‘n Bekwame, passievolle en goed opgeleide span mense wat elke sitrusboord op elke produksie eenheid een tot twee keer per week deeglik kan verken.Daardeur moet ʼn blaaspootjie voorkoms opname gemaak kan word. Die blaaspootjie opname moet dan in persentasie infestasie uitgedruk word vir onvolwasse en volwasse sitrusblaaspootjies.
    Hierdie span mense moet onmiddellik en direk met plaasbestuur kommunikeer rakende alle blaaspootjie bewegings.
  1. Verkenning vir sitrusblaaspootjie moet plaasvind op alle nuwe groei wat blare, blommetjies en vruggies insluit. In die periode na blomblaarval moet kelkblaartjies versigtig verwyder word om seker te kan maak daar skuil nie sitrusblaaspootjie larwes onder die kelkblaar nie.
  2. Die besluitnemings proses met betrekking tot reaksie op grond van die verkennings proses moet so kort as moontlik wees, verkieslik nie langer as 6 ure nie.
  3. Die harmonisering van die sitrusblaaspootjie beheer program wat insluit ʼn sterk korrektiewe- en reaksie plan, in lyn met kriteria van uitvoer eindbestemmings, moet vasgestel wees voor blomtyd.
  4. Die aankoop en verkryging van geskikte blaaspootjie beheer middels moet vroegtydig in plek wees. Dit is wenslik om tydens die plaagbeheer program bespreking net na die seisoen nabetragting, reeds ʼn aankoop begroting deur te kommunikeer na u Laeveld Agrochem agent.
  5. Verseker dat alle plaagmiddel toediening toerusting gediens en gekalibreer is teen einde Julie. Herhaal die totale inspeksie en kalibrasie proses teen einde Oktober.
  6. Toedieningsvolumes moet elke week gekontroleerde word en in vergelyking met kalibrasie en toedienings instruksies geplaas word.
  7. Maak seker alle hervulpunte op elke plaas is in ʼn werkende toestand.
  8. Gaan alle skale en meet toerusting na en kyk dat die kalibrasie daarvan korrek is.
  9. Besoek elke boord en bepaal of die boomhoogte bereikbaar is met die spuit toerusting beskikbaar. Waak ook teen uitgetrapte spuitpaaie, veral in boorde met swaar gronde. Diep uitgetrapte spuitpaaie veroorsaak dat die reikhoogte bo-aan die bome verlaag word.
  10. Veral by nuwe plase moet seker gemaak word dat elke ry deur elke boord asook om elke boord gemaklik toeganklik is.
    Besproeiingskrane, oorhangende bome, gebarste pype, gate ens. kan dikwels vir jare lank mis-gekyk word wat veroorsaak dat spuit operateurs daardie rye en kante vermy en sodoende sitrusblaaspootjie herinfestasie vanuit onbehandelde areas bespoedig.
  11. Rig ‘n goedgekeurde windkous op in ʼn sentrale geskikte area sodat alle besluitnemers eenvormig toedienings aksies kan staak en weer kan aanvang na gelang van wind voorkoms.
  12. Vermy windlanings soos “Silver Oak”, (Grevilea robusta) wat ʼn goeie gasheer is vir sitrusblaaspootjie en skuiling bied vanwaar herinfestasie weer plaasvind.

Hier is ʼn foto van duidelike tekens van sitrusblaaspootjie infestasie op “Silver Oak” sade teenaan ʼn suurlemoenboord. “Silver Oak” bome as gasheer vir sitrusblaaspootjie speel ʼn kritieke rol tydens die laaste 2 weke van
November en die eerste 2 weke van Desember.

  1. Let op na die lewenssiklus van sitrusblaaspootjie. Die eerste en tweede stadium larwes voed die mees aktiefste en rig die meeste skade aan, daarom is verkenning vir die larf stadium so kritiek. Tydens die periode 8 weke na blomblaarval moet korrektiewe bespuitings plaasvind wanneer die infestasie vlakke 1% larwes oorskry op vruggies. Vanaf die periode 8 weke na blomblaarval tot 16 weke, kan op ʼn aksie drempelwaarde van 3 tot 8% gewerk word. Drempelwaardes is baie relatief tot die omgewing, die vermoë om op te tree, kultivar eienskappe ensovoorts.
  1. Dit is baie belangrik om vry te wees van sitrusblaaspootjie tydens die periode 8 weke na blomblaarval. Indien dit nie gehaal word nie, kan die res van die seisoen baie moeilik wees en sitrusblaaspootjie kan dan selde daarna vir die res van die seisoen onder beheer gebring word.
  2. Kultivars wat groot kelkblare het, en waarvan die kelkblare vinnig sluit om die vruggie kort na blomblaarval, is baie meer aantreklik en sensitief vir sitrusblaaspootjie teenoor kultivars wat kleiner kelkblare het en selfs nooit sluit nie. Kelkblare bied skuiling vir sitrusblaaspootjie. Voorbeelde van gevoelige variëteite is alle suurlemoene, nawels en valencias. Minder gevoelige variëteite is sagtesitrus, soos veral ‘Clementines’ kultivars, Mandaryn-tipes ensovoorts.
  3. Verder speel sekere roofmytspesies ʼn belangrike rol in die natuurlike beheer van sitrusblaaspootjie. Alle verbouingspraktyke moet so vêr as moontlik roofmyt populasies fasiliteer om hierdie hoeksteen van biologiese blaaspootjie beheer beter te benut. Veral in die periode 4 weke voor oes tot voor blom van die volgende seisoen is natuurlike beheer belangrik. Beperk stof vanaf paaie, gebruik middels wat minder skadelik is teenoor roofmyte in die plaagbeheer program en verhoog plante biodiversiteit in die boord  en omgewing.
  4. Wees ekstra paraat wanneer wingerd langsaan sitrus verbou word. Sitrusblaaspootjie is skadelik op beide gewasse en oorkruis infestasie en chemiese weerstand onwikkeling vind plaas deur die jaar.

Lees meer oor sitrus (https://laeveld.co.za/sitrus)

Northern Cape
Western Cape
Eastern Cape
Free State
Gauteng
North-West
Mpumalanga
Limpopo

More than 100 agents
across South Africa

Laeveld Agrochem’s agents (franchisees) are qualified agronomists accredited by CropLife South Africa (formerly AVCASA).

In each region, agents receive support from experienced Business Managers, enabling detailed recommendations for both corrective and proactive measures on the farm.

Operating as a franchise business model, our dedicated team can assist growers with detailed recommendations to optimise yield per hectare.

Through strategic collaboration with our technology partner, Agri Technovation, we offer innovative solutions such as MyFarmWeb™ and Picklogger™, tailored to meet the evolving needs of modern agriculture.

GROEI tydskrif

Seisoen 8

[language-switcher]
We use cookies to improve your experience. By continuing to visit this website you agree to our use of cookies. Learn more.