Hoe jou avokadoboord kan baatvind by koolhidraatontledings (Agri Technovation)

Nici de Beer

Dr Elmi Lötze, Hoof van ITEST™CARBOHYDRATES en
ITEST™LEAF en Wilmé Brown, Plantfisioloog (Koolhidrate)

Koolhidrate as fisiologiese indikator van plantstatus

Die gebruik van koolhidraatontledings om plantprestasie te bestudeer is ’n gevestigde praktyk in die navorsingsomgewing (Wolstenholm, 1987; Whiley et al., 1988; Davie et al., 1995). Die keuse van die mees gepaste weefsels/ organe vir koolhidraatinligting, asook die dinamika van die suiker:stysel-verhouding gedurende die seisoen en die effek daarvan op plantfisiologie en bestuurspraktyke, is deur menige gepubliseerde artikels nagevors.

Met Agri Technovation se ITEST™CARBOHYDRATES-diens word dít wat die wetenskap tot dusver verklaar het, toegepas vir oplossings op plaasvlak. Met hierdie diens integreer ons bestaande inligting om bestuurspraktyke op boordvlak aan te pas, kwantifiseer ons die resultate daarvan deur middel van ’n koolhidraatindeks (“CI”) en dui ons die toekoms-verwagting vir spesifieke gewasse aan met behulp van ’n fisiologiese indikator (die CI).

Bewese verwantskappe tussen koolhidraatstatus en plantprestasie

Wolstenholme (1987) en Whiley et al. (1988) het reeds aangedui dat ’n lae koolhidraatstatus in die avokadoplant direk verantwoordelik is vir swak vrugset, stadige vroeë vruggroei en vrugval.

By avokado’s word koolhidrate hoofsaaklik in die blare vervaardig en in die lente, vanaf ongeveer 25 dae na knopbreek, begin die nuwe blare bydra tot die plant se koolhidraat-reserwes (Lui et al., 1999). Alvorens dan is die groei van nuwe blare afhanklik van die koolhidraatreserwes in ouer blare, lote, die stam en wortels.

Fotosintese

Fotosintese, aldus die vervaardiging en beskikbaarheid van koolhidrate vir plantprestasie, word deur verskeie faktore bepaal. In die beskrywing hier onder word die fokus veral op twee faktore geplaas naamlik klimaat en kultivar. Die seisoenale koolhidraattendens in ’n plantorgaan volg ’n redelike standaard patroon, maar individuele waardes verskil tussen kultivars, klimaatsones, oeslandings en dies meer.

’n Algemene tendens, dié van lae middel-somer en hoë laat-winter koolhidrate, is in die koel, droë binneland van Suidoos-Australië waargeneem en in verband gebring met alternerende drag. Hoë koolhidraatvlakke in stoororgane (byvoorbeeld die stam, lote en wortels) het gelei tot ’n sogenaamde aan-jaar en lae vlakke, tot ’n af-jaar. Hierdie waarneming het gelei tot belangstelling in die ontwikkeling van ’n koolhidraatindeks wat gebruik kon word om oeslading te voorspel.

Goeie resultate is behaal met voorspellings vir die Hass en Fuerte kultivars in koeler streke, tipies met ’n Mediterreense klimaat. Hierdie resultate sal ook van toepassing wees op ander avokado-tipes. Voorspellings was egter minder akkuraat in warmer areas, welke resultaat die impak van addisionele faktore soos blomvorming en die rol van voeding en gesonde wortelontwikkeling op voorspellings uitgewys het. Die Hass-oeslading is in verband gebring met stamstysels en lootstysels tydens blom. Daar is later ook melding gemaak van die sogenaamde Whiley Feno-Fisiologiese model, maar hierdie modelle is nie verder ontwikkel nie.

In die subtrope (meer humiede omstandighede en bewolkte dae) word daar vir koolhidraat-produksie eerder gefokus op die optimalisering van fotosintese van die huidige blaardak, asook die optimale bestuur van ligverspreiding binne-in die bome. Die Fuerte kultivar byvoorbeeld, is minder afhanklik van koolhidraatreserwes vir die handhawing van ’n oeslading as die Hass, maar is meer afhanklik van die huidige seisoen se blaarkoolhidrate in die subtrope (Schölefeld et al., 1985).

Om hierdie rede is dit belangrik dat koolhidraatresultate van avokado-variëteite altyd binne die toepaslike konteks geïnterpreteer moet word en dat gelet moet word op genetiese verskille in sekere omstandighede, al is die inligting op al die variëteite van toepassing. In beide voorbeelde genoem is die teenwoordigheid van gesonde, aktiewe blare dus van uiterste belang en speel minerale plantvoeding, pes en plaagbeheer, besproeiing en die bestuur van lig binne-in die boom ’n kritiese rol.

Onderstamme

Die onderstam van avokado’s speel ook ’n groot rol in die opbou van koolhidrate in die onderskeie plantorgane (Whiley et al., 1996). Die koolhidraatindeks kan dus verskil tussen verskillende kultivars onder dieselfde verbouingspraktyke, as gevolg van verskillende onderstamme.

Koolhidrate en vruggroei

Verder bestaan daar ’n noue verwantskap tussen koolhidrate en blomknop-inisiasie, vrugset, vrugval en vrugkwaliteit (Davie et al., 1995; Van Vuuren et al., 1997). Lae koolhidraatreserwes tydens vrugset en -ontwikkeling lei tot verhoogde vrugval (Davie et al., 1995).

Lae koolhidraatreserwes na oes lei tot lae blominisiasie asook swak blom en vrugset die daaropvolgende jaar. Hierdie uitdagings kan tipies met bestuurspraktyke aangespreek word voor die aanvang van die volgende seisoen, mits die koolhidraatstatus van die boom/orgaan beskikbaar is. By avokadobome is daar veral gedurende die eerste 42 dae na knopbreek strawwe kompetisie tussen vegetatiewe en reproduktiewe groei waar hierdie organe meeding om die beskikbare koolhidrate in die plant. ’n Goeie koolhidraatstatus onder normale omstandighede sal vrugval beduidend verminder.

Bestuurspraktyke vir avokadobome met lae koolhidraatstatus

Bestuursaksies beïnvloed die koolhidraatstatus van die boom en daar is verskeie praktyke wat toegepas kan word ten einde vroegtydig op onvoldoende koolhidraatvlakke te reageer.

Minerale voedingstowwe

Eerstens word die voedingstatus van die blare bepaal, aangesien dit ’n direkte en/of indirekte invloed het op fotosintese en die translokasie van suikers in die boom. Verwantskappe tussen die minerale elemente wat vir die vervoer van suikers verantwoordelik is, en die boom se koolhidraat-status (suiker-status), word bepaal ten einde die nodige tekorte aan te dui, wat dan met doelgerigte blaarspuite reggestel word. Die blare moet ook deurentyd visueel gemoniteer word om seker te maak dat voldoende gesonde blare teenwoordig is vir die optimale produksie van suiker tydens fotosintese.

Waar die vervaardiging en/of verspreiding van suiker in ’n plant (met ander woorde die lae koolhidraatstatus) nie deur tekorte in minerale voedingstowwe veroorsaak word nie, kan ander bestuurspraktyke toegepas word om die lae koolhidraatstatus aan te spreek.

Ringelering

Alhoewel ringelering nie ’n praktyk is wat gereeld by avokado’s gebruik word nie, kan die gebruik daarvan wel die translokasie van koolhidrate na die wortels op ’n spesifieke tyd afsny of onderbreek, wat tot ’n verhoging in koolhidraatvlakke bokant die ringeleringswond sal lei. Ringelering kan dus gebruik word om voldoende suiker- en styselvlakke tydens ’n energie-intensiewe periode soos blom te verseker, ten einde vrugset te verhoog.

ITEST™CARBOHYDRATES bepaal ook die koolhidraatvlakke in plantwortels, waar lae vlakke kan dui op verhoogte vatbaarheid vir sekondêre infeksies. Wortelinfeksies put die boomwortels se koolhidraatreserwes uit en, indien hierdie uitputting sou oorvleuel met ’n hoë oeslading, kan dit lei tot die terugsterwing en verswakking van bome. Bome met lae koolhidraatvlakke in die wortels moet dus nie oorweeg word vir ringelering nie, aangesien ringelering die koolhidraatstatus van die wortels verder sal verlaag, wat uiteindelik ook die bogrondse groei sal benadeel.

Verlengde hangtyd en oesbeplanning

Avokado’s kan nog vir ’n geruime tyd aan die boom hang nadat dit fisiologiese rypheid bereik het. Hierdie voordeel word geredelik deur produsente benut vir doeleindes van bemarking en om ’n behoefte in die mark te skep. Die vrugte gebruik egter steeds koolhidrate uit omliggende weefsels aangesien seldeling en respirasie (vruggroei) voortgaan. Hierdie addisionele tyd aan die boom lei dus gewoonlik tot ’n lae koolhidraatstatus in die boom en kan alternerende drag in die daaropvolgende seisoen tot gevolg hê. Ten einde hierdie risiko te verhoed, kan ’n koolhidraatmonster vooraf geneem en ontleed word wat die blokke sal uitwys waar die suiker:stysel-vlakke reeds laer is.

Avokadovrugte in hierdie blokke moet dan verkieslik nie vir ’n verlengde tyd hang nie.Die blokke kan eerste geoes word om so die ingrypende alternerende dragspatroon betyds teë te werk. Koolhidraatontledings in die blokke wat laat hang kan verder aandui tot watter mate regstellings gedoen moet word en/of hoe suksesvol die regstellings was om die koolhidraatstatus van die boom aan te spreek.

Koolhidraatmonsters word tydens spesifieke fisiologiese stadia (kritiese aksietye) gedurende die seisoen geneem om betyds die behoefte aan te dui en die nodige regstellings te kan maak. Die onderskeie stadia en dienooreenkomstige gebruik van die CI word hieronder uiteengesit.

Koolhidraatontledings bied dus verskeie voordele aan die produsent. Ontledings gedoen tydens al bogenoemde stadia verskaf eerstens ’n histories-fisiologiese perspektief op omgewingstoestande en boordpraktyke tot en met monsterneming.

Daarbenewens kan die ontledingsdata benut word om tydige bestuursaksies te beplan ten einde ’n lae koolhidraatstatus betyds aan te spreek. Laastens kan die koolhidraatindeks by sekere gewasse gebruik word om oesladings te voorspel.

Met al hierdie voordele verpak in een instrument, behoort ITEST™CARBOHYDRATES-ontledings beslis deel te vorm van ’n produsent se besluitnemingsproses

Verwysings:

  1. Liu, X., Hofshi, R. and Arpaia, M.L., 1999. ‘Hass’ avocado leaf growth, abscission, carbon production and fruit set. In: L. Arpaia and R. Hofshi (eds.), Proceedings of Avocado Brainstorming. Session 3. Canopy Management. Pages 52-55. October 27-28, 1999. Riverside, CA. Hofshi Foundation. http://www.avocadosource.com.
  2. Scholefield, P. B., Sedgley, M. and Alexander, D. McE., 1985. Carbohydrate cycling in relation to shoot growth, floral initiation and development and yield in the avocado. Scientia Hort, 25, 99 – 100.
  3. Whiley, A.W., Saranah, J.B. and Rasmussen, T.S., 1996. The relationship between carbohydrate levels and productivity in the avocado and impact of management practices, particularly time of HAL final report.
  4. Wolstenholme, B.N. 1987. Root: shoot: fruit interactions as factors affecting recovery of avocado trees treated with phosphorous In: The Phosphorous Acid Story. Queensland D.P.I. RON 87001, pp. 12 – 2.
  5. Whiley, W., Saranah, J. B., Cull, B.W. and Pegg, K. G., 1988. Manage avocado tree growth cycles for productivity gains. Queensland Agric J, 114, 29 – 36.
  6. Davie, J. van der Walt, M. and Stassen, P.J.C., 1995. A study of avocado tree carbohydrate cycles to determine ways of modifying alternate bearing. proceedings of The World Avocado Congress III, 1995 80-83.
  7. Janse van Vuuren, B. P. H., Stassen, P.J.C. and Davie, S.J., 1997. South African Avocado Growers’ Association Yearbook 20:59-62 Sink Demand for Starch Reserves in Avocado Trees.