Laeveld
Agrochem

Koolhidraatontledings op tafeldruiwe (Agri Technovation)

A part of: ,

Deur Wilmé Brown
Plantfisioloog: Koolhidrate

agritechnovation-small

ITEST CARBOHYDRATES™ vir tafeldruiwe Die rol en invloed van koolhidrate in tafeldruiwe word al vir jare ondersoek, maar in 2022 word Agri Technovation se ITEST CARBOHYDRATES™-diens (wat reeds vir verskeie ander gewasse gedoen word) wêreldwyd, ook vir kommersiële tafeldruifmonsters uitgerol.

Tafeldruiwe se blaar-, wortel- en lootmonsters word tydens kritiese groeistadiums geneem. Koolhidraatkomponente word dan gemeet om die stok se energiestatus te bepaal en te monitor en sodoende die vegetatiewe en reproduktiewe ontwikkeling daarvolgens te bestuur, welke effektiewe bestuur vir die produsent meer geld in die sak bring.

Die wingerdstok is ’n bladwisselende gewas en stoor koolhidrate in twee hoofvorme naamlik suiker en stysel. Suiker, die onmiddellik beskikbare koolhidraatvorm, kan deur die blaar verbruik of getranslokeer word na ontwikkelende organe.

Stysel is die vorm waarin surplus-koolhidrate vir langer periodes in die plant gestoor word. Stysel is beskikbaar as reserwe suikerbron tydens energie-intensiewe periodes soos vegetatiewe groei, blom, vruggroei en vrugrypwording. Koolhidrate dien dus as die kritiese energiebron waarsonder geen plant kan funksioneer nie.

Bron en sink

Fotosinterende wingerdblare dien as koolhidraatbron wat energie verskaf aan nie-fotosinterende organe, die sogenaamde koohidraatsinke. Sinke sluit in dormante knoppe, blomtrosse, korrels en wortels. Ontwikkelende trosse is die sterkste sinke met ’n hoë vraag na koolhidrate aangesien dit suikers vinnig metaboliseer.

Daarom put stokke met hoë oesladings hul koolhidraatreserwes die vinnigste uit. Uitputting van reserwes mag nadelige gevolge inhou soos vertraagde bot en blom in die opvolgende seisoen.

Koolhidraatallokasie per fisiologiese stadium

Koolhidraatvlakke wissel deur die seisoen aangesien verskillende fisiologiese prosesse verskillende vlakke (hoeveelhede) van koolhidrate verbruik en produseer.

Bot

Tydens bot word gestoorde koolhidrate vanaf die wortels getranslokeer na bogrondse plantorgane. Op hierdie stadium is die botsels afhanklik alleenlik van gestoorde koolhidrate in die permanente strukture van die stok, tot die stadium waar die blare volwasse en dus netto produseerders van fotosintaat is. Die translokasie van wortelkoolhidrate na die lote sal aanhou tot blom wanneer die blare minstens 50% van hul volwasse grootte bereik het.

Wortelkoolhidrate bereik dus ook ’n laagtepunt met blom.

Goeie na-oesbemesting en bestuurspraktyke kan bydra tot die opbou van voldoende koolhidrate in wortels gedurende die na-oes tydperk, wat sal bydra tot knopbreuk en blompotensiaal.

Blom en set

Koolhidraatvlakke beïnvloed knopbreuk en dus blomegaligheid, asook blomkwaliteit. Ontwikkelende blomme benodig ook suikers vir vrugset en seldeling.

Hoë vlakke van koolhidrate in die wortels asook van dié geproduseer in die eerste volwasse blare, dra by tot goeie vrugset. Behalwe vir ’n wanbalans in koolhidraatvlakke, kan ander faktore wat fotosintese beïnvloed soos koel of bewolkte weer, peste en plae, of watertekorte, ook ’n verlaging in die beskikbare koolhidrate veroorsaak.

Deurslaan

Die vinnige en effektiewe akkumulasie van suikers in korrels tydens deurslaan is afhanklik van die translokasie van suikers vanaf fotosinterende blare en permanente strukture.

Hierdie beweging van suikers na ontwikkelende korrels word gefasiliteer deur verskillende elemente. Die stadige en onegalige rypwording van korrels is ’n aanduiding van koolhidraattekorte in die stok gedurende die seisoen.

Na-oes

Styselreserwes bereik hul hoogste vlakke in bogrondse plantorgane teen die einde van die seisoen, wanneer die trosse verwyder word. Daarna word koolhidrate getranslokeer na wortels en ander permanente strukture, waar dit in die vorm van stysel gestoor word.

Na-oesbemesting dra daartoe by om volhoubare langtermynkoolhidraatvlakke te handhaaf. Die teenwoordigheid van gesonde blare gedurende die na-oesperiode is dus noodsaaklik vir die produksie van reserwes, voordat die blare afsnoer en die stok dormansie betree.

Alhoewel opbrengste ’n goeie riglyn is om na-oesaanvullings te bepaal, is vrugte nie die enigste sink wat vir hierdie bepaling in berekening gebring moet word nie. Deur koolhidrate in die na-oestydperk te meet kan ’n baie goeie indikasie verkry word van die volgende seisoen se potensiaal.

Agri Technovation werk reeds met sleutelprodusente, -agente, en -tegnici waar praktyke ontwikkel is om koolhidrate te manipuleer sodat die beste uit die wingerdstok verkry word.

Met die ITEST CARBOHYDRATES™-diens kan kommersiële koolhidraatmonsters deurlopend en akkuraat gemeet word en fyn verstellings in voeding en manipulasie daarvolgens gemaak word.

Verwysings

  1. Smith, J. 2014. Post-harvest care of grapevines: Irrigation and nutrition.
  2. Hunter, D., J. Proctor. 1994. Paclobutrazol reduces photosynthetic carbon dioxide uptake rate in grapevines.
  3. J. Amer. Soc. Hort. Sci. 119(3):486-491.
  4. Zufferey, V., F. Murisier, P. Vivin, S. Belcher. 2012. Carbohydrate reserves in grapevine (Vitis vinifera L. ‘Chasselas’): The influence of the leaf to fruit ratio. Vitis- Geilweilerhof. 51(3): 103-110
  5. Zufferey, V., F. Murisier, S. Belcher, F. Lorenzini, P. Vivin, J.L. Spring, and O. Viret. 2015. Nitrogen and carbohydrate reserves in the grapevine (Vitis vinifera L. ‘Chasselas’): the influence of the leaf to fruit ratio. Vitis 54, 183-188.
Northern Cape
Western Cape
Eastern Cape
Free State
Gauteng
North-West
Mpumalanga
Limpopo

More than 100 agents
across South Africa

Laeveld Agrochem’s agents (franchisees) are qualified agronomists accredited by CropLife South Africa (formerly AVCASA).

In each region, agents receive support from experienced Business Managers, enabling detailed recommendations for both corrective and proactive measures on the farm.

Operating as a franchise business model, our dedicated team can assist growers with detailed recommendations to optimise yield per hectare.

Through strategic collaboration with our technology partner, Agri Technovation, we offer innovative solutions such as MyFarmWeb™ and Picklogger™, tailored to meet the evolving needs of modern agriculture.

GROEI tydskrif

Seisoen 8

[language-switcher]
We use cookies to improve your experience. By continuing to visit this website you agree to our use of cookies. Learn more.