Makadamia stresbestuur

Chantal Forssman
agritechnovation-logo

Deur Marne de Vries
Hoof van Verkope: Kusgebiede / Hoofhortoloog Vrugte & Neute
Agri Technovation

Wat veroorsaak stres in bome?

Makadamias se oorspronklike natuurlike habitat is die suidelike kuslyn van Australië (sub-tropiese woud), waar die bome slegs groei tot klein of tot medium grootte. Die bome het ’n vlak wortelstelsel en kan voedingstowwe slegs in die boonste paar sentimeter van die grond en in die kompos blaar-rommel op die bosvloer opneem. Die bosvloer is ’n produksie omgewing hoog in koolstof en organiese materiaal.

In meeste kommersiële produksie areas is die boom van hierdie veilige hawe verwyder en blootgestel aan ʼn volle sonskyn omgewing, met die verwagting dat die boom sal presteer ongeag die feit dat dit in grondtoestande geplant is wat laag in koolstof en organiese materiaal is. Die gevolg hiervan is dat makadamiabome vanweë hul habitat, in meeste kommersiële aanplantings outomaties in ʼn toestand van stres is.

Gevolge van makadamia stres

Vanweë hierdie stres-toestand, het die bome ook nie ʼn goeie neutset persentasie nie. Die volgende voorbeeld illustreer dit: indien aanvaar word dat ’n volwasse boom gemiddeld 150 blomme per tros (blompakkie) produseer met 50 trosse per tak vanaf 50 takke, dan is die totale aantal blomme 375 000 per boom. Ongelukkig sal nie al hierdie blomme vrugte dra nie en van dié wat vrugte dra, sal 50 tot 80% verlore gaan deur vroeër vrugval.

Daar word gemiddeld slegs een volwasse neut per tros geoes. Toegepas op bogenoemde voorbeeld waar daar 2 500 trosse was, sal slegs 2 500 neute geoes word met ’n gemiddeld van 125 neute per kilogram, wat ongeveer 20 kg DIS (Drynut In Shell) neute per boom beloop. Dit is ongeveer 0,5% van die 375 000 blomme wat oorspronklik geproduseer is.

So die vraag wat beantwoord moet word, is hoe makadamiabome gehelp kan word om beter op die stresvolle omstandighede te reageer om sodoende ʼn beter neutset (en opbrengs) te kry?

Van die omgewingsfaktore wat makadamia produksie beïnvloed: water, voedingstowwe, sonlig en CO2. Ryp, hael en voedingstowwe kan direk bestuur word terwyl sonlig en CO2 opname indirek gemanipuleer word om omstandighede wat stres veroorsaak te help verminder. Boere moet seker maak dat die bestuurbare omgewingsfaktore ten alle tye reg bestuur word, aangesien elke boom daagliks fisies kompenseer vir die volgende stresfaktore:

1. Te min water of te veel water
2. Hitte en koue
3. Fisiese skade veroorsaak deur faktore soos hael en wind
4. Insekskade
5. Wortel- en blaar siektes, en
6. Te hoë oeslading.

Wat kan gedoen word om stres te verminder op bestaande boorde?

Water stres
Die eerste prioriteit vir enige besproeiingsisteem is om stres wat deur te veel of te min water vir die boom veroorsaak word, effektief te bestuur en so ver as moontlik te vermy. Hierdie prioriteit is veral belangrik vir makadamiabome vanaf vroeë neut-ontwikkeling tot volwassenheid, aangesien hierdie die olie-akkumulasie fase van die boom is waartydens die neute (met verwysing na opbrengs en kwaliteit) mees sensitief vir stres is. Stresfaktore wat tydens neutval in November voorkom het die grootste invloed op opbrengs.

Die totale opbrengs van bome tussen die ouderdom van 8 tot 12 jaar wat tydens neutval in ʼn toestand van stres was, was ongeveer die helfte van die opbrengs van bome wat nie tydens hierdie periode stres ervaar het nie. Hierdie verskil in opbrengs is selfs groter tussen besproeide blokke en droëland blokke waargeneem. Makadamiabome wat tydens blom-ontwikkeling in Julie / Augustus stres ervaar, asook bome wat stres ervaar aan die begin van rypwording in Desember, toon ’n groot afname in opbrengs.

Daar is gedurende meeste seisoene waargeneem dat stres wat tydens neut-rypwording deur die boom ervaar is, die mees negatiewe impak op die Total Kernel Recovery (TKR) persentasie van die korrel gehad het, waar TKR 21,5% minder is op bome wat tydens neut-rypwording in stres was, vergeleke met die 32% TKR vir bome wat nie stres toestande gehad het nie. Dit het ook geblyk dat stres wat bome tydens blom-inisiasie ervaar het, minder impak op opbrengs gehad het as stres wat die boom tydens ander fases ervaar het. Dit is dus duidelik dat makadamia-bome se besproeiing skedulering optimaal moet geskied vanaf die verskyning van blomknoppe in Julie / Augustus tot en met einde Maart, ten einde boomstres gedurende die kritieke fases te vermy, asook om die volle voordeel te trek uit die besproeiingsisteem. Indien daar ’n tekort aan water is, moet besproeiingswater uiters spaarsamig of, indien moontlik, glad nie gedurende die koeler maande van April tot Junie gebruik word nie. Die reënwater wat gedurende die nat seisoen tot einde Maart in die opgaardamme versamel is, kan dan eerder benut word vir besproeiing tydens die latere kritieke fases van die makadamiabome.

Klimaat data
Produsente kan nie die klimaat, reënval, temperatuur, wind ens. beheer nie, maar kan wel die effek en invloed van die negatiewe weerstoestande op die makadamiabome bestuur en minimaliseer. Daar is geskiedkundigedata en programme beskikbaar wat kan help met waarskuwings van hittegolwe, koue fronte, droogtes, hoë reën verwagtings ens. Met die beskikbaarheid van hierdie data kan beter besluite gemaak word rakende die effektiewe of mees optimale bestuur van die faktore wat stres vir die bome veroorsaak, ten einde opbrengs te optimaliseer.

Bemesting
Bemesting en die toediening daarvan moet op grond en blaarontledings gebaseer wees. Dit is belangrik om die bemestingsprogram aan te pas by die strestoestande wat voorkom. Dit is veral ook belangrik om die negatiewe impak van stresfaktore op fisiologiese prosesse in die plant effektief te bestuur deur middle van die toediening van voedingstowwe.

Hierdie prosesse sluit in blom-inisiëring, blomdiferensiëring, blom-bestuiwing, bevrugting, set en inisiale groei. Omdat stres wat veroorsaak word deur ʼn gebrek aan hierdie voedingstowwe primêr nuwe groei beperk, is dit beter om voedingstowwe op die blare van die bome toe te dien. Opname deur die wortelsisteem is beperkend tydens die koue periodes wanneer makadamiabome in die blom fase is. Blaar bespuitings plaas die stimulante en voedingstowwe direk op die plant en blom om sodoende effektiewe opname te verseker. Met hierdie direkte toediening kan makadamia boere die November val wat in Oktober geïnisieer word, probeer beperk. Deur voedingstowwe (veral die mikroelemente sink, yster, koper en mangaan) optimaal toe te dien sal neutset en die kwaliteit van die neute verhoog. Na-oes bemesting speel ook ʼn kritiese rol om te verseker dat die boom genoeg energie/koolhidrate het vir die volgende seisoen.

Bestuur stres beter met koolhidrate en energie
Die resultaat van fotosintese is koolhidrate totale koolhidrate (suikers en stysel). Koolhidrate vorm deel van die boom se energie siklus en word as stysel en suikers in die plant gestoor. Die primêre stoor orgaan vir al die stysel en suikers is die chloroplaste in groen blare. Die orgaan word dan ook gebruik om energie aan die plant te verskaf. ʼn Belangrike element in die energie proses van ʼn plant is fosfaat (ADP, ATP, NADP). Na blom en set word die stysel omgesit in koolhidrate en dit word dan na die neute vervoer waar dit hoofsaaklik as olie gestoor word.

Neutbome is waarskynlik die bome met die hoogste hoeveelheid gestoorde energie in die planteryk. Uiteraard is dit dus ook die gewas met die hoogste fotosintese afhanklikheid en voedingsbehoeftes. Makadamiabome versamel en stoor koolhidrate in die herfs en winter. Gedurende die lente gebruik die boom van die gestoorde koolhidrate omdat daar onvoldoende produksie van koolhidrate deur fotosintese gedurende hierdie tydperk is. Gedurende lente word hoë hoeveelhede koolhidrate gebruik vir neutgroei en die vervaardiging van olie. Neute wat besig is om te ontwikkel is sterk sink vir koolhidrate en voedingstowwe omdat daar ’n groot vraag is na energie, aangesien makadamia neute 72% of meer uit olie bestaan. Om die hoë vraag na energie te voorsien benodig die boom voldoende reserwes. Onvoldoende reserwes sal lei tot ’n afname in neut-kwaliteit en opbrengs. Die akkumulasie van koolhidrate gedurende die herfs en winter is dus belangrik om die reserwes genoegsaam aan te vul. Die koolhidraat reserwes is belangrik vir die groei en ontwikkeling van die neute en vir die oeslading van die boom.

Oeslading
Makadamiabome kan negatief beïnvloed word as die oeslading te hoog is op die boom en die boom nie genoeg reserwes het nie of te min voedingstowwe inkry. Oesladingstres kan veroorsaak word deur ongewoon gunstige natuurlike oorsake (klimaat, temperatuur en reën), blaar verliese deur spuit brand, insekte peste druk, wind skade en alternatiewe drag patroon. Hierdie omstandighede veroorsaak dat die boom te veel neute ontwikkel en dan nie genoeg voedingstowwe het om die oes deur te sien nie. Hierdie situasie lei tot die ontwikkeling van klein neute, swak kwaliteit neute, neute met swak olie inhoud, neute met swak uitkraak persentasies en oorbodige neutval.

Die oplossing vir die swaar oesladingstres is om seker te maak dat die boom genoeg voedingstowwe het, deur genoegsame blaarspuite en grondvoeding toe te dien. Die blaarspuite en grondtoedienings moet makro- en mikro elemente, groei hormone, anti-oksidante, metaboliete, wortel stimulante en grond gesondheidmiddels bevat.
As ons al die geskiedkundige data van die plaas en die resultate van die nuutste grond en blaar monsters kombineer en analiseer, kan die boord effektief bestuur of indien nodig, gemanipuleer word.

Byvoorbeeld:
• As daar min maar groot neute is, moet die boom gevoed word vóór blom en weer sterk gevoed word net na blom.
• As daar te veel klein neute is, moet die boom eers sterk gevoed word na set of in ekstreme gevalle eers na November val.
• As alternatiewe drag gereeld voorkom die boom gevoed word nadat die oes af is, wat beteken dat ʼn groot na-oes bemesting gegee moet word.

Anti-oksidant sisteem
Die verhoogde produksie van giftige suurstof byprodukte (oksidering) word universeel in die algemeen beskou as ʼn omstandigheid wat stres by bome veroorsaak. Plante het ’n wye verskeidenheid meganismes ontwikkel om met hierdie uitdaging saam te leef. Die anti-oksidant verdedigingstelsel van ʼn plant bestaan uit ’n verskeidenheid anti-oksidant molekules en ensieme.

Die anti-oksidant sisteem in makadamiabome word gedryf deur vier katioon mikro-elemente naamlik yster (Fe), sink (Zn), mangaan (Mn) en koper (Cu). Die toediening van hierdie mikroelemente op die regte tyd, sal die makadamiabome se anti-oksidante verdedigingstelsel versterk, wat tot gevolg sal hê dat die boom meer bestand teen oksidering sal wees.

Gevolgtrekking

Daar sal altyd ʼn meerdere of mindere mate van stres in Makadamia boorde teenwoordig wees. Die omstandighede wat stres in die bome veroorsaak en/of die impak wat hierdie stresfaktore op die bome het, kan egter effektief bestuur of gemanipuleer word ten einde gesonder bome en derhalwe ʼn beter opbrengs te verseker. Daar is verskeie faktore wat in ag geneem moet word en dit is dus belangrik om die aard, siklus/fases en behoeftes van die Makadamia boom baie goed te verstaan en te bestuur. Hierdie insigte, gekombineer met die versameling en beskikbaarheid van betroubare data maak dit moontlik vir die boer om vooruitbeplanning te doen ten einde die negatiewe impak van die boomstres te verminder. In hierdie opsig kan jou Laeveld Agrochem agent en Agri Technovation Landboukundige van groot hulp wees om die probleme wat stres in Makadamia bome veroorsaak vroegtydig aan te spreek.

Saam boer ons vooruit deur opbrengste te verhoog, gesonder bome te hê en ander uitdagings soos alternerende drag te verminder.