Deur Nico Claassens
Besigheidsontwikkelingsbestuurder
Laeveld Agrochem
José Cortes Gonzalés van Mexiko het oor 20 jaar die snoeitegniek op veral avokado’s ontwikkel en geformuleer, en dit in 2018 met ons kom deel, met die komplimente van Cosmocel. Die metodiek agter die snoeitegniek is die belangrikste om toe te pas, eerder as die presiese vorm van die boom. By veral ou bome is dit soms moeilik om by die voorgestelde drie strukturele takke uit te kom. Improvisasie is dan nodig om die gewenste uitwerking te kry.
Die belangrikste les wat José ons kom leer het, is om geduldig te wees met snoei en nie strawwe onoordeelkundige snitte te doen nie. Die doel van snoei is om produktiwiteit te verhoog deur ’n nuwe doeltreffende boom te skep met die selektiewe verwydering van ongewenste takke. In ’n boord en boom is die hoofdoel dat elke boom en elke strukturele tak sy eie lig en spasie moet hê.
Die noodsaaklike elemente vir optimale plantfunksies is water (H2O), suurstof (O), koolstofdioksied (CO3), minerale-elemente (N, P, K, Ca, Mg ens.), koolhidrate en sonlig. Sonder sonlig vind fotosintese nie plaas nie en kan koolhidrate, wat die hoofbron van energie in plante is, nie gevorm word nie. Sonlig behoort ook gemeet te word, net soos water en voedingstowwe in plante gemeet word. Wanneer die ligintensiteit in die middel van die boom se blaardak minder as 60μmol/m²/sec is, begin dit die vorming van chlorofil belemmer.
Dit veroorsaak die terugsterwing van takke en die kenmerkende eierdop-effek, wat voorkom wanneer al die dratakke slegs aan die buiterand van die boom is en geen lewendige takke meer aan die binnekant van die boom voorkom nie.
Wat is die einddoel van snoei?
- Om die boomhoogte na ’n werkbare en doeltreffende hoogte te verlaag.
- Om die doeltreffendheid van chemiese bespuitings vir die bestryding van peste en plae te optimaliseer.
- Om die vorming van mikroklimate in die boom te verhoed, wat voordelig kan wees vir peste en plae. Swamme floreer op vogtige en humiede omgewings, terwyl bakterieë deur koue, vogtige omgewings bevoordeel word.
- Om werkspasie in die tussenrye te skep sodat plaasimplemente gemaklik in die rye kan beweeg sonder om vrugte en bome te beskadig, asook om spasie tussen bome te skep vir makliker oes en ander aksies in die boorde en bome en om lugbeweging te bevorder.
- Om genoeg sonlig in die boom se blaardak te verseker sodat kaal en onproduktiewe kolle nie in die boom gevorm word nie.
- Om onproduktiewe kaal takke te vernuwe en met nuwe produktiewe groei te vervang.
- Om alternatiewe drag en oesverliese te beperk. Hoe verder die vrug van die hoofstam van die boom gevorm word, hoe meer neem die vruggehalte af aangesien daar meer takke tussen die vrug en stam is wat ook energie en voedingstowwe opneem.
- Om te verseker dat elke boom en strukturele tak sy eie lig en spasie het.
Wanneer moet gesnoei word?
Die grootste en mees drastiese snitte moet direk na oes plaasvind. Die boom is dan gewoonlik dormant en reageer nie op snoeiinsette nie. Minder drastiese snitte kan vanaf blom tot vrugset gedoen word, met korrektiewe snitte gewoonlik nadat die hoof- en drastiese snoeisnitte gemaak is.
Gedurende blominisiasie en blom is die boom in ’n reproduktiewe fase, en die bome se reaksie op snoei is dan reproduktief deur meer blomme en vrugte te set.
Soos reeds bekend, produseer alle subtropiese vrugte baie meer blomme as wat daar geset word. Met blomsnoei kan tot 50% van die blomme oordeelkundig weggesnoei word, veral in “aan jare” wanneer bome onnodig baie blomme produseer. Dit sal ’n bydrae kan lewer om beter gehalte vrugte en ’n gebalanseerde oes te lewer. Dit sal verseker dat die volgende seisoen se oes ook goed sal wees en nie gekenmerk word deur ’n abnormale “af jaar” nie.
Na vrugset gaan die boom oor in ’n produktiewe fase Die reaksie op snoei is dan vegetatief en meer takke en blare word geproduseer, tot nadeel van vrugset. Die enigste snoei-aksies wat na set gedoen kan word, is die verwydering van waterlote wat vir water en voedingstowwe kompeteer.
Die tipe takke
- Sentrale leier. Dit groei vanaf die middel van die boom en bedek die middel van die boom. Dit vorm dus ’n sambreel.
- Laterale leier. Die takke ontwikkel gewoonlik aan die kant van die boom, groei na die middel van dieboom en verdig die boom se binnekant sodoende.
- Strukturele takke. Dit is die belangrikste takke in die boom. Hulle is die produktiefste en bepaal die boom se finale vorm. Drie strukturele takke per boom is die doeltreffendste wanneer 300 tot 500 bome per hektaar gevestig word. Tans is dit die algemene plantdigtheidstendens in die avokadobedryf.
By laer plantdigthede met minder bome, kan meer strukturele takke (vier) gevorm word en by hoër digthede kan minder (een tot twee) strukturele takke gevorm word. - Skouers. Dit is takke wat tussen ander bome in die ry en tussen strukturele takke groei. Dit is aanvanklik baie produktiewe takke wat lateraal groei, maar dit raak later baie kompleks. Om lig en lugbeweging tussen bome in die ry te verseker, moet ’n spasie van ongeveer 500mm tussen die bome oopgesnoei word van bo tot onder. Tussen die rye moet ten minste ’n 2m-spasie gelaat word vir doeltreffende bespuiting en die beweging van plaas implemente.
- Soom. Alle takke laer as 500mm behoort weggesny te word sodat lugbeweging onder die boom kan plaasvind, wat die voorkoms van swamsiektes sal verlaag en om vrugte wat te laag gevorm word en op die grond hang te verwyder. Die takke is baie produktief en die gehalte van die vrugte swak. Die energie wat
gespaar word deur die lae takke en vrugte te verwyder, word verplaas na hoërliggende dele van die plant, waar beter gehalte vrugte geproduseer kan word. - Vervangingstakke. Dit is takke wat gewoonlik die strukturele takke en skouers vervang. Hulle is baie produktief en word teruggesny net bokant die volgende vervangingstak, wat die groeirigting sal bepaal en terugsterwing sal verhoed.
Hoe moet gesnoei word
Deur die benaming van elke tipe tak is dit moontlik om ’n stap-vir-stap metode te volg om die boom te snoei. Dit vergemaklik ook die opleiding van arbeid om die korrekte takke en snitte te maak.
Die stappe van snoei
- Observeer.
- Snoei alle skouers terug na vervangingstakke om 500mm tussen die bome in die ry en 2m spasie tussen die rye te verseker.
- Verwyder die soomtakke oordeelkundig. Onthou, avokado’s se wortels hou nie van hitte nie.
- Snoei die leiers, 33% van die sentrale leier en 100% van die laterale leiers.
- Verlaag die hoogste strukturele tak tot ’n maksimum 1,5m. Baie ou bome kan tot 2m per jaar teruggesny word.
- Merk die strukturele takke sodat dit die opvolgende seisoene maklik identifiseerbaar is.
Diagram vir snoei volgens boomouderdom is by Laeveld Agrochem-agente of by Nico Claassens beskikbaar.
Figuur 1: Produserende avokadobome met swak ligpenetrasie in die middel van die boom as gevolg van te veel leiertakke en die soom wat op die grond is.
Figuur 2: Dieselfde boom nadat die leiertakke verwyder en die soom gelig is, en slegs drie strukturele takke gekies is.