Deur George Prinsloo
Winsgewende produsente Besigheidsbestuurder
Laeveld Agrochem
Dit is ’n algemene feit dat winsgrense in die landboubedryf onder druk is, veral in rygewasse soos mielies, sonneblom en boongewasse. Ten spyte van die druk is daar tog boere wat van krag tot krag gaan en ekonomies vooruitgaan. Wat doen hulle anders? Die vraag is ook of ons by hulle kan leer, of verkies jy as produsent om eerder jou eie skoolgeld te betaal?
Produsente soek dikwels na eenvoudige antwoorde, maklike wenresepte of programme wat hulle vooruit sal laat gaan. Wanneer ’n mens egter na die lesse kyk wat ons by topprodusente leer, is die bestuur van al die veranderlikes in landbou die hart van sukses. Daar is nie ’n kortpad vir persoonlike betrokkenheid, energie en moeite om goeie bestuursbesluite te neem nie. Kom ons kyk saam na die belangrikste bestuurslesse wat ons by ons topprodusente kan leer, veral in terme van plaagdoders.
Uitstaande winsgewende produsente neem alle boerderybesluite volgens die beginsel van wins per hektaar. Dit is nie goedkoper insette of maksimum opbrengs alleen wat wins per hektaar gee nie.
Eerstens moet jy dit presies kan meet. Daarom span Laeveld Agrochem saam met top vennote soos Agri Technovation, wat die platform in presisieboerdery ontwikkel het om die winsgewendheid per oppervlakte presies te meet.
Die totale insette, direk en indirek, moet saam met presiese opbrengs per land per hektaar ingebou word om die som sinvol te kan maak. ’n Mens bluf jouself dus om te dink dat jou wins gaan styg as jy net deel is van die beste koopgroep en jou insette so laag as moontlik maak.
Ons sien in al die gevalle dat die winsgewendste boere ook meer spandeer, maar op die regte plekke. Winsgewende produsente kies dus vennote en ook plaagdoderprodukte wat die wins per hektaar gaan verhoog as eerste prioriteit in hul boerdery.
’n Tweede les wat ons kan leer, is om plaagdoderprodukte te kies wat geregistreer is vir die probleem wat hanteer moet word. Duisende rande word jaarliks deur produsente verloor weens die ongeregistreerde gebruik van produkte. Daar is niks so duur soos ’n goedkoop produk wat nie werk nie, of die skoolgeld wat ’n produsent betaal oor hy nie die etiket gelees het nie.
Multinasionale maatskappye spandeer etlike miljoene om ’n produk te ontwikkel en die registrasies te doen, met spesifieke dosisse en watervolumes. Tog hanteer ons jaarliks baie hektare se klagtes as gevolg van ondoeltref
fendheid weens onderdosering of gewasskade weens oordosering. Dit verlaag die winsgewendheid direk en neem kosbare bestuurstyd in beslag om probleme te probeer regstel.
’n Derde les wat ons kan leer, is dat die toediening van plaagdoders net so belangrik is as die keuse van die middel self. Spuittoerusting, die regte druk, spuitnewels (“nozzles”), die watervolume, watergehalte en spoed van toediening is van kardinale belang vir doeltreffende beheer.
Ek het onlangs ’n klagte ondersoek van ’n boer wat sukkel om porselein (Portulaca) te beheer. Eerstens was die onkruid veel groter as die registrasie-aanbeveling (onderdosering), en tweedens was die watervolume van 80 liter per hektaar nie genoeg om werklike benatting te veroorsaak in midsomer-hittetoestande en vir sulke groot onkruid nie.
Die oomblik toe ons die regte dosis en watervolume gebruik het, was daar beheer. Die koste van oorspuit het egter sy goedkoop aankoop van glifosaat totaal oorskadu. Die produsent se insette was dus baie hoër as wat dit moes wees as gevolg van verkeerde bestuurspraktyke.
’n Vierde les wat winsgewendheid kan verhoog, is die korrekte tydsberekening met die toediening van plaagdoders. Tydsberekening gaan alles oor bestuur. As jy vandag ’n probleem sien, is die skade reeds daar. As jy boonop nog ’n paar dae wag voordat jy spuit, is die verlies aan inkomste soveel meer.
Voorkoming bly steeds goedkoper as die reaktiewe behandeling van enige plaag. Winsgewende produsente doen dinge om probleme te voorkom, eerder as om reaktief te wees. Daar is nie ’n plaasvervanger vir die boer en sy agent se voetspore in die lande nie.
’n Vyfde les is dat winsgewende produsente altyd mensepotensiaal optimaal benut om hul winsgewendheid te verhoog. Een fout van ’n werknemer wat ’n spuit meng en die verkeerde mengvolgorde volg, kan maklik R5 000 aan die verlies van plaagdoder kos. ’n Spuitoperateur wat aanhou spuit in winderige en droë toestande, kan die produsent se plaag-
doder- en spuitkostes laat verhoog.
Die opleiding en bestuur van mense gaan werklik winsgewendheid verhoog, soms baie meer as enige beter-inset-aankope of hoër opbrengs. Topprodusente spandeer tyd aan hulle mense.
Bestuur bly die basis van ’n winsgewende boerdery en is die belangrikste aspek van boerdery van mekaar skei. Moenie bestuursbesluite uit vrees neem nie, doen ondersoek en navorsing.
Leer uit ander se foute, vra raad en kies die regte vennote wat jou daarmee kan help.
Laeveld Agrochem wil jou vennoot wees en saam kan ons jou ondersteun in elke aspek van jou boerdery.