WITVLIEG: Inderdaad verkeerd benoem. Soos ’n ystervark geen yster, min vark en eintlik ’n knaagdier is, is witvlieë wel wit, maar geen vlieg nie. In gemeen kan albei hierdie organismes groot skade veroorsaak vir groenteboere.
Witvlieë dra vier dakpansgewysde vlerke in plaas van net twee soos by egte tweevlerkige vlieë (Diptera), en is suigende insekte van die insekfamilie Aleurodidae. Hulle is eerder nader verwant aan plantluise of bladspringers as aan vlieë. As virusvektore is hulle in staat tot oordraging van verskeie virusse wat verantwoordelik kan wees vir ernstige groentesiektes. Die onvolwasse stadia is nimfe en sit sessiel vas onder hul gasheerblare om daar al suigende te voed, teenoor ware vlieë wat almal drie larvale stadia deurgaan en meestal as vrylewende ontbinders op maaiers voed.
Witvlieë is wêreldwyd hardnekkige peste van ’n groot aantal kruidagtige gewasse soos o.a. katoen, groente, sojabone, ornamentele huis en tuinplante, sitrus, kruie asook heelwat onkruidgashere. By groente, in voorkeurorde genoem, is onder meer eiervrug, komkommers, tamaties en capsicums gewilde gashere. Hulle is polifagies – wat beteken dat hulle op ’n verskei- denheid van plante kan voed, en wat maklik van veldplante en onkruide na aangeplante gewasse migreer en omgekeerd afwissel. Die soort gedrag verhoog ook dan die risiko van siekteversprei- ding aansienlik.
Witvlieg, net soos spinmyte, is gewoonlik repurkussieplae, wat geneig is tot uitbrake wanneer hul natuurlike vyande in die voorseisoen deur harde chemie, soos piretroïedtoediening op byvoorbeeld motruspeplae, uitgewis word.
Witvlieë lê hul eiers op kort steeltjies en voed later as sessiele nimfe en vrylewende volwassenes aan die onderkant van gasheerblare. Jong blare word verkies vir eierlegging. Tesame met die suigaksie op plantsap wat plante terugsit, word heuningdou ook afgeskei en ander newe-effekte soos swartskimmelgroei asook vrugvlek en virussiektes kan ook op gasheerplante geïnduseer word.
In Suid-Afrika is twee spesies, die tabakwitvlieg (Bimesia tabaci) en die kweekhuiswitvlieg (Trialeuroides vaporariorum), elk met verskillende biotipes, van ekonomiese belang. Die virusse wat oorgedra word, vervaardig ’n soort proteïen wat gasheerplante kan steriliseer en misvorm, en ook die plantweerstand teen plae ondermyn. Virusse onderdruk plante se jasmoniese suurresponsie wat as ’n soort anti-plaag verdedigingsmeganisme vir voedingafwering teen plae werk. Witvlieguitbrake floreer dan ongesteurd op die weerstandlose siek gewas, wat die virus al vinniger laat versprei in ’n bose epidemiese kringloop wat witvlieg as vektor en virussiekte onderling fasiliteer.
BREEK DIE WITVLIEG-LEWENSSIKLUS
As witvlieg eers posgevat het, is dit inderdaad een van die moeilikste plae om onder beheer te kry, omrede generasies oorvleuel en weerstand alreeds teen sekere chemiese behandelings gevestig is. Verskeie kulturele en chemiese metodes kan in ’n geïntegreerde program egter suksesvol gebruik word om die boosdoeners se lewensiklus te onderbreek.
Kultureel moet alle gewasreste deur sanitasie na oes verwyder en vernietig word. Wisselbou met nie-gasheergewasse, asook voldoende tydgapings tussen opvolgende gewasse, kan bevolkings knou. Virustolerante variëteite moet aangeplant word waar moontlik.
Chemiese beheer moet geskoei word op etiket aanbevelings asook behoorlike monitering en toediening volgens drumpelwaarde vir
spesifieke gewasse gestel. Waar weerstand reeds bekend is teen sekere chemiese middels, moet ’n vol dosis enkeld of in mengsels gebruik word, en verskillende groepchemie moet afwisselend gebruik word. In sekere gevalle is vol- wasse witvlieg weerstandig maar nimfe steeds vatbaar. Gebruik ook nie-spesifieke produkte soos olies en benatters om werking van geregistreerde middels aan te help.
Die beskerming van natuurlike vyande is van groot belang in enige geïntegreerde plaagbeheerstrategie. Philagro S.A. se insekjeughormoon-mimiek Piriproksifen (Nemesis® 100 EC) is vir witvliegbeheer in tamaties geregistreer. Die middel is hoogs spesifiek op o.a. onvolwasse witvliegnimfe sonder om kosbare natuurlike witvliegvyande soos o.a. parasitiese wespes omver te gooi.
HOE WERK JEUGHORMOON-MIMIEKMIDDELS?
By onvolwasse insekte is toenemend dalende vlakke van hul jeughormoon die stimulus wat tot vervelling na ’n volgende meer volwasse lewenssiklusstadium lei. Nemesis® is ’n jeughormoon-nabootsing en hou die vlakke daarvan kunsmatig hoog en verhoed sodoende vervelling na ’n meer volwasse stadium. Dit is dus logies dat Nemesis® net aktief is teen onvol wasse witvlieg wat nog moet vervel en nie die volwasse insekte sal affekteer nie.
Nemesis® is nie ’n sistemiese middel nie en dus moet plantareas waar witvliegnimfe en eiers teenwoordig is, raakgespuit word met ’n volle dekbespuiting, veral onder blare waar al die witvliegstadia gewoonlik voorkom.
Die gebruik van Nemesis® is ’n baie effektiewe, veilige en ekonomiese manier om witvlieg te beheer. Die aktief is lipofilies, m.a.w. olieliewend, en bind geredelik daaraan. Saam met die toediening van ’n olie word die nawerking verleng, dit dra by tot die beheer van witvliegnimfe en dien ook as ’n anti-weerstands meganisme. Moenie Nemesis® meer as twee maal per seisoen toedien nie.
Die beheer van vektorinsekte soos witvlieg, is ’n komplekse saak en vereis gewoonlik ’n geïntegreerde program van kulturele en innoverende chemiese middels soos Nemesis® om die wit feetjies in konfettiklere by gewasse soos tamaties in te perk.
Vir meer inligting hieroor besoek www.philagro.co.za.
Nemesis® 10 EC (Reg. No. L6378. Wet 36 van 1947), bevat piriproksifen, versigtig.
Nemesis® is die geregistreerde handelsmerk van Sumitomo Chemical Company, Japan.
Philagro Suid-Afrika (Edms) Bpk l Reg. nr.: 98/10658/07. PostNet Suite #378, Privaatsak X025, Lynnwoodrif 0040.
Pretoria: 012 348 8808 l Somerset-Wes: 021 851 4163.