Laeveld
Agrochem

Kweek ʼn gesonde ekosisteem vir volhoubare pesbeheer (Koppert)

Deur Karla-Mart Fullard (Tegniese Adviseur: Limpopo, Koppert)

Bewarings-biologiese beheer as volhoubare benadering tot ons hedendaagse landboupraktyke kan beskryf word as pesbeheer wat fokus om die natuurlike vyande van peste te bevorder sodat hulle die pespopulasies kan beheer.

Die natuurlike vyande (voordelige predatore of parasitoïede) sluit lieweheersbesies, glasogies, predatoriese myte en parasitiese wespes in.

Trichogramma pretiosum.
Orius.

Die sleutel tot sukses in volhoubare biologiese beheer is om ʼn gunstige omgewing te skep wat die groei van die voordelige insek- en of mytpopulasies ondersteun en die vestiging van die predatore en parasitoïede in die omgewing te verseker. Deur die omgewingskwaliteit te bevorder en biodiversiteit uit te brei moedig dit die voordelige insekte aan om te floreer en effektief te kan bydra tot pesbeheer.

Die skep van gunstige omgewingstoestande vir natuurlike vyande

Die maklikste en mees effektiewe manier om natuurlike vyande te ondersteun, is om diverse plantspesies te vestig in en om gewasse, veral waar monokultuur en intensiewe onkruidbeheer toegepas word. Die plante dien dan as alternatiewe voedselbron (by-voeding), trekplant vir peste, skuilplek en gunstige broeiplek vir die natuurlike vyande. Deur die natuurlike predatoorpopulasies te verhoog, word die effektiwiteit van natuurlike vyande verhoog deur die hele seisoen.

Die by-voeding dien ook as voeding vir bye, dus is verhoging in bestuiwing (waar van toepassing) nog ʼn direkte voordeel van biologiese pesbeheer.

As voorbeeld word meerjarige basilieplante reeds algemeen aangeplant naby en langs avokadoboorde om bye op die regte tye te lok en te vestig om bestuiwing te verhoog. Bloubessie- en aarbeiboere vestig ook basilieplante wat dien as alternatiewe voedselbron vir natuurlike en vrygelate blaaspootjie-, witvlieg- en spinmytpredatore terwyl dit terselfdertyd bestuiwing aanmoedig.

In ʼn studie deur Chen et al. (2020) was die vlugtige organiese verbindings wat vrygestel word deur heuningblommetjies (Lobularia maritima) tussen koolplante, hoogs aanloklik vir die parasitoïede (Cotesia vestalis) van ruitrugmot (Plutella xylostella). Hierdie blommetjies het ook die volwasse leeftyd van die parasitoïede verleng en vrugbaarheid verhoog sonder om as gasheer vir die ruitrugmot te dien.

Gurr et al. (2006:43) het gevind dat die eierparasitoïede Trichogramma carverae se oorlewing en voortplanting in kweekhuise hoër was in die teenwoordigheid van blommende lote van heuningblommetjies (L. maritima), in vergelyking met bruinmosterd en koljander tussen wynstokke. Die studie het ook bewys dat heuningblommetjies groot voordele inhou vir die natuurlike vyand van die appelbladroller (Epiphyas postvittana), sonder om te dien as gasheer vir die pes in larwe of volwasse stadium. Gurr et al. (2006) het ook verwys daarna dat daar ʼn addisionele voordeel van onkruidonderdrukking is waar heuningblommetjies in wingerde onder die stokke geplant word, en dus word minder meganiese en chemiese beheer van onkruid benodig.

Heuningblommetjies het in ʼn proef deur Pumarino en Alomar (2012) reeds bewys dat dit die oorlewing en voortplanting van Orius majusculus bevoordeel, en die voordele was selfs groter toe peste as voedsel toegedien was. Die verskeidenheid van voedsel wat beskikbaar was vir die Orius sp., en gelei het na oorlewings- en voorplantingsvoordele, stem ooreen met patrone wat vir ander omnivoorspesies waargeneem word.

Koppert: Ervaring en voorbeelde van die gebruik van heuningblommetjies

Koppert in Portugal en Spanje gebruik reeds Lobularia sp. saam met ʼn wye reeks ander plante om lae heinings en areas van plante te vestig met lang blomperiodes regdeur die seisoen. Koppert bied ʼn omvattende biodiversiteitpakket aan wat vir natuurlike vyande skuiling en voedsel (nektar en stuifmeel) bied as alternatiewe gasheer en spesifiek die teenwoordigheid en vestiging van parasitiese wespes en predatore bevoordeel.

Die pakket bestaan uit veelvuldige plantjies van 6 verskillende spesies en aanbevelings word dan gemaak afhangend van watter gewas ter sprake is en of dit vir gebruik in tuinbou (kweekhuise) of landbou (buite lande) is. Koppert Spanje het ook breedvoerige navorsing en toepassing in die veld gedoen waar Lobularia sp. saam met Thripor (Orius sp.) en Entonem (Steinernema feltiae) gebruik is vir blaaspootjiebeheer in uie. Lobularia spp. word 1 tot 2 maande voor die uie gevestig waar dit dien as trekplant om die blaaspootjie te lok.

Dit dien verder as by-voeding vir Thripor wat bydra tot die beheer van blaaspootjies. Dit word rondom en tussen die uierye geplant. Die grondbehandeling met Entonem- en Thriportoevoeging, en die natuurlike vyande wat teenwoordig is omdat minder chemie gebruik word vir blaaspootjiebeheer, het alles bygedra tot effektiewe pesbeheer regdeur die seisoen.

Heuningblommetjies, Lobularia.

In verskillende gewasse sal ander produkte soos Pretiobug (Trichogramma pretiosum), Tripar C (Trichogrammatoidea cryptophlebiae)en ander natuurlike parasitiese wespes ook bevoordeel word deur heuningblommetjies (Aparicio, Riudavets, et al., 2021).

Die teenwoordigheid van blomvlieë (“hoverflies”), Aphidalia (Adalia bipunctata) en ander liewerheersbesies verhoog ook waar die benadering gevolg word. Aparicio, et al. (2021) staaf dat die toevoeging van plante wat gunstig is vir insekte, die predatoor of natuurlike vyande se getalle ook verhoog in gewasse en dus bydra tot pesbeheer van veral blaaspootjies en plantluise.

Adalia bipunctata.

Koppert SA besef die behoefte en voordele van bewarings-biologiese beheer. Met omvattende plaaslike en internasionale navorsing en ervaring werk ons saam met elke boer om volhoubare en effektiewe oplossings te implementeer.

Kontak jou naaste Koppert tegniese adviseur om heuningblommetjies deel van jou by-voeding te maak in die opkomende seisoene!

Bronnelys:

  1. Begum, M., Gurr, M.G., Wratten, S.D., Hederberg, P.R. & Nicol, H.I. 2006. Using selective food plants to maximize biological control of vineyard pests. Journal of Applied Ecology, 43:547–554.
  2. Chen, Y., Mao, J., Reynolds, O.L., Chen, W., He, W., You, M. & Gurr, G.M. 2020. Alyssum (Lobularia maritima) selectively attracts and enhances the performance of Cotesia vestalis, a parasitoid of Plutella xylostella. https://doi.org/10.1038/s41598-020-62021-y. Datum van gebruik: 5 Mei 2024.
  3. Lorena, P. & Alomar, O. 2012. The role of omnivory in the conservation of predators: Orius majusculus (Heteroptera: Anthocoridae) on sweet alyssum. Biological control. Barcelona: Elsevier. 62:24–28.
  4. Aparicio, Y., Riudavets, J., Gabarra, R., Agustí, N., Rodríguez-Gasol, N., Alins, G., Blasco-Moreno, A. & Arnó, J. 2021. Can insectary plants enhance the presence of natural enemies of the green peach aphid (Hemiptera: Aphididae) in mediterranean peach orchards? Journal of Economic Entomology, 114(2):784–793.

More than 100 agents
across South Africa

Laeveld Agrochem’s agents (franchisees) are qualified agronomists accredited by CropLife South Africa (formerly AVCASA).

In each region, agents receive support from experienced Business Managers, enabling detailed recommendations for both corrective and proactive measures on the farm.

Operating as a franchise business model, our dedicated team can assist growers with detailed recommendations to optimise yield per hectare.

Through strategic collaboration with our technology partner, Agri Technovation, we offer innovative solutions such as MyFarmWeb™ and Picklogger™, tailored to meet the evolving needs of modern agriculture.

GROEI tydskrif

Seisoen 8

We use cookies to improve your experience. By continuing to visit this website you agree to our use of cookies. Learn more.