Die faktore wat bydra tot die suboptimale veldprestasie van ʼn insekdoderbespuiting hou dikwels glad nie met insekdoderweerstand verband nie.
Onverwagte gewasskade ná die toediening van ʼn insekdoder word te maklik toegeskryf aan insekweerstand, of aan ʼn verlaging in die plaag se sensitiwiteit vir die betrokke chemiese stof. Daar is ernstige gevolge wat wél aan insekdoderweerstand gekoppel kan word, maar dit is van deurslaggewende belang dat betrokke persone kennis dra van die vele ander voorafgaande faktore wat oorweeg moet word nog vóórdat die mislukte resultaat as ʼn sensitiwiteitsverskuiwing of as ʼn weerstand teen die betrokke chemiese stof bestempel kan word. Hierdie faktore sluit in tegniese sowel as biologiese aspekte, wat vervolgens in hierdie artikel bespreek word.
Die eerste uitdaging is gewoonlik om die sukses of die mislukking van ʼn toediening te definieer en te kwantifiseer. In ʼn navorsingskonteks kan die spesifieke toediening van ʼn produk vergelyk word met ʼn onbehandelde kontrolegedeelte en kan insekgetalle, die hoeveelheid skade en ander gevolge deeglik ondersoek en gemonitor word.
In ʼn kommersiële situasie word geen gedeelte van ʼn boord of ʼn blok doelbewus tydens ʼn voorkomende of uitwissende spuitaksie uitgelaat nie. Gevolglik is dit moeilik om dit te vergelyk met ʼn onbehandelde kontrole om ʼn sinvolle en geldige gevolgtrekking te kan maak. Vooraftellings word ook nie noodwendig uitgevoer nie en moniteringsdata is nie altyd beskikbaar nie, wat die saak selfs nog verder kompliseer.
Tegniese faktore
Ontoereikende toediening van spuitstof oor die teikenarea is een van die belangrikste faktore wat chemiese beheer in die wiele ry. Dit kan die gevolg wees van bome met ʼn baie digte blaredak, óf dit kan verhinder word deur ʼn moeilik benatbare teikenarea of ʼn versteekte insekplaag. Daar word gereeld aangemeld dat oormatige spuitvolumes aangewend word, wat maak dat die oorgrote hoeveelheid van die produk afdrup en op die grondvloer beland – óf, aan die ander kant, dat onvoldoende volumes toegedien word, wat weer lei tot ondoeltreffende bedekking en lae effektiwiteit.
Onvanpaste spuitapparaat of ʼn ontoereikende spuitmetode het ook gereeld swak resultate tot gevolg. Dit is van die grootste belang dat spuittoerusting presies gekalibreer word en behoorlik in stand gehou word, én dat die etiketriglyne en -spuitinstruksies noukeurig gevolg word. Daarby moet toedienings geskied in weerstoestande wat gunstig is om optimale produklewering te verseker.
Sterk wind of ekstreme sonlig kan byvoorbeeld uitdagings in hierdie verband bied.
Die toepaslike produk teen die teikenplaag moet volgens die presiese dosering aangewend word, in lyn met gepaste registrasies. Die vervaldatum van die produk moet ook noukeurig nagegaan word om te verseker dat die produk nog aan daardie spesifikasies voldoen. Spuitmengsels moet op die dag van toediening voorberei word en die voorgeskrewe aanmaakinstruksies en mengmetodes moet gevolg word, streng volgens etiketaanwysings. Watergehalte moet voldoende wees en pH-spesifikasies moet gevolg word soos deur die produketikette gespesifiseer. Koop produkte by betroubare en ondersteunende verskaffers aan en waak teen namaaksels.
Weerstoestande tydens, sowel as ná ʼn toediening, kan, soos reeds gesê, die effektiwiteit van ʼn toediening op verskeie maniere beïnvloed. Hitte, oormatige UV en wind versnel die afdroogtempo van ʼn aangewende produk en kan bv. veroorsaak dat sistemiese produkte droog word nog voordat dit die gewasweefsel gepenetreer het, of dit kan maak dat die nawerkingstydperk van produkte verkort word. Wind kan ook veroorsaak dat druppels van die teikenarea af weggewaai word.
Reënval kort na ʼn bespuiting kan die produkmengsel van die teikenarea laat afspoel. Hierdie probleemsituasies kan wel voorkóm word deur voorspelde weerpatrone vóór ʼn toediening in ag te neem en die tydsberekening daarvolgens aan te pas. Indien dit wel sou gebeur dat die produk byvoorbeeld na ʼn reënbui afwas, moet ʼn opvolgbespuiting oorweeg word – in lyn met etiketspesifikasies, en sonder om die toelaatbare hoeveelheid toedienings te oorskry.
Biologiese oorwegings
Die teikenplaag moet reg geïdentifiseer word om te verseker dat die regte produk gekies word. Sekere produkte is baie spesifiek gerig op sekere insekgroepe en -spesies en ʼn verkeerde identifikasie van die plaag kan drastiese gevolge hê. Dit is ook belangrik om die biologie van ʼn insek te verstaan en ʼn duidelike begrip te hê van die teikenstadia, aangesien sommige produkte nie tydens alle lewenstadia ewe doeltreffend werk nie.
Sekere stadia is soms verskuil (byvoorbeeld ondergronds) en ʼn kontakproduk sou dus geen uitwerking hê as die produk nie in direkte aanraking met die insek kom nie. Plaagmonitering en plaagvoorspelling is dus van kardinale belang om te verseker dat die regte produk op die regte tyd toegedien word.
Ekonomiese drempelwaardes is op sekere plae van toepassing, en kan as deel van die besluitnemingsproses oorweeg word.
Die algemene reël is dat voorkomende spuite doeltreffender is as uitwissende of korrektiewe bespuitings. Daar moet dus gewaak word om nie die toediening onnodig uit te stel nie.
Omliggende areas en gewasse moet ook in berekening gebring word, aangesien naburige plantegroei, tesame met omgewings-, seisoen- of weertoestande, herinfestasie kan aanmoedig of veroorsaak – selfs na ʼn onlangse bespuiting. Vir sekere insekte word ʼn areawye-benadering voorgestel om juis hierdie probleem uit te skakel.
Lewenstadia wat later ontwikkel kan ook onvoldoende behandeling tot gevolg hê as dié stadia die aanvanklike bespuiting misgeloop het. Daar is ook sekere breëspektrumprodukte wat die natuurlike vyande van sekere insekte kan uitwis – en in só ʼn geval kan dit ʼn sekondêre infestasie tot gevolg hê.
Insekdoderweerstand
Eers wanneer al die faktore hierbo uitgesluit kan word, word insekdoderweerstand, óf die betrokke plaag se verskuiwing in sensitiwiteit ten opsigte van die spesifieke chemie, meer waarskynlike oorsake van ʼn mislukte bespuiting. Indien ʼn plaas ʼn geskiedenis het van die onverantwoordelike en herhaalde gebruik van chemiese stowwe met slegs een werkwyse en uitwerking, word die kanse op weerstand ʼn groter waarskynlikheid.
Die tipe insekplaag en die daarmee gepaardgaande biologie kan ʼn verdere oorsaak van weerstandsontwikkeling wees indien die insek byvoorbeeld ʼn baie kort lewensiklus het, met verskeie generasies per groeiseisoen.
Hierdie moontlike verskuiwing in sensitiwiteit van die betrokke plaag ten opsigte van ʼn spesifieke chemiese behandeling moet onmiddellik aangemeld word by die plaaslike verteenwoordigers van CropLife SA. Daar is verskeie weerstandsevalueringstoetse en/of molekulêre evaluerings wat volgens IRAC (Insecticide Resistance Action Committee) se protokolle uitgevoer moet word om die ondoeltreffende beheer verder te ondersoek. Indien weerstand of ʼn verskuiwing in ʼn plaag se sensitiwiteit ten opsigte van ʼn chemiese middel opgemerk word, moet die Registrateur in kennis gestel word en alle betrokke instansies moet die nodige verantwoordelike prosedures uitvoer en stappe doen om te voorkóm dat verdere weerstand ontwikkel.
Dit word dan deurgegee aan die verskillende aksiekomitees, soos IRAC. CropLife SA sal ook, indien nodig, die registrasiehouers betrek van aktiewe bestanddele wat tendense wys om mitigasiemaatreëls te ontwikkel. Data en verslae word as vertroulik beskou en mag nie in die praktyk bekend gemaak word nie, tensy dit so ooreengekom is met die Registrateur en CropLife SA. Daar word in ons bedryf te maklik gesê daar is weerstand of dié of daardie produk werk nie meer nie – en sulke stellings mag eintlik nie gemaak word buiten in konsensus met CropLife SA en die Registrateur nie.
Die implikasies van bostaande situasie is ernstig en om hierdie rede word bedryfspersone aangemoedig om altyd eers al die ander faktore wat hier bo bespreek is uit te skakel, voordat onvoldoende chemiese werking sommer onomwonde en onbevestig as “weerstand” bestempel word.