By Nina du Toit
Horticulturist

In ’n tyd soos hierdie bly goeie opbrengste die absolute prioriteit, so daar kan nou minder as ooit bekostig word om swak areas of kolle in die boorde te hê. Stel ondersoek in met behulp van grondklassifikasie, identifiseer die probleem, en spreek dit aan met gefokuste, praktiese oplossings – om sodoende groeikragtigheid en gesondheid te verseker wat weer lei tot goeie produksie.
Die fokus van hierdie artikel is om die besluitneming rakende korrekte grondvoorbereiding met behulp van grondklassifikasie te illustreer. Maar, dit moet wel genoem word dat ’n groot persentasie van boorde in die verlede sonder insiggewende grondklassifikasie inligting ge- plant was. Probleemkolle wat tans in die boord verskyn is tipies gekoppel aan ’n grondverwante situasie. In die geval van oorbesproeiing bevat die gronde gewoonlik ’n beperkende faktor wat indirek lei tot daardie besproeiingsverwante kwale. Daardie probleme kan dan slegs opgelos word mits daar onder die grond gekyk word om te bepaal wat die aard van die probleem is; waar in die boord (of soms buite die boord) die oorsprong is; en hoe om daardie probleem op te los.
Die belangrikheid van korrekte grondvoor- bereiding op permanente gewasse is onge- twyfeld noodsaaklik. Dit is ’n belegging wat vir 20+ jaar in die grond gaan staan en ten volle moet presteer om goeie winste te produseer. Daar is egter slegs een kans om die grond 100% korrek voor te berei.
Goeie grondvoorbereiding is noodsaaklik vir optimale gewasprestasie en lei tot verskeie voordelige nagevolge, waarvan die volgende as krities beskou word:
- Verlaag bruto digtheid (m.a.w. maak die grond los en breek kompaksie – wat noodsaaklik is vir goeie wortelontwikkeling).
- Verhoog suurstofuitruiling.
- Verhoog stoorkapasiteit van water.
- Verhoog infiltrasie- en perkolasie-tempo.
Dit kan baie eenvoudig opgesom word: grond wat reg voorberei is lei daartoe dat wortels makliker kan ontwikkel, meer toegang het tot suurstof en voedsel en minder energie hoef te gebruik (en benodig) om te oorleef. Om dit nié te doen nie is soos om vir iemand te vra om ’n marathon te hardloop en dan van die persoon te verwag om 5 gesigsmaskers te dra.
Tegnies kan die persoon steeds asemhaal en water drink, maar dit gaan nie moontlik wees om daardie marathon suksesvol te voltooi nie.
In Suid-Afrika is daar uiterste variasie in gronde, dikwels oor baie kort afstande, selfs enkele meters. Dit gaan dikwels van dieprooi gronde, na vlak klipperige gronde, gronde met swaar klei in die ondergrond, tot selfs nat sande – alles op een plaas. Om die variasie onder dieselfde kam te skeer wanneer dit kom by grondvoorbereiding, is ’n fout. Die Engelse uitdrukking “horses for courses” slaan die spyker op die kop. Elk van die bogenoemde gronde vereis ’n verskillende metode om dit reg voor te berei – van implement- en masjien- keuse, tot rigting en diepte van bewerking.
Daarna moet daar boonop besluit word of operdwalle benodig sal word, en indien wel, die grootte en hoogte daarvan. Om nie eers te praat van dreinering en blokuitleg nie.

Sinvolle besluite rakende al hierdie kritiese faktore kan slegs op een manier geneem word en dit is met die inligting wat verkry word vanuit grondklassifikasie.
Nie net kan finansiële verliese in die toekoms voorkom word nie, maar deur die regte grondvoorbereiding te doen, kan plantgroei- kragtigheid en -prestasie met minstens 40% verhoog word. Die volgende voorbeeld, saam met die foto hieronder (Voorbeeld 1) illustreer duidelik hoe die verkeerde voorbereiding geweldige verliese tot gevolg kan hê. Hierdie wingerd is geplant op gronde wat nooit met die korrekte implement voorberei is nie. Grond is met ’n 45 cm ripper bewerk , waarna daar geplant is. Die gronde bevat te veel klei vir hierdie implement, so die tande het in werk- likheid slegs 20 cm gepenetreer. Dit het gelei tot die “J-rooting” van die stok se wortels – alle wortels het in die boonste 20 cm ontwikkel in ’n vlak laterale patroon. Hierdie scenario lei daartoe dat stokke (en so ook bome) vatbaar is vir water- en nutriënt-tekorte. Dit lei tot ’n verlies aan groeikragtigheid en ’n onvermoë om klimaat-verwante stres te kan hanteer. In hierdie voorbeeld is die hele boord tot niet gemaak.
Die korrekte bewerking hier is ’n skeurploeg of skuifdol tot net bo die sterk kleilaag (wat in hierdie geval wissel tussen 50 en 90 cm), in kombinasie met operdwalle van 30 cm.
’n Verdere voorbeeld van gronde wat nie tot op die regte diepte of met die korrekte metode bewerk is nie, word in die volgende voorbeeld en foto hieronder (Voorbeeld 2, sien volgende bladsy) geïllustreer – die gewas is sitrus. Geen operdwalle is geskep nie. Dit is ’n sandleemtekstuur Clovelly, met tot 40% volume growwe fragmente deur die meerderheid van die profiel.

Die bogrond is mooi los met redelike wortel- ontwikkeling in die boonste 20 cm danksy die vlak bewerking. Vanaf 20 tot 30 cm (die staalgedeelte van die pik) is daar 80% growwe fragmente (dubbel soveel soos in die eerste 20 cm) omdat al die fyn deeltjies (slik en klei) al uitgewas het vanweë herhaalde benatting. Die probleem is dus nie slegs die vlak ontwik- keling van wortels nie, maar ook die uitwas van kritiese voedingstofryke kleideeltjies en ’n herhaalde versadigde toestand tussen 20 en
30 cm vanaf oppervlakte. Herhaalde benatting lei tot die verharding van die ondergrond, wat waterperkolasie nog verder belemmer. Geen wortelontwikkeling vind onder 20 cm plaas in hierdie boord nie, wat lei tot die verdere pro- bleem dat die plant vatbaar is vir water- en nutriënt-tekorte.
Die korrekte metode sou gewees het om hier- die gronde te dolploeg teen ’n 40o hoek van mekaar, met die laaste bewerkingsaksie helling af. ’n Diepte van minstens 80 cm op hierdie gronde is nodig om homogene deurligting en waterpenetrasie te behartig. Dit sou verhoed dat besproeiingswater opdam (in hierdie geval op 20 tot 30 cm), al die suurstof uit die profiel druk en loging veroorsaak word. Verder sou ’n buffer-area (’n area onder die wortelsone) benut kon word as stoorplek wanneer ekstra water gegee word voor ’n hittegolf. Met die huidige scenario sou die hele profiel versuip as ekstra water gegee word (want die effektiewe wortelsone is maar 20 cm), wat die boom onder stres sou plaas nog lank voor die hitte- golf aangebreek het. Dit is dan wanneer bome terugsterf en vrugte afgooi, ’n scenario wat heeltemal verhoed kon geword het.
Beide genoemde voorbeelde illustreer hoe belangrik die korrekte grondvoorbereiding is vir volhoubare optimale gewasproduksie.
Nie net kan finansiële verliese in die toekoms voorkom word nie, maar deur die regte grondvoorbereiding te doen, kan plant-groeikragtigheid en -prestasie met minstens 40% verhoog word.
Belangrike inligting rakende die gronde se fisiese eienskappe kan verkry word deur ’n grondklassifikasie te doen en dit kan gebruik word om sinvolle (ingeligte/korrekte) besluite rakende grondvoorbereiding van die spesifieke gronde te neem.
Voorbeeld 2: Onvoldoende grondvoorbereiding en die effek daarvan op wortelontwikkeling. Ons sien hier die wor- telontwikkeling vind slegs in die boonste 20 cm plaas, met geen wortels sigbaar onder dit nie (geologiese pik verteen- woordig die boonste 30 cm grond). Verder is die loging van fyn voedingstofryke klei- en slikdeeltjies in die 20 tot 30 cm diepte (verteenwoordig deur die staalgedeelte van die pik) opvallend – en dui op versadigde toestande wat veroorsaak word deur swak deurlugte gronde.