Boere weet dat die plantproses heel moontlik die belangrikste aspek van enige boerdery uitmaak. Insetkoste het baie hoog geword en daarom is dit belangrik dat elke individuele plant moet presteer om die boerdery volhoubaar te hou.
Die afgelope seisoen het die frase “water is lewe” weer nuwe betekenis gekry en elke boer ken die noue verbintenis tussen plant en water maar alte goed. Elke mieliepit wat geplant word, is soos ʼn 0,35 gram-druppel wat uiteindelik die opbrengs-emmer moet laat oorloop om die bankbestuurder tevrede te hou.
Die wêreldrekord vir ʼn mielieopbrengs, is oor die 40 t/ha, wat beteken dat verskeie beheerbare en onbeheerbare faktore ʼn rol speel om die potensiaal stilletjies weg te vreet.
Van hierdie faktore, soos die klimaat, kan ons nie regtig beheer nie, maar om ʼn optimale oes te kry, moet jy die klein dingetjies wat wel beheerbaar is ten volle benut. Op hierdie manier kan groter resultate verkry word.
Alles gaan oor daardie een mieliepit wat in die grond geplant word.
Opbrengs kan voorgestel word deur ʼn driehoek
Die hoeveelheid plante (stand) is krities belangrik, omdat die omgewing rondom die plante optimaal moet wees vir maksimum saadvorming. Voeding en die vermindering van stres speel ʼn baie belangrike rol in die hoeveelheid pitte. Die driehoek word voltooi tydens saadvorming waar die plant gestimuleer moet word vir maksimum pitgewig. Die grondslag van opbrengs word gelê deur die planter.
Doeltreffendheid en effektiwiteit is die sleutel tot sukses
Die grootste faktore wat ʼn impak op die uiteindelike oes gaan hê, is egalige ontkieming, singulasie, spasiëring en korrekte plasing van voeding. Dit is alles faktore wat met ʼn doeltreffende planter verbeter kan word.
Dit is belangrik dat jou planter waterpas is
Die gevolge van ʼn ongelyke planter kan die werking van die ry-eenheid se parallelstaafkoppeling inhibeer, wat lei tot nie-eenvormige saai-diepte, swak spasiëring en ongelyke opkoms. Die plasing van ʼn klein waterpas op die planterbalk om te verseker dat die planter waterpas is, is ʼn goeie en goedkoop opsie vir enige planter.
Die uitmeet-meganisme van ʼn planter moet nie van pitgrootte of pitvorm afhanklik wees nie
Dit is belangrik dat die uitmeet-meganisme voor die seisoen nagegaan en getoets moet word om seker te maak dat dit 100% funksioneer. Precision Planting het rondom 10 miljoen mielieplante oor die afgelope vyftien jaar analiseer en onder meer bevind dat minder spasiëringskwessies tot 10% van kopverlies lei weens mededinging tussen plante, terwyl ernstiger spasiëringskwessies 20% van ʼn mieliekop verlore laat gaan omdat die mededinging tussen plante hoër is.
Singulasiekwessies soos doubles, wanneer twee pitte gelyktydig neergesit word, lei tot 40% van kopverlies, met skips wat tot 80% verlies lei. Aangrensende plante sal probeer opmaak vir die gaping, maar hulle maak ongeveer 10% op.
Verslete busse en boute kan ʼn wieg- of bonsuitwerking op die ry-eenheid tot gevolg hê
Verslete hegtingspunte op die parallel-arms sal ʼn impak hê op die ry-eenheid se gang, die akkuraatheid van hoe diep hy plant en die oorgrote beheer van die ry-eenheid. Dit gaan op die ou einde tot spasiëring-, opkoms- en singulasieprobleme lei. Slytasie en gevolglike beweging in die parallel-arms beïnvloed ander stelsels op die planter. Dit is soos ʼn virus wat sal versprei indien dit nie gestop word nie. Voordat die arms nagegaan word, verwyder die gewig van die arms en probeer dan om die eenheid op, af, links en regs te beweeg. Indien arms geslyt is, sal die eenheid maklik beweeg.
Daarna moet die arms nagegaan word vir enige buiging of skeefheid. Die busse, boute en gate waarin hulle pas moet nagegaan word om te verseker dat hulle nie ovaal geword het weens slytasie nie. Die ry-eenheid moet vas wees en vertikale of laterale beweging kan nie plaasvind nadat die ou busse en boute vervang is nie.
Die volgende punt om na te kyk, is die parallelle arms van die planter
Hierdie arms, wat in essensie die aanhegtingspunt van die ry-eenheid op die planterbalk is, is ontwerp om ʼn vrye beweging aan die ry-eenhede oor verskillende terreine en onder verskillende omstandighede te verskaf, sonder om die gelykheid van die ry-eenheid te beïnvloed.
Die ry-skoonmaker (row cleaner) is baie belangrik
Dit moet die stoppel wegvat, sowel as organiese materiaal of oesreste wat moontlik binne in die plantvoor kan wees, verwyder. Dit is baie belangrik om die wydte van die row cleaner na te gaan. Wanneer die ry-skoonmaker nie wyd genoeg gestel is nie, verskuif dit die oesreste voor die planter se gidswiel (gaugewheel) in. Die gevolg is ʼn onegalige rit op jou planterkarretjie wat die plantdiepte, spasiëring, asook voedingplasing affekteer. Dit is hierdie onegaligheid wat laatopkoms veroorsaak. Maak dus seker wanneer jy jou ry-skoonmaker stel dat hy die oesreste tot verby jou gidswiel skoonmaak.
Wanneer moet saadkouters vervang word?
Op planters wat deur ʼn pneumatiese band aangedryf word, moet die banddruk daagliks nagegaan word
Hierdie planters gebruik die band vir gronddryf van die saad-, kunsmis- en chemiese meetstelsels en daarom moet die band behoorlik opgeblaas word om te verseker dat dieselfde banddeursnee gebruik word om die tempokaarte in jou operateurshandleiding te skep. ʼn Onderopgeblaasde band sal die ratverlaging van die aandrywing verminder, wat lei tot ʼn hoër saai-/bemestingtempo aangesien die band meer rotasies maak vir elke hektaar grond wat bedek is. Die teenoorgestelde geld vir ʼn ooropgeblaasde band.
Saadkouters moenie geslyt wees nie
Om te verseker hulle is reg, gebruik ʼn besigheidskaartjie wat van bo af tussen die kouters inskuif tot dit vashaak en maak ʼn merkie daar. Doen dan dieselfde met die besigheidskaartjie van onder af en maak ʼn merkie. Die afstand tussen die twee merkies moet 5 cm wees. Dit verseker dat die hoek en die krag waarmee jou kouter in die grond ingaan, 100% korrek is. Meet jou kouters en maak seker jy vervang hulle volgens die aanbevelings van die vervaardiger van jou planter. Maak seker dat die skrapers wat klei van die kouters af moet krap, heel is en reg werk.
Kyk na die aandrywing op planters
Kettings is geneig om te sluit en dit veroorsaak ʼn probleem met aandrywing. ʼn Ketting wat spring of selfs hak as gevolg van ʼn harde skakel, kan al die plantrye laat oorslaan, of selfs geen plantstroke van soveel as ʼn meter en meer veroorsaak. Dus, die gereelde diens van kettings is baie belangrik.
Boere moet seker maak dat hulle die regte ratte kies wanneer hulle hul planters opstel
Haal die aanwysingsboek uit en kies die regte ratte. Sorg ook dat jou ketting gelyk trek – waar dit skeef loop, kan die ketting of selfs die ratte breek.
Baie planters het vere, lugsakke of hidroliese silinders wat help om die gewigte van die ry-eenheid te dra
Dit help met egalige plantdiepte, asook om kompaksie te verminder. Dit help ook die snykouter (indien toegerus) met penetrasie en om eenheidsbons in rowwe grondtoestande te verminder. Dit is baie belangrik dat die afwaartse krag aangepas moet word wanneer daar verandering in grondtoestande (tekstuur, vog, bewerking) is of as die ry-eenhede bons wanneer dit geplant word. Let veral op ry-eenhede wat in trekkerbandspore volg, aangesien dit addisionele krag benodig. Te min afwaartse krag kan lei tot ry-eenheid bons en gevolglik vlak saadplasing. Te veel krag kan egter slytasie op die ry-eenhede se grondinnemende komponente versnel en kan vroeë plantontwikkeling negatief beïnvloed.
Die effek van plantspoed op planter-prestasie is welbekend
Vervaardigers poog om planters te ontwerp om teen hoër snelhede te werk, maar saadsingulasie en dieptebeheer word steeds moeiliker teen hoër planterspoed. Ek bepleit nie verlangsaming nie, maar as jy nie tevrede is met die prestasie van jou planter nie, moet jy dalk daarna kyk om jou plantspoed te verlaag om planterprestasie te verbeter.
Voeding is ʼn kritieke element van opkoms en opbrengs
Invoortoedienings tydens plant verskaf die saad en saailing met die nodige voeding en energie om moeilike toestande die hoof te bied. Dit is egter belangrik dat die plasing, samestelling en monitering van die voeding 100% reg is om optimale potensiaal te verseker.
Die totale plantaksie moet gemoniteer word vanuit die trekkerkajuit, asook vanaf ʼn afstand. Hetsy dit uit die kantoor of bakkie is, pit-vir-pit-monitering is baie belangrik, want daar is net een plantgeleentheid. Dus moet die planter monitor-opgewasse wees om alle inligting van die planter te kan weergee, soos hoeveelheid voeding, vakuumlesing, singulasie, spasiëring en die gemaklikheid van die plantereenheid se rit, om maar net ʼn paar te noem.
Uiteindelik kom dit neer op noukeurige bestuur en monitering vir doeltreffendheid, prestasie en effektiwiteit, terwyl onderhoud broodnodig is om uiteindelik daardie top opbrengs te behaal.