Laeveld
Agrochem

Tafeldruiwe se goue reëls

Deur Eric Venter (Besigheidsbestuurder, Laeveld Agrochem)

Inleiding

Pieter du Toit van Kloovenburg Plase het my geïnspireer om hierdie onderwerp aan te pak. Met die voordeel dat ek baie van hierdie “wyshede” oor 22 jaar bymekaar gemaak het terwyl ek intens saam met Pieter en sy tafeldruiwebestuurder, Marius Wagener, as landbouchemiese konsultant gewerk het. Ek moet ook krediet gee aan my ander kliënte, hul bure en ook boere uit ander distrikte met wie ek kon skouers skuur. ʼn Mens leer ook soms die meeste wanneer jy ʼn getuie is van hoe dinge nié gedoen moet word nie. Van die terme wat ek gebruik, mag dalk klink asof dit dieselfde betekenis het, bv. kennis en inligting, maar ek sal probeer verduidelik wat die verskil in betekenis daarvan is.

Kennis is mag

Inligting behoort die basis te wees van alle besluite in die boerdery. Inligting moet vars wees, noukeurig aangeteken word, in ʼn stelsel waar dit maklik opgeroep kan word. Die belangrikste inligting is:

  • Weervoorspelling, insluitende spuittoestande;
  • Historiese weerdata;
  • Botdatums per blok;
  • Fenologiese groeistadia per blok;
  • Korrelgrootte per week per blok;
  • Historiese snoeidatums per blok;
  • Blomdatums per blok;
  • Oesdatums per blok;
  • Insek-lokvaldata;
  • Spuitrekords;
  • Spuitprogramme;
  • MRL-lyste, uitvoerder residue-voorskrifte;
  • Residueverslae;
  • Kalibrasiesertifikate;
  • Grondklassifikasie-, grondchemie-,

blaaranalise-inligting;

  • Bemestingprogramme; en
  • Bemestingrekords.

Persentasie bot en gelykheid van bot – hoekom is dit so belangrik?

  • Ogies wat nie bot nie, kan nie druiwe dra of lote vorm vir vernuwing nie.
  • Blokke wat ongelyk bot het die volgende negatiewe impak:
    • Op die tydsberekening van die uitvoer van praktyke.
    • Op die tydsberekening van sekere plaagbeheeraksies, bv. ʼn gelyke blok kry sy twee blaaspootjiebespuitings by 50%-blom en volbom ʼn week uitmekaar en ʼn ongelyk blok rek dit uit oor ten minste 2 tot 3 weke. Dit het ekstra bespuitings tot gevolg!
    • Tafeldruiwe is baie afhanklik van manipulasies – vir botstimulasie, trosse “stretch”, set, speen, vergroting, kleur – hierdie manipulasies word gedoen op baie spesifieke fenologiese stadia. Te vroeg of te laat kan die werking van hierdie aksies negatief beïnvloed en selfs ʼn teenoorgestelde reaksie tot gevolg hê.
    • ʼn Blok wat gelyk gebot het, word gelyk ryp en dit vergemaklik die oesproses, verpakking en bemarking.

Die gebruik van inligting

Inligting word eintlik eers nuttig wanneer dit met iets vergelyk word

Die status van die inligting, relatief tot iets anders, maak dit lewendig en bruikbaar.

Ek gaan die voorbeeld gebruik van die waarde van vrugtevliegtellings. Wanneer ʼn sekere week se tellings bestudeer word, kan die volgende afleidings gemaak word:

Hoe vergelyk die blok se inligting

Hoe vergelyk die inligting van bv. blok X met blok Y gedurende ʼn spesifieke seisoen, of hoe vergelyk dit met vorige jare?

Goeie inligting lei tot goeie afleidings, wat op hul beurt lei tot goeie besluitneming. Bv. Blok X:

  • Gestel dat die korrelgrootte 10 mm is vs. die vorige seisoen. Op ʼn spesifieke datum was dit 12 mm. Nou kan jy teruggaan en na sy botdatum gaan kyk. As dit bv. ʼn week later as die vorige seisoen gebot het, gaan dit later geoes word, en die korrelgrootte behoort reg te wees Indien dit egter dieselfde tyd gebot het, kan aanpassings gemaak word om korrelgrootte ʼn hupstoot te gee.
  • Die plaas se gemiddelde vrugtevliegtelling is 1 vrugtevlieg per week en blok 6 sʼn is 5.

Fokus op blok 6 met ekstra beheermaatreëls asook die blokke rondom blok 6. Blok 6 se vrugtevliegtelling die vorige seisoen, was nul in dieselfde week, en dit laat die rooi lig brand en ekstra beheer behoort toegepas te word totdat die telling weer nul is.

Meet is weet

As dit gemeet of ontleed kan word, meet dit en ontleed dit. Hierdie is die goedkoopste koste en kan nie net geld spaar nie, maar ook kostes motiveer wat beter resultate tot gevolg het.

Tafeldruiwe is ʼn hoëwaarde-gewas en die volgende metings en ontledings is nie onderhandelbaar nie:

  • Grondklas – eenmalig, voor vestiging;
  • Grondchemie-ontledings, voor vestiging en minstens een maal in 3 seisoene;
  • Blaarontledings, 3 maal per seisoen;
  • Alle relevante inseklokvalle, wat weekliks getel behoort te word;
  • Weeklikse fenologiese stadia;
  • Weeklikse korrelgroottes;
  • Weeklikse siektevoorspellings;
  • Weeklikse spuittoestande; en
  • Daaglikse weervoorspellings.

Speen vs set

Sekere kultivars is geneig om te vas (te veel korrels) te set bv. Thompson, Sable, ens. terwyl ander weer geneig is om te los te set bv. Red Globe, Autumn Crisp ens. Daar is, per kultivar, baie spesifieke chemiese manipulasies wat gebruik kan, en in meeste gevalle, moet word, asook ander nie-chemiese praktyke wat gebruik kan word. Weerstoestande kan dit ook geweldig beïnvloed, bv:

  • Blare breek – bevorder set;
  • Lote top – bevorder set;
  • Koel weer – bevorder set;
  • Geil groei – bevorder speen; en
  • Warm weer – bevorder speen.

Dit is dus logies dat ʼn kultivar wat moeilik speen, toe geboer word, totdat die natuurlike speenproses verby is. Ook dat weerstoestande en groei in ag geneem behoort te word wanneer daar op tydsberekening, dosis en hoeveelheid toedienings van ʼn manipulasie besluit word.

Reëls rondom plae en siektes

  • Siektes kan selde korrektief behandel word.
  • Die groot V – vroegheid en voorkomend – geld met bogenoemde.
  • Blokke teen ʼn dorp, woonhuis en arbeidershuise is baie meer vatbaar vir vrugtevlieg en valskodlingmot.
  • Akkerbome is ʼn groot bron van infestasie deur valskodlingmot.
  • Blokke teen ʼn natuurlike veld, kan ook bv. meer infestasie van bladspringers ervaar.
  • Moenie vergeet van na-oes plaagbeheer om uitbroei van plae wat ongeoesde blokke kan affekteer, te keer nie.
  • Blaaspootjies is net ʼn probleem rondom blom. Swak beheer hiervan laat druiwe makliker bars waar die blaaspootjies gevreet het en kan ook lei tot vroeë botrytisinfeksies.
  • Valskodlingmotbeheer is ʼn strategie en nie bloot ʼn aksie nie. In risiko situasies, by bv. akkerbome, behoort alle moontlike maatreëls toegepas te word – grondbehandeling van papies, paringsontwrigting en bespuiting.
  • vroeë waarskuwing.
  • Leer verskillende kultivars se vatbaarheid t.o.v. plae en siektes ken, en pas meer sorg daar toe.
  • Blokke wat vir lang periodes toe geboer word, gaan meer geneig wees tot siekteinfestasies.
  • Harde chemiese middels veroorsaak dikwels bv. witluisreperkussies.

Reëls rondom onkruidbeheer

  • Klein onkruide beheer baie makliker as grotes.
  • Wissel middels af.
  • Onkruiddoders is plantdoders en moet van die gewas af gehou word.Die duurste middel is ʼn swak resultaat.
  • Elke onkruiddoder word met ʼn spesifieke bymiddel gespuit.

Toedieningsreëls

  • Kalibrasie van spuite is absoluut ʼn moet.
  • Kalibrasies moet geverifieer word met hoeveelhede gespuit.
  • Moenie dat kortpaaie en haastigheid lei tot die gebruik van substandaard toerusting nie.
  • Probeer om vir ʼn seisoen ʼn drywer, met ʼn trekker en ʼn spuit, bymekaar te hou, wat so op die kalibrasiesertifikaat aangedui moet word. As dit verander, kalibreer weer.
  • Neem weerstoestande in ag. Bokant 28 grade Celsius en in sterk wind kan soveel as 50% van die spuitmengsel verlore gaan voordat dit die wingerd tref.
  • Bepaal die kwaliteit van spuitwater asook die dosis van die buffer wat bygevoeg word, d.m.v. titrasie.
  • Daar is middels wat teen pH 5 gebuffer word, ander teen pH 7 en ander wat glad nie gebuffer word nie – weet wat die verskil is.

Residue

Die EU, Japan, China en VSA het baie definitiewe MRL-standaarde. Dié is die minimum vereiste om te mag uitvoer. Sekere supermarkte het hierdie doelpale aansienlik geskuif t.o.v. hoeveel produkte opgetel mag word en watter % van die MRL hulle mag uitmaak. Gevolglik word baie meer klem gelê op wat wanneer gespuit word.

ʼn Paar reëls geld hier:

  • ʼn Produk wat voor eerste kappiebars gespuit word, sal selde ʼn residu op die druiwe veroorsaak.
  • Die residu swaard mag nie beteken dat weerstandsbestuur nie meer belangrik is nie.
  • As ʼn onbeplande spuit absoluut noodsaaklik is, is dit wat gedoen moet word vs. om skade te lei, al beteken dit ʼn ekstra residu.
  • Werk met ʼn chemiese konsultant wat ʼn baie goeie kennis het van watter produk wanneer gespuit kan word en steeds geen residue sal laat.
  • Kennis, ondervinding en goeie beplanning kan beteken jou oes het ʼn residue-profiel wat vir die bemarkers in staat stel om jou druiwe teen beter pryse te verkoop.
  • Vroeë kultivars het meestal ʼn korter groeiseisoen as later kultivars, en die regte hoeveelheid residue is meer van ʼn uitdaging op hulle.

Opleiding en veiligheid

  • Dis baie belangrik dat alle persone wat met landbouchemikalieë werk, volledig opgelei is ten opsigte van die veilige hantering daarvan.
  • Personeel wat betrokke is met die berging en vermenging, behoort liefs geletterd te wees om sodoende etikette te kan lees om kennis te neem van veiligheidsinstruksies, mengvolgorde ens.
  • Opleiding is ook iets wat minstens jaarliks moet plaasvind.
  • Beskermde klerasie vir spuitoperateurs is ononderhandelbaar.
  • Deeglike rekordhouding van bespuitings, sowel as voorraad, is baie belangrik.

Slot

Tafeldruiweboerdery is ʼn baie intensiewe bedryf. Dit vra hoë insetkoste, is arbeidsintensief en dit verg geweldige detail. Daar is baie wingerdboukundige praktyke wat tydig en korrek gedoen behoort te word. Daar is daagliks baie besluite wat geneem moet word, maar strategiese besluite soos kultivar keuse, nuwe aanplantings en vervanging, kan die boerdery maak of breek. ʼn Gesonde balans behoort gehandhaaf te word ten opsigte van die aanplant van nuwe belowende kultivars, asook ou staatmakers.

Suksesvolle tafeldruifboerderye is deur die bank netjiese plase. Goeie huishouding soos paaie, onkruidbeheer en netjiese kappe mag klink na window-dressing maar dit illustreer dissipline en doelgerigtheid. Daar is nie tyd of bronne om dinge half of verkeerd te doen nie. Die skrynwerker sal sê “meet twee keer, en saag een keer”.

More than 100 agents
across South Africa

Laeveld Agrochem’s agents (franchisees) are qualified agronomists accredited by CropLife South Africa (formerly AVCASA).

In each region, agents receive support from experienced Business Managers, enabling detailed recommendations for both corrective and proactive measures on the farm.

Operating as a franchise business model, our dedicated team can assist growers with detailed recommendations to optimise yield per hectare.

Through strategic collaboration with our technology partner, Agri Technovation, we offer innovative solutions such as MyFarmWeb™ and Picklogger™, tailored to meet the evolving needs of modern agriculture.

GROEI tydskrif

Seisoen 8

We use cookies to improve your experience. By continuing to visit this website you agree to our use of cookies. Learn more.