ʼn Onkruid is enige plant wat groei waar dit nie hoort nie en per definisie kan selfs van die gewasse wat ons verbou, soms onkruide wees. Die spesies wat egter meer algemeen as onkruide beskou word, is gewoonlik kragtige groeiers, aanpasbaar by ongunstige omgewingstoestande en kompeteer aggressief vir hulpbronne.
In rygewasse is kompetisie met hierdie ongewensde plante ʼn groot probleem. Die onkruide kompeteer nie net met die gewas vir water en voedingstowwe nie, maar ook vir lig, wat oesverliese verder vermeerder. Onkruide belemmer ook die oesproses en kan selfs giftig wees vir die gebruiker of die land ongeskik maak vir weiding.
Met permanente gewasse en veral boomgewasse soos sitrus, is die negatiewe effek van onkruid moeiliker om waar te neem en vir hierdie rede is sitrusprodusente dikwels geneig om onkruidbeheer af te skeep. Kompetisie vir water en voeding kan egter steeds opbrengste beduidend verlaag en vruggrootte negatief beïnvloed. Op jong bome is die effek die grootste en as onkruid nie onder beheer gehou word nie, kan dit tot gevolg hê dat die bome langer neem om ten volle in produksie te kom.
Onkruide kan ook dien as ʼn gasheer vir sekere plae en siektes, mierbeheer in die bome kompliseer, boordsanitasie moeilik maak en oor die algemeen toegang tot die boord belemmer. Daar is verskeie metodes hoe onkruid beheer kan word, maar in die sitrusbedryf word chemiese beheer meestal toegepas. Die gebruik van onkruiddoders is gewoonlik baie effektief en heelwat meer ekonomies as meganiese beheer, maar slegs as dit korrek gebruik word. Die verkeerdelike gebruik van hierdie chemiese middels kan nie net swak beheer tot gevolg hê nie, maar ook die bome beskadig en opbrengsverliese veroorsaak.
Dit is daarom belangrik om te verstaan hoe onkruiddoders werk en hoe om hulle optimaal toe te dien. Tabel 1 is ʼn opsommende lys met meeste van die aktiewe bestanddele wat vir gebruik op sitrus in Suid-Afrika geregistreer is.
Na-opkoms onkruiddoders
Onkruiddoders kan in twee hoofgroepe opgedeel word naamlik na-opkoms produkte en voor-opkoms produkte. Na-opkoms produkte word, nadat die onkruid opgekom het, bo-op die bogrondse dele van die plant toegedien.
Dit werk deur die plant te skroei (kontakwerking) of deurdat dit opgeneem word (sistemiese werking) en fisiologiese prosesse beïnvloed wat uiteindelik die plant se dood veroorsaak. Onkruiddoders met ʼn kontakaksie is oor die algemeen baie meer afhanklik van goeie bedekking tydens toediening en benodig gewoonlik hoër watervolumes. Dit is om hierdie rede dat digte stande onkruid of groot graspolle dikwels meer as een toediening van ʼn kontakonkruiddoder benodig.
Die groeistadium van die onkruid is in sekere gevalle baie belangrik, aangesien die effektiwiteit van sommige van die na-opkoms onkruiddoders afneem nadat die plant ʼn sekere grootte bereik het. Die grasdoders in HRAC groep 1 is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Dit is ook belangrik dat onkruide aktief groei en nie onder stres verkeer wanneer ʼn onkruiddoder toegedien word nie, veral nie sistemiese middels nie.
Na-opkoms onkruiddoders word by verre die meeste gebruik in die sitrusindustrie, veral glifosaat en parakwat. Baie jare se gebruik van hierdie twee aktiewe bestanddele het daartoe gelei dat sekere onkruidspesies weerstandigheid teen hierdie middels begin ontwikkel het. Onkruide soos skraalhanse (Conyza spp.) en wortelsaadgras (Tragus spp.) raak dikwels ʼn groot probleem in boorde waar produsente nie voldoende afwissel met ander produkte nie. Oor die laaste paar jaar het die gebruik van glifosinaat-ammonium baie begin toegeneem, juis om sulke weerstandbiedende onkruide hok te slaan.
Glifosinaat-ammonium is egter nou in die kollig vir moontlike uitfasering wêreldwyd, weens die aktief se KMR-klassifikasie. Indien dit gebeur, gaan sitrusprodusente ʼn belangrike opsie verloor om weerstand mee te bestuur en gaan hulle genoodsaak wees om voor-opkoms onkruiddoders in te faseer. Parakwat is nog ʼn na-opkoms, kontakonkruiddoder aktief wat moontlik geskrap kan word in die nabye toekoms.
Voor-opkoms onkruiddoders
Voor-opkoms produkte moet op die grond toegedien word voordat die onkruid ontkiem en het gewoonlik reënval of deeglike besproeiing na die tyd nodig om effektief te begin werk. Wanneer daar op besproeiing staat gemaak word, is dit belangrik dat die hele area onder elke boom besproei word, anders gaan daar areas wees waar onkruid nie voldoende beheer word nie. Bestaande onkruide moet verkieslik eers met ʼn na-opkoms produk beheer word, sodat die voor-opkoms produk daarná op skoon grond toegedien kan word. Meeste voor-opkoms produkte kan ook in ʼn tenkmengsel met na-opkoms onkruiddoders toegedien word om van bestaande onkruide ontslae te raak, maar dit moet slegs gedoen word indien daar min onkruide teenwoordig is en goeie bedekking van die grondoppervlak steeds verkry kan word.
Raadpleeg egter altyd eers die etiket vir advies oor verenigbaarheid met na-opkoms produkte. Sommige voor-opkoms onkruiddoders beskik wel oor na-opkoms eienskappe, maar dit is in meeste gevalle beperk en ʼn gekombineerde strategie met ʼn na-opkoms produk bly steeds belangrik.
In jong boorde, waar daar baie lig onder die bome beskikbaar is, maak die toediening van ʼn voor-opkoms produk die bestuur van onkruide aansienlik makliker. Baie van die voor-opkoms produkte het egter ʼn beperking op boom-ouderdom. Raadpleeg dus eers die etiket en maak seker dat die produk wel in ʼn jong boord gebruik mag word. Dit is belangrik om grondeienskappe in ag te neem wanneer voor-opkoms produkte oorweeg word. Die klei-inhoud van die grond is in sommige produkte se geval, krities belangrik om die korrekte dosis te bepaal. Afwyking daarvan kan swak onkruidbeheer of selfs skade aan die gewas tot gevolg hê.
Ander produkte word weer nie toegelaat op baie sanderige gronde of gruis nie, aangesien die produk kan uitloog. Organiese materiaal op die oppervlak kan ook die effektiwiteit van produkte beïnvloed. Nie net keer dit die behandeling van die grondoppervlak nie, maar sommige aktiewe is ook geneig om aan die organiese materiaal te bind wat dan swak onkruidbeheer tot gevolg het. Daar is dus baie faktore wat die periode van effektiewe nawerking van ʼn voor-opkoms produk beïnvloed. Om daardie rede kan die vervaardigers van hierdie produkte nooit die periode van nawerking waarborg nie. Buiten die grond- en klimaatsfaktore wat effektiwiteit beïnvloed, speel die tipe onkruid wat voorkom net so belangrike rol.
Onkruididentifikasie
Onkruide kan in drie groepe verdeel word naamlik grasse, breëblare en uintjies. Sommige van die onkruiddoders werk selektief net teen een van hierdie groepe. Dit is egter belangrik om onkruid korrek tot op spesie-, of minstens genusvlak te identifiseer alvorens daar op ʼn produk besluit word. Nie alle onkruide is ewe maklik om chemies te beheer nie, raadpleeg dus die etiket om te sien teen watter spesies ʼn produk wel geregistreer is.
Ongelukkig is die lys van spesies op baie produkte se etikette redelik beperk en dikwels sukkel produsente met ʼn onkruidspesie waarteen geen produkte geregistreer is nie. Kry die hulp van ʼn kundige adviseur in sulke gevalle.
Fitotoksisiteit
Al die onkruiddoders wat op sitrus geregistreer is, kan potensieel skade aan die bome veroorsaak indien dit nie reg gebruik word nie. Nie alle produkte se skade is egter ewe erg nie en die mate van skade hang ook af van die hoeveelheid blootstelling aan die produk. Weens die metode van werking van die verskillende onkruiddoders, is dit egter moontlik om basiese riglyne te hê van watter tipe skade moontlik verwag kan word. Sien Tabel 1 vir ʼn beskrywing van hoe die verskillende onkruiddodergroepe se skade lyk.
Skade weens kontakmiddels soos parakwat en glifosinaat-ammonium, is gelokaliseer tot die punt van kontak, meestal op laaghangende takke wat raakgespuit is. Sommige van die sistemiese middels soos glifosaat of MCPA, kan egter translokeer binne die vaatweefsel van die boom en fitotoksiese simptome kan selfs bo in die bome voorkom.
Voorsorg moet altyd getref word wanneer onkruiddoders toegedien word, ongeag van die tipe produk. Gebruik slegs geregistreerde produkte en slegs teen die aanbevole dosis – meer is nooit beter nie. Volg alle gebruiksaanwysings noukeurig en pasop vir bymiddels of tenkmengsels met ander produkte, tensy die etiket dit spesifiek so aanbeveel. Jong bome is veral baie sensitief vir onkruiddoders, vermy dus enige kontak met die groen dele van die boompie, wat die stam insluit. Die gebruik van stamskerms word sterk aanbeveel. In groter, draende boorde, kan die bome gesoomsnoei word om kontak met laaghangende takke te vermy.
Die gebruik van spuittoerusting wat deeglik onderhou word en korrek gekalibreer is, is krities belangrik. Hierdie is ongelukkig een van die aspekte wat die meeste afgeskeep word deur sitrusprodusente. Nie net hou ongekalibreerde toerusting ʼn risiko in van swak beheer of skade aan die bome nie, maar ook van kontaminasie van die omgewing en vermorsing van produk. In sommige onkruiddoders se geval, kan ʼn klein lekkasie op ʼn spuit, die koste van toediening beduidend verhoog.